Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

Die oggend was stil, helder en koud. Soos glas. Ons stap vroegdag deur een van die kampe op soek na skaap wat iewers deurgekruip het en ek het die seuns opkommandeer om één oggend darem hulle warm beddens op te gee vir ’n plaastakie. Dit het soebat gekos, maar hier is ons nou, stomend en knersend op die hardgerypte grond, maar die onskuld van ’n nuwe dag is so verfrissend nuut dat alle onheil en euwels van nuusnetwerke die vorige nag, vergete is. Want die realiteit waarin ons daagliks leef is nou eenmaal ’n ongenaakbare en wrede een. Vrees en chaos maak ons landskap ’n wilde en onstuimige plek om te bly en oral hoor jy dieselfde angstige retoriek. “Wat gaan ons maak? Hoe lank gaan die chaos om ons nog voortduur?” Ek stap driftig om my los te maak van die knellende gedagtes en doelbewus die sagtheid van die wêreld om my te bewonder. Toe, sommer hier regs van die paadjie, val die sonlig presies reg sodat ek die volle glorie van ’n spinnerak kan sien. Dis ook nie enige spinnerak wat ek aanskou nie; dis ’n fyn tafereel van glinsterende sy wat ongeveer een meter lank van takkie tot weerlose takkie uitsprei. “Sjoe!” fluister ek verwonderd en loop nuuskierig nader. Die seuns is op my hakke maar kyk nonchalant en effe verveeld na my ontdekking. “Hoe lank dink julle is die web al hier?” Skouers op. Ek verduidelik uitasem: “Mamma loop so dikwels op hierdie selfde pad en ek het nog nooit hierdie groot spinnerak gesien nie én, onthou julle gisteraand se wind? Hoe het hierdie web heel gebly?” Skielik is daar nuwe respek vir die alledaagse verskynsel en ons leun verder in om van nader te kyk.

Op die een punt is die web op ’n enkel, buigbare takkie wat skynbaar alleen uit die grond uitgroei, vas. So ook die ander punt. Albei hierdie takkies kan onafhanklik van mekaar beweeg en buig. Die web is laag teen die grond gespin, maar is wyd en ruim en kan sy prooi slinks en baie effektief vang. Die gedagte breek vol en rond in my deur soos net die Heilige Gees kan! “Seuns, die web kan bly staan omdat dit aan ’n beweegbare takkie vas is. Soos die wind waai en van rigting verander, kan die web behoue bly omdat dit buigbaar is! As dit op ’n rigiede en harde tak gespin was, sou dit nooit die volheid daarvan bereik het nie, want dit sou met die geringste wind gebreek het!” Ek glo die Here sê vir ons om ook in te leun as ons die wind van voor kry. Ons moet sag en buigbaar bly, beweeglik om saam met die wind in te leun – nie téédit te beur nie – sodat ons staande kan bly teen die aanslae van die bose. Waar daar chaos, pyn en hartseer om ons is, moet ons dit sien as die werk van die Vyand en dit in die oë kyk. Nie wegkyk, omdraai en wegbeur nie. Dan breek alles. En dan, op ’n dag, skyn die son in al sy helderheid en sien ons ten volle – hoe God alles en almal onderhou en hoe volkome Hy tot op die laaste in beheer was.

Leer jou kind

  • Om aanpasbaar te wees is sekerlik een van die grootste vaardighede wat mens kan hê.
  • Kinders het dit gewoonlik in emmers vol, maar dis grootmense wat daai emmers leegmaak …
  • “Omdat ek hoop het, leef ek rustig.” (Handelinge 2: 26)
  • Laat die Heilige Gees toe om inspraak in julle huisgesin se lewe te maak.

Lees meer:

www.incourage.me vir elke ma wat wysheid daagliks kortkom!

2019-06-30T23:03:16+00:00