Hartskos

Daar’s ’n engel in my koskas

Deur Christine Ferreira  | Foto’s Frank Ellis

In sy feestelike kosmemoire Daar’s ’n engel in my koskas herleef Willie Strauss nostalgies die plaaslewe van sy Boesmanland-kinderjare en die lekkernye wat daarmee saamgaan.

As klein seuntjie op die plaas Vyfbeker in die Noord-Kaap se Kenhardt-distrik het akteur, liedjieman en koskenner Willie Strauss (48) sy ma grootoog dopgehou wanneer sy kos maak. “Op ’n skaapplaas was die kombuis nie juis die plek waar ’n seun sou rondstaan nie, maar ek het skelm aanhou loer asof ek toe al geweet het engele skuil op die onwaarskynlikste plekke – ook in die koskaste van Vyfbeker se kombuis.

“My ma het kosmaak maklik laat lyk: ’n paar goed bymekaargegooi, ’n resep aangepas met ’n bietjie hiervan en ’n bietjie daarvan, en ’n paar uur later het ons gesmul. Sy het op ’n groen-en-geel Jewel-stoof kos gemaak en geweet hoeveel hout sy moet insit om die statige ou oond goed warm te kry. Met haar hand kon sy voel of die temperatuur reg is vir die bakslag.

“Ek glo ’n mens moet met jou hande werk en die kos voel en ervaar. Dít neem jou op ’n reis met wonderlike geure en teksture.

“My ma het graag groot koeke vir verjaarsdae gebak. Ek verkies tot vandag toe ’n groot koek wanneer ek vir spesiale geleenthede bak. Bring die seremonie van die groot koek terug, sê ek. Nooi vriende oor. Haal uit die porseleinstel met sy fyn koekbordjies, die antieke opdienbord, die blinkgepoetste koekspaan, koekvurkies en teelepels. Gebruik die geborduurde tafeldoek en servette wat jy by jou ouma geërf het. En bring hulde aan onthoukos.”

‘Hierdie resep maak van die lekkerste koeksisters wat ek al geëet het.’

Engelefudge (links)

Lewer 16 blokkies

1 x 385 g-blik kondensmelk
500 g versiersuiker, gesif
60 g botter
50 ml Cape Velvet-likeur

Meng al die bestanddele goed saam in ’n groot mikrogolfbestande bak. Mikrogolf op hoog vir 2 minute. Roer goed deur. Mikrogolf op hoog vir nog 10 minute. Roer elke minuut of wat sodat die mengsel nie oorkook nie.

Toets of die fudge gereed is deur van die mengsel in ’n bietjie koue water te drup. Die fudge is reg as die druppel ’n klontjie vorm. Mikrogolf die fudge vir nog ’n minuut of twee indien dit nog nie die klontjiestadium bereik het nie.

Spuit ’n hittebestande bak met kleefwerende kossproei. Giet die fudge in die bak en laat effens afkoel. Sny in blokkies terwyl die fudge nog warm is.

Marthie se koeksisters (regs)

Lewer 10 dosyn koeksisters

Stroop
4,5 kg suiker
1,5 liter water
1 liter lemoensap
5 ml lemoengeursel
5 steranyssade
25 ml gouestroop
3 ml kremetart
3 ml wynsteensuur

Deeg

30 ml botter
900 ml louwarm water
2 kg koekmeel
85 ml bakpoeier
5 ml sout
olie vir diepbraai
Stroop

Meng al die bestanddele in ’n groot kastrol. Roer oor matige hitte tot die suiker opgelos het. Maak seker al die suiker het opgelos, anders gaan die stroop versuiker. Kook die stroop vir 15 minute oor matige hitte. Marthie sê sy skakel die plaat af wanneer die stroop klaar gekook het, maar los die kastrol op die plaat om af te koel. Sy plaas die stroop oornag in die vrieskas om goed koud te word.

