Op die wynrak

Deur Johan & Christine Ferreira

Die oes van die wingerd is ryk en oorvloedig…

Ses om te proe

Journey’s End The Huntsman Shiraz Mourvedre Viognier 2017

Dis volrond en fluweelsag op die tong en dié rooiwyn proe na donkervrugte en soethout. R99.

Glenelly Estate Reserve Red 2013

Dié elegante rooiwyn het die geur van bessies, pruim, sederhout en blomme en die smaak van ryp vrugte en speserye op die tong. R245.  

Alto Rouge 2011

Die ikoniese Alto Rouge-rooiwyn is vanjaar 100 jaar oud. Die Alto Rouge 2011 is gemaak deur wynmaker, Schalk van der Westhuizen en spog met ‘n boeket van bessies, sjokolade, vanielje en eike-speserye. R100.

Flagstone Ice Vine Dried Sauvignon Blanc 2016

‘n Kontemporêre soet sauvgignon blanc met ‘n lieflike heuningkleur. Dié wyn is slegs vir ‘n beperkte periode beskikbaar. Bedien oor ys saam met nagereg of ‘n kaasbord. R120.

Welgegund Heritage Wines Cinsault 2017

Hierdie wyn is gemaak van druiwe afkomstig van ‘n wingerd wat meer as 44 jaar oud is en vorm deel van ‘n reeks erfeniswyne. Slegs 1 768 bottels is gevul en is beskikbaar teen R340 elk.

Vriesenhof Grenache Shirax Mourvédre 2017

Die versnitwyn bestaan uit 46% Grenache, 35% Shiraz en 19% Mourvèdre en is nege maande lank in Franse eikehoutvaatjies verouder. Heerlik saam met pizza, pasta en Mediterreense geregte. R100.

Leer ken die landgoed

Die Steenberg-landgoed in die Constantia-vallei is ‘n toonbeeld van vredevolle rustigheid en die plaas dateer terug tot 1682. Elunda Basson is pas as keldermeester by die landgoed aangestel. Boonop vier Steenberg vanjaar ’n jaar van die bedien van volhoubare, naspeurbare vis met ABALOBI. Een jaar na Steenberg se gewilde Constantia-eetplek, Bistro Sixteen82, die eerste restaurant geword het wat met ABALOBI, ’n kleinskaalse visser-inisiatief wat sjefs met verantwoordelike en naspeurbare vis voorsien, saamwerk, het dié inisiatief uitgebrei na 100 Wes-Kaapse restaurante. Deur die gebruik van die ABALOBI selfoontoepassing (app), werk Steenberg se uitvoerende sjef Kerry Kilpin direk met die vissers wat haar met hul daaglikse vangs verskaf. Al die vis wat deur hierdie kleinskaalse vissers gevang word, is ten volle naspeurbaar. Die reis van die hoek tot in die kombuis word dus letterlik nagespoor. Die verkryging van seekos wat ekologies verantwoordelik en maatskaplik regverdig is, is die kern van hierdie deurbraakprojek. Deur met ABALOBI saam te werk, verskaf restaurante aan vissers van sewe verskillende vissersgemeenskappe aan die Kaapse wes- en suidkus ’n beter prys vir hul vis en lewensbestaan vir hul gesin. Die direkte roete vanaf boot na bord verseker volhoubaarheid vir die vissersgemeenskap.

Vir meer inligting oor Bistro Sixteen82, besoek www.steenbergfarm.com/bistro1682, of volg @bistro1682 op Twitter, Instagram.com/steenbergfarm en facebook.com/SteenbergFarm.

Sjefstafel

Sjef Carolize Coetzee is aan die stuur van sake by Tokara Restaurant. Maak gerus ‘n draai en beleef haar unieke erfeniskos. www.toakarrestaurant.co.za.

‘n Umami-proegeleentheid word daagliks by The Bistro by Grande Provence aangebied tussen 11h00 en 18h00 teen R95. Bespreek by reservations@grandeprovence.co.za.

Gabriëlskloof Restaurant se winter-swartbordspyskaart is nou beskikbaar tot einde Augustus Bespreek jou plek aan tafel by 028 284 9865 of stuur e-pos na restaurant@gabriëlskloof.co.za.

2019-06-30T23:36:44+00:00