Boekuittreksel

‘n Belofte vir Bippie

Deur Elsa Winckler

Bippie Steyn se pad word onderbreek met ‘n onbeplande swangerskap, en sy moet groot besluite neem. Sy maak ‘n belofte teenoor die Here- sy sal nie weer ‘n man in haar lewe toelaat as hy nie met haar wil trou nie.

Riekert Tredoux word skielik deel van haar lewe wanneer hy die huis oorkant die straat begin restoureer. Die swanger rooikop het Riekert se oog gevang die eerste keer toe hy haar sien, maar hy kan nie vir Bippie en haar baba die toekomsbied wat hulle verdien nie. Trou is nie deel van sy toekomsplanne nie. Sy eie ma het hom verwerp, hy kan nie weer so seer kry nie.

Sal Bippie haar belofte gestand kan doen? En hoekom is die enigste man wat skielik al onder haar voete is, Riekert Tredoux?

Uittreksel

“Dankie, tant Cora, maar ek –”

“Sit, kind.” Cora trek Riekert aan sy arm nader aan die stoel. “Ons het meer as genoeg vir jou ook. Bippie is veronderstel om vir twee te eet, maar dis so ’n gesukkel om haar sover te kry om soggens iets te eet. Sy raak net baie, baie knorrig as sy nie eet nie, vra vir Trina. Deurmekaar hormone en lae bloedsuiker, as jy my vra. Dalk eet sy meer as sy geselskap het.

“Toe, toe, sit, ek hoor haar aankom.”

Riekert sluk die kreun wat wou uitglip terug. Hoekom het hy hom laat ompraat om te kom koffie drink? Hy wou so gou moontlik in die huis verdwyn om te begin werk, maar het nie rekening met tant Cora gehou nie. Hy het skaars stilgehou, toe was sy en tant Trina daar om hom vir koffie te kom haal. En nou gaan hy sommer ontbyt ook kry.

Hy het een voorneme: bly so ver moontlik weg van Bippie Snyman. En kyk waar sit hy nou? In die kombuis van die huis waar sy woon.

“Vertel eers vir my hoe dit gekom het dat jy huise restoureer? Ek verstaan jy was ’n ingenieur in Johannesburg?” vra Cora. “Maar nou bly jy in die Paarl? Dit was seker nogal ’n aanpassing om skielik op ’n dorp te wees en nie meer in die gewoel van ’n stad nie?”

“Wel, een van die redes hoekom ek weg is uit Johannesburg, is juis sodat ek rustiger en eenvoudiger kan lewe,” sê hy. “Na skool het ek meganiese ingenieurswese geswot en by ’n maatskappy begin werk wat masjinerie vir die mynbedryf ontwerp, ontwikkel en bou. Maar na vyf jaar was ek lus vir ’n verandering. Ek sal iewers vorentoe seker weer teruggaan, maar op die oomblik geniet ek wat ek doen.”

Wat hy nie vir die tantes vertel, is dat geld nie vir hom ’n kwessie is nie, danksy die erfporsie wat hulle pa, asook hy en sy broer, na hulle geliefde oupa Alex se dood gekry het. Dit was dus vir hom nie nodig om dadelik finaal te besluit wat hy vir die res van sy lewe wil doen nie.

“Maar hoekom die restourasie van ou huise?” vra Trina.

“My oupa Alex het huise gerestoureer en hy het my lief gemaak vir houtwerk, vir bou, en om met my hande te werk. Hy het ook op Wellington gebly waar ek grootgeword het. My pa is ’n mediese dokter en het sy praktyk nog daar. Om te sien hoe ’n ou plek tot sy oorspronklike glorie gerestoureer word, was altyd vir my besonders.”

“So jou oupa het jou geleer?” wil oom Fred weet.

Riekert knik. “Op hoërskool en as student het ek hom dikwels gedurende vakansies gehelp met die restourasie van ou geskiedkundige geboue en huise. Ek is nog nie seker wat ek die res van my lewe wil doen nie, en tot tyd en wyl restoureer ek huise.”

“Het jy enige ander opleiding?” vra Cora.

“Ek het ’n kursus gevolg en restourasie is wat ek die afgelope twee jaar doen. Ek het ’n uitstekende span byeengekry, baie van die manne weet meer as ek daarvan af.”

“En Derek sê jy bly in die Paarl?”

“Cora, skei uit,” sê Fred. “Die man het nog nie eens koffie gedrink nie en jy peper hom al met die vrae.”

Riekert glimlag. “Ja, tant Cora, ek het ’n huis in die Paarl. Dis nie baie groot nie, maar ek bly lekker.”

Sy eie plek. Dis nog elke dag vir hom opwindend om daarin te stap. Dis netjies. Elke voorwerp is op sy plek en hy weet waar om wát te kry. Sy lewe is op die oomblik soos hy dit wil hê – rustig en ongekompliseerd. Die vae onrus en die gevoel dat sy voete jeuk, ignoreer hy op die oomblik. Hier is ’n werk waarvoor hy ja gesê het en een wat hy gaan klaarmaak voor hy besluit wat hy verder wil doen.

Duidelikheid oor sy toekoms het hy nog nie, maar hy is nie daaroor bekommerd nie. Hy hoef vir niemand anders te sorg behalwe homself nie, en hy kom met min reg. Die meeste van die wins wat hy die afgelope paar jaar gemaak het, spaar hy, en saam met sy oupa se erfporsie, het hy ’n stewige aandeleportefeulje.

En dis hoekom hy uit Bippie se pad bly. Een kyk in haar groen oë ’n paar maande gelede het hom so uitgeboul dat hy dae lank omgekrap was. Vroumense, het sy pa reeds vroeg by hom en sy broer, Lex, ingeprent, veroorsaak net moeilikheid.

Dis nie asof hy vroumense vermy nie, maar vroeër of later wil hulle oor gevoelens praat en sy gevoelens en emosies het hy lank gelede stewig agter slot en grendel toegesluit en dis waar hulle bly. Konflik en dramas vermy hy.

Hy neem vroue uit, soms selfs meer as een keer, maar hy maak telkens baie seker sy verstaan hy is nie van plan om ooit ernstig te raak nie en by die eerste teken van enige drama, maak hy hom uit die voete.

Maar toe maak hy die fout om vir Bippie in sy arms op te tel.

Dit was die dag dat hy kom kyk het na die huis wat hy gevra is om te restoureer. Derek en sy broer was ook hier en kort daarna het nog ’n voertuig stilgehou. Drie vroue het uitgeklim. Reina, wat intussen met Derek getroud is, haar vriendin Larissa en Bippie – skraal, asvaal en swanger.

Sy het teen die motor begin afsak toe hy haar optel. Groot groen oë het in syne opgekyk. Gefassineerd het hy probeer om die sproete oor haar neus te tel en binne sekondes het vreemde gevoelens en emosies van hom besit geneem. Tot sy ontsteltenis het hy selfs ’n duidelike prentjie van ’n klein dogtertjie met rooi vlegsels en sproete oor haar neus gesien, en dis toe dat hy geweet het uit dié vroumens se pad moet hy bly.”

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van ‘n Belofte vir Bippie deur Elsa Winckler  met komplimente van Lux Verbi wen. Stuur jou naam, straatadres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae@leef: Vraag: In watter dorp woon Riekert? Sluitingsdatum: 31 Julie 2019.
2019-07-14T13:44:08+00:00