Lééf mooi

Mooi soos ‘n roos

Deur Christine Ferreira | Foto’s Hanneri de Wet & verskaf

Laat die geur en skoonheid van rose jou omvou…

Het jy geweet?

  • Napoleon se Josephine het rooswater as liefdesmiddel beskou. Vandag nog word rooswater steeds as bestanddeel in skoonheidsmiddels gebruik. Dit is een van die natuur se suiwerste saamtrekmiddels en is ideaal om oor die vel te vee nadat jy jou gesig gewas het. Dit bevat vitamiene wat die vel streel en beskerm. As jy jou hare met rooswater afspoel, ruik dit nie net lekker nie, maar dit laat ook die hare blink, aangesien dit help om die kutikel te sluit. Rooswater wat met gliserien gemeng word, versag en vertroetel die vel van die hande. Die geur van rose is klassiek en antieke dokters het onder meer rooswater gebruik om die senuwees te kalmeer en hartsiekte te behandel. Roosblare is ryk aan vitamien C, karoteen en vitamien B en K.
  • Roosolie is ‘n geurige kosbare olie. Dit kalmeer ‘n sensitiewe vel en verlig stres en depressie. Die gebruik van aromatiese olies is so oud soos die mensdom self. Reeds in Bybelse tye is ‘n mengsel van olyfolie en vlugtige oliesévir salwingsdoeleindes gebruik, terwyl die antieke Grieke en Romeine vlugtige aromatiese plantolies vir hul badritueel gebruik het. In die skoonheidskliniek of spa word vlugtige olies by die masseerproses ingespan om jou onder meer te laat ontspan, van vogretensie ontslae te raak en bloedsomloop te stimuleer. Natuurlike olies afkomstig van blare, wortels, hout, sade, vrugte en blomme kan die lyf help om sy welstand te bevorder.

Die Roos van Saron

In Hooglied 2:1 beskryf die Sulamitiese bruid haarself nederig as volg: “Ek is die roos van Saron, die lelie van die velde.” Die Roos van Saron simboliseer egter skoonheid en oorvloed. Hierdie besonderse plant word slegs twee maal in die Bybel genoem. Dit kom voor op die vlaktes van Saron tussen Palestina, Joppe en die Mediterreense See; ’n bekende handelsroete tussen Gilead en Egipte. Die streek is hoofsaaklik woestynagtig, maar bekend vir sy blommeprag. Dié lelievormige veldblomme lyk anders as die roos soos ons dit vandag ken, maar dit ruik egter dieselfde. Daar bestaan teenstrydigheid oor of die rooi, tulpvormige “rock rose” dalk eerder die roos van Saron genoem is. Die gom van hierdie struikagtige plante het afgesmeer aan die skape of bokke se wol en sodoende het die herders agtergekom dat dit buitengewone helende eienskappe het. Die elektromeganiese waarde van roosolie het die hoogste frekwensie van alle olies met voordelige eienskappe vir liggaam, siel en gees. Olie word verkry deur die takkies en die blomblare.

Adem die skoonheid van roosolies en -rome in

  • Nie net rooswater nie maar ook roosolie word by skoonheidsprodukte gevoeg. Roosolie help om die vel te balanseer en om ‘n droë en verouderde vel te verlewendig en te versterk. Hauschka-produkte bevat ekstrakte van Turkse en damas-rose, wat organies gekweek en met die hand geoes en verwerk word. Sowat 3 tot 5 ton rose in nodig om 1 kg van dié olie te produseer. Roosolie versterk, verwarm en balanseer, dit streel en ontspan en help om harmonie by elke veltipe te skep. Dis ook antisepties en bevorder sirkulasie. Kyk uit vir die befaamde Dr. Hauschka Rose Day Cream.
  • Chanel No 5 is klassiek en steeds die wêreld se voorste fyngeur. Die Centifolia-roos is die vroulike hart van hierdie fyngeur. Die Centifolia-roos blom jaarliks net drie weke lank. Dit neem meer as ‘n ton roosblare om 1,5 kg van die suiwer vorm, waarvan die geur vervaardig word, te maak.
  • Die luukse Lancôme Absolue-reeks velsorgprodukte het pas ‘n vernuwing ondergaan. Dié reeks uitsonderlike Franse produkte bevat onder meer kosbare roosolie om die vel te vernuwe en te transformeer. Dié serums en rome voel fluweelsag, soos die blare van ‘n roosknop, op die vel en bied ‘n besonderse sensoriese ervaring. Boonop lê die lieflike geur van rose aan die hart van die produkte. Die ware krag van die roos word in hierdie produkte ontsluit. Suiwer roos-ekstrak word op gevorderde bio-tegnologiese maniere uit die plant onttrek vir die formulering van die produkte. Die Centifolia-roos en die Damascena-roos word in die vorm van roosolie en rooskonsentraat in die samestelling van die produkte gebruik en word daar verwys na dié bestanddele as Grand Rose Extracts. Die reeks bestaan uit ‘n verskeidenheid produkte wat onder meer die ikoniese Lancôme Absolue Revitalizing & Brightening Soft Cream, Lancôme Absolue The Revitalizing Oleo-Serum en die Lancôme Absolue Revitalizing Eye Serum insluit.
2019-06-30T22:07:38+00:00