“Die Here sal vir jou ’n ewige lig wees, en jy sal jou roem in jou God.” Jesaja 60:19

Woensdagoggend is dit bewolk en trietsig in die Noorde. Die wintersonnetjie is diep versteek agter ’n laag grys wat somber oor die stad hang. Die gevreesde koue front het ons uiteindelik bereik. Daglank skuil ek agter die olieverwarmer se ribbe en onder ’n sagte kniekombersie, terwyl ons die laaste werk aan die Winter 2019 gedrukte uitgawe van Lééf met hart & siel afhandel.

Vir die Julie-aanlynuitgawe het ons vrolike en opbeurende oranje as visuele tema gekies. Doepa teen die grys en vaal daar buite. ’n Sagte salmkleurige skakering van dié kleur is boonop die Pantone Kleur van die jaar vir 2019. Vir interessantheidsonthalwe lees ek ’n bietjie na oor dié kleur. Oranje is die kleur van die son, van heling, van hoop en optimisme, sê die kenners. Dis die kleur van energie en opwinding. Êrens onthou ek, het ek jare gelede gelees, dat dié kleur dikwels in restaurante gebruik word om die eetlus aan te wakker. “Waar jy ook al gaan, bring altyd jou eie sonskyn” het ’n ene Anthony J. D’Angelo gesê.

Teen die tyd dat die yl sonnetjie agter die wolke begin uitloer is die span tuinwerkers wat op ’n Woensdag ons tuin onder hande kom neem, se werk reeds afgehandel. Die tuin lyk nou vars en skoon, ten spyte van die winter se genadelose greep. Ek stap ’n draai deur die erf, bekyk die jong laventelplantjies en die kruipertjies wat ons pas geplant het, se vordering. Een of twee van die salmpienk stokrose het ook skaam-skaam in die hoek van die voortuin begin blom. Die gesiggies, heuningblommetjies en madeliefies wat Johan in potte op die stoep geplant het, gedy vanoggend in elke sonstrepie wat oor die stoep val.

My gemoed lig summier as ek die sagte hitte van die son op my vel voel. Ek maak my oë ’n rukkie lank toe en luister na die veraf geroep van ’n voël. Die woorde uit Jesaja 60:19 kom in my gedagtes op. “Die Here sal vir jou ’n ewige lig wees, en jy sal jou roem in jou God.” Jesaja 60:19.

Dankie Here vir sonskyn, vir U Ewige lig wat vir áltyd die donkerte in en om ons sal verdryf.

Seën en sonskyn vir jou totdat die volgende aanlyn-uitgawe op 1 Augustus hier by www.leef.co.za verskyn. Die Winter 2019 gedrukte uitgawe van Lééf met hart & siel sal vanaf 22 Julie op die rakke wees.

Christine Ferreira

Redakteur

2019-06-30T23:13:02+00:00