Lééf in oorwinning

Deur genade

Deur Louise Rademan | Foto’s Linda van Dyk

Spreek lewe! Al staar die trauma van borskanker jou in die gesig …

“Op ’n luilekker somermiddag, terwyl ek rustig sit en boek lees, voel ek ’n spiersametrekking bo my regterbors. Ek doen gereeld selfondersoek en steur my daarom nie veel daaraan nie. Toe my man, ’n mediese dokter, by die huis kom, vertel ek hom van die pyn. Hy doen ’n ondersoek en voel dat daar ’n knop in my bors is op ’n area wat maklik misgekyk kan word,  aangesien dit hoog teen my borskas lê. Ons is egter albei  rustig, want  ‘dit sal mos nie met my gebeur nie’. Ek is 47 jaar oud en het geen primêre familiegeskiedenis van kanker nie. Maar hy besluit om tog in sy spreekkamer vog te trek met ’n naaldjie. Toe daar net ’n bietjie bloed uitkom en geen vog nie, raak ons bekommerd en stuur hy die vloeistof dadelik weg vir ontleding.

“My man het met hangskouers teen die trappies uitgeklim en my ’n stywe druk gegee. In sy oë kon ek die hartseer sien. Sy woorde was min: “Jy het borskanker”. Die woorde ruk jou asem weg en stilte hang tussen ons. Jy dink aan jou kinders en besef nie die impak wat daardie drie woorde op almal se lewens rondom jou gaan hê nie. Min wetend oor die volle implikasie van wat alles vir jou liggaam voorlê. Die oorvloed van ondersoeke en toetse begin met geen grasie vir skaam-wees nie. Jy raak soort van gewoond daaraan dat jy halfnaak tussen toetse rondbeweeg. Herhalende skanderings, mammogramme en jou bloed wat van vroeg af vloei met die eerste van baie toetse.

“Die daaropvolgende stappe raak rowwer. Dikker naalde, groter biopsies vir die bepaling van watter tipe kanker jou beet het. Jou blou bors vertel jou van die trauma waardeur jou lyf gaan. Dan begin die radio-aktiewe toetse om te sien waarheen dit al moontlik versprei het. Die eerste ding wat ek wou doen was om dadelik net my borste te verwyder en die knop uit my lyf te kry. Dit neem jou denke oor en jy dink net heeltyd aan die knop van dood in jou liggaam. Die ritmiese getik van die horlosie laat jou besef tyd mag dalk nie aan jou kant wees nie en al waaraan jy kan vasklou is hoop en gebed.

“Ons volg Jesus sodat ons die Ewige Lewe en verlossing kan kry, nie ter wille van die bevryding van beproewinge nie.”

“Met D-dag gebeur dinge vroeg en ek het reeds met die chirurg en plastiese chirurg gesels rakende die mastektomie. Ons het besluit om beide borste te verwyder en bilaterale prostese in die plek daarvan te plaas, aangesien my kanker beperk is en ek nie bestraling hoef te kry nie. Met die eerste wakkerword-oomblik voel dit al baie laat en is jou ou deurmekaarbrein al klaar aan die wonder. Die chirurg kom in en vertel van ’n tweede kanker wat geen toetse opgetel het nie. Hulle moes die limfkliere onder my arm ook uitsny.

“Ek het geweet ek moet ’n kop-skuif maak. Positiewe denke het my aan die gang gehou. Ek het gekies om nie die dood in die oë te kyk nie. Dood het ’n vloekwoord in ons huis geword en daar is juis soveel Afrikaanse sê-goed wat die woord ‘dood’, insluit dat ek lysies gemaak het … doodseker waar verseker net so goed sou werk. Doodmoeg waar ontsaglik moeg sou deug. Doodreg wat glad nie vir my sin gemaak het nie en reggenoeg eerder die wenwoord kan wees.

‘Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle verwag omdat julle met Christus verenig is.’ 1 Tessalonisense 5:8

“Om lewe te spreek het my die hele tyd bygebly, as ek met iemand gesels of tydens stil oomblikke op my eie. Soveel kuiergaste het seker as gevolg van die feit dat hulle my graag wou sien, maar nie geweet het wat om te sê nie, my van hul rowwe lewe vertel. Ek moes tyd neem om almal te vergewe. Die ergste kommentaar was: “Ék sal ook so graag nuwe borste wil hê”. My nuwe plan was om te begin lewe spreek oor alles; mense, situasies en selfs die weer.