Deeg

Meng die botter en water. Maak seker dat die botter heeltemal gesmelt het. Sif die meel, bakpoeier en sout in ’n groot mengbak. Maak ’n holte in die middel van die meel. Giet die water bietjie vir bietjie by. Meng deur tot ’n bewerkbare deeg. Knie die deeg vir 10 minute. Bedek die deeg met kleefplastiek en plaas dit vir 2 uur in die yskas.

Bestrooi jou werkoppervlak met meel. Marthie sê die deeg moet net na een kant toe uitgerol word. Rol die deeg 1 cm dik uit. Daar is verskillende maniere om koeksisters te vleg. Volgens Marthie kies jy die vlegsel wat vir jou die maklikste werk. Haal die stroop uit die vrieskas.

Verhit die olie in ’n kastrol. Bak die koeksisters in die warm olie tot goudbruin aan albei kante.

Dompel die warm koeksisters dadelik in die yskoue stroop. Sorg dat die koeksisters ’n rukkie in die stroop lê, want die stroop moet goed intrek.

Bêre die koeksisters in die vrieskas om hulle krakerig te hou.

Kleintydse stormjaers (regs)

Lewer 12 porsies

“Ek kom agter min mense ken stormjaers. Hierdie resep is die een wat ek as lekkerny uit my kinderdae onthou en ek gebruik dit steeds. Geniet dié soet vetkoekies net so warm, of eet dit koud as jy honger raak en etenstyd nog ver is. Soos die stormjaers ouer raak, raak dit al hoe harder en jy kan dit later soos beskuit in jou koffie doop.”

olie vir diepbraai
3 eiers
250 ml suiker
375 ml melk
875 ml koekmeel
15 ml bakpoeier
5 ml fyn kaneel
5 ml sout
5 ml fyn gemmer
2,5 ml vanieljegeursel
250 ml vrugtekoekmengsel
versiersuiker, om stormjaers in te rol

Verhit olie in ’n pan vir diepbraai.

Meng die eiers, suiker en melk goed saam. Sif die droë bestanddele geleidelik by en klop goed saam.

Roer die vanieljegeursel en vrugtekoekmengsel by.

Skep teelepels vol van die beslag in die warm olie en braai tot goudbruin. Haal die stormjaers uit die olie en dreineer op kombuispapier.

Rol in versiersuiker.

Rolpoeding (links)

Lewer 6 porsies

Bedien die rolpoeding met vla.

250 ml koekmeel
5 ml bakpoeier
15 ml sagte botter
1 eier
50 ml volroommelk
10 ml volroomsjerrie
50 ml fyn appelkooskonfyt
ekstra botter, om oor die deegskywe te skep

Stroop
150 ml suiker
150 ml kookwater
5 ml vanieljegeursel

Sif die droë bestanddele saam in ’n mengbak. Vryf die botter met jou vingerpunte by die meel in. Klits die eier en melk saam en voeg by. Meng tot ’n bewerkbare en rolbare deeg.

Bestrooi jou werkoppervlak met meel en rol die deeg dun uit met ’n koekroller. Meng die sjerrie en appelkooskonfyt en smeer dit oor die uitgerolde deeg.

Rol die gesmeerde deeg op en sny die deegwors in skywe.

Spuit ’n oondpan met kleefwerende kossproei. Pak die deegskywe in die oondpan.

Voorverhit die oond tot 160 °C.

Maak intussen die stroop: Kook die suiker, water en vanieljegeursel saam. Roer goed tot die suiker heeltemal opgelos het.

Giet die stroop oor die deegskywe in die oondpan. Skep lepels vol van die ekstra botter oor die skywe.

Bak vir sowat 30 minute tot goudbruin.

Resepte en uittreksels met toestemming gepubliseer uit Daar’s ’n engel in my koskas (Human & Rousseau, 2018) deur Willie Strauss. Kosfoto’s deur Frank Ellis en Myburgh du Plessis. Stilering deur Sarah Dall.

2019-06-30T22:41:37+00:00