“Ek glo dat as ons net meer positiewe uitsprake sal maak oor ons land, vanaf sy mense tot ons politiek, dinge sal verbeter. Ons moet fokus op positiewe woorde. Die Bybel stel dit tog te mooi oor hoe woorde krag het. Ek het begin leef deur nie te ernstig raak oor myself nie en deur grappenderwys op te tree die mense om my gemakliker te maak. Jou uitkyk op die lewe en hoe jy dink bepaal tog wie jy is. Ek was verbaas dat my vriendin, Linda van Dyk, foto’s van my wou neem. Ek is nie een vir die kollig nie. My kaalkop is pas toegegroei en het ek my grys hare laat kleur en sommer weer bietjie jonger gevoel en net daar het Linda begin planne maak. Ek was glad nie lus vir dié foto-storie nie, maar hieraan steur sy haar min. Die blomvlerke was haar idee en ons vriendin, Minke het my grimeer met sagte hande en mooi woorde van inspirasie. My gesin het ook later opgedaag vir ’n gesinsfoto en dit was heerlik om so bederf te word.

‘Wees altyd vol blydskap en moenie ophou bid nie.’ 1 Tessalonisense 5:16-17

“Ek het die krag van gebed eers in sy grootheid ervaar na my ergste chemo-behandelinge verby was en ek met meer mense in aanraking gekom het. Die stories van hoe vreemdelinge ‘per toeval’ van my gehoor het via my gebedsgroepie, my man se pasiënte, my familie, ou kennisse wat ek weer raakgeloop het of my kinders se skool- en universiteitsvriende. Dit was so spesiaal om te hoor hoe baie mense vir my gebid het. Ek het so self in die gewoonte gekom om vir ander te bid. Ek glo ons word geroep as beskermers van ander en in plaas daarvan om te sê hoe jammer jy hulle kry, eerder te bid.

“Ek is dankbaar vir elke oggend. Ek is dankbaar vir my man. Die Here het geweet toe Hy hom oor my pad gestuur het dat ek op hierdie kind van Hom sal kan steun en rus en nie breek nie. My kinders het my geleer dat deur gewortel te wees in Jesus dit jou sterk maak vir die lewe hier en nou. Ek is diep dankbaar teenoor liefdevolle omgee-bidgroepies, kosaandraers en mense wat tyd gemaak het in hul gejaagde lewens. Dankie aan elkeen van hulle en hul seëninge oor my.

5 lesse wat ek in hierdie tyd geleer het:

  1. Die moeilikste les was om mense om hulp te vra. Ek is die ma van drie sportiewe kinders wat rondgery moes word. Ek het gevoel ek faal as ma as ek dit nie alles self doen nie. Na my operasie moes ek letterlik leer om mense te vra vir ry-geleenthede vir my matriekdogter tot inkopies doen vir die huis.
  2. Ek het geleer dat daar goedheid in meeste mense is, maar deur ons gejaagde lewenswyse ons baie keer net te ‘besig’ is om tyd te maak vir ander. ‘
  3. Ek moes leer dat die woord ‘pyn’ deel is van my lewe. My seun sê graag “Pain is only weakness leaving the body”. Moenie bang wees vir wat voorlê nie. Neem beheer in plaas daarvan om bekommerd te wees oor alles wat moontlik kan skeefloop. Staan op na elke val. Om te bly lê en bang te wees, is nie Jesus se manier nie.
  4. Tydens my kaalkoptyd het ek die uitdrukking op mense se gesigte sien verander van ‘gejaagd en geïrriteerd wees’ tot hulle my sien en besef waarvoor hulle alles dankbaar kan wees. Ek het hierdeur besef hoe maklik ons ander positief te kan beïnvloed.
  5. Die grootste les is dat ek nie sonder my God hierdeur sou kon kom nie. Ek het geleer om te vertrou. Vra elke dag wat die Vader se plan vir jóú is en stap dan saam met Hom deur die dag.

Foto’s geneem by The Argyle in Woodstock.

Hare en grimering: Minke du Plessis van Minke du Plessis Hair and Makeup
Blomme: Ilsé Louw van Blomstories
Kalligrafie:  Susan Brand Calligraphy
Linda van Dyk Photography +27722950520

facebook.com/lindavandykphoto

lvdphotography.wordpress.com

2019-07-01T09:45:35+00:00