Boekgesprek

Lééf gesels met teoloog, Jan du Rand, oor sy jongste boek Geloof in ‘n tyd soos hierdie.

Aardverwarming en natuurrampe. Geweldsmisdaad. Politieke onsekerheid en korrupsie. Armoede en werkloosheid. Is God regtig nog in al hierdie dinge? Kan ons ten spyte van al hierdie dinge nog in God glo? In Geloof in ’n tyd soos hierdie nooi Jan du Rand die vuisvoos, bekommerde en teleurgestelde mens om weer by die begin te begin: om verseker te word God is wie die Bybel sê Hy is, en dat Hy tot aan die einde van tyd ten volle in beheer is van sy skepping. Hy bevestig basiese geloofswaarhede, en bied bemoediging om geloof doelgerig uit te leef. Hy bied hoop vir donker dae. Want deur te leef wat ons glo, ervaar ons lewensvervulling en bereik God sy doel in ons lewe – ongeag hoe die wêreld lyk.

Jan du Rand is nasionaal en internasionaal bekend as Nuwe-Testamentiese vakspesialis op die gebied van die Johannese geskrifte, veral Openbaring, asook Bybelse eskatologie. Hy het al verskeie toekennings ontvang, onder andere die Andrew Murray-prys meer as een keer, die Pieter van Drimmelen-medalje van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Eeufeesmedalje vir Teologie van die Universiteit van die Vrystaat. Hy is professor-emeritus in Nuwe Testament van die Universiteit van Johannesburg en ook buitengewone professor in Nuwe Testament aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Vraag: Jan, waar het jou liefde vir skryf begin?

My liefde vir skryf het in standerd 9, huidige graad 11, begin toe my Afrikaanse onderwyser my werk ingeskryf het vir ’n opstelwedstryd. Ek was so idealisties dat kanker nog medies oorwin sal word. Ek het my hart uitgeskryf en bemoedigende resultate gekry. Ek het een ding vroeg geleer; soms skryf jy met jou verstand en ander kere met hart en verstand.

Vraag: Wat lê aan die hart van hierdie nuwe boek?

Wanneer ’n mens teëspoed beleef, is dit deel van menswees in ’n gebroke samelewing om eerlike en rou vrae te vra, ook aan God. Dis reg om sulke vrae te vra. Jy is magteloos en wil graag verstaan: Waarom ek, Here? Waarom het dit gebeur? Waar is God in sulke oomblikke? Nie kwaad nie, net magteloos en broos. Op meer as een plek kan jy hulp en verstaan gaan soek. Ek wou deur die boek net eerlik wees maar nie goedkoop antwoorde gee nie. Om te glo, of liewer te her-glo, kan geestelike balans bring. Om nuut te glo. Die kompas en GPS, die Woord, laat jou weer diep skep uit God se groot houer van hoop

Vraag: So baie mense twyfel deesdae in hulle geloof?  Is dit normaal? En is dit sonde?

 Twyfel is nie sonde nie. Dit is deel van ’n proses van gesondword. In ons huidige samelewing vier onsekerheid hoogty. Alles verander, ook jyself. En die afstand na binne is die eensaamste sinkplaatpad. By meer as een vurk in die pad moet jy kies. Twyfel speel natuurlik ’n rol. Herontdek jouself deur by die begin te begin, om net te leer spel: die woord en die herontdekte skat: geloof.

Vraag: Wat was die inspirasie agter die boek?

Mense se lewensomstandighede en vrae soos: Hoe bly ’n mens op jou voete as jou dierbaarste lewensmaat hoor sy het ernstige kanker? Hoe beantwoord jy die vraag na God as ’n pa van vier kindertjies koelbloedig vermoor word? Of hoe troos jy ouers wat op die Kaapse vlakte meer as een kind deur bendegeweld verloor het?  Geen ouer is bedraad om ’n kind te verloor nie. Hoe bewoord jy dit teenoor stukkende ouers dat God nog op die troon is?

Vraag: Jy skryf oor geloof in praktyk. Hoe kan ons dit uitleef?

Wanneer jy onder die donker wolk uitstap aan die hande van hoop en geloof, neem die Heilige Gees oor en word jou glo spontaan ’n doen met blydskap. Elke dag word ’n viering van geloof omdat jy asemhaal uit die dieptes van die rykdomme van sy genade.

Vraag: Vir wie is hierdie boek geskryf?

Sommer vir almal wat dit nodig het om net weer opgewonde te raak oor hulle geloof. Vir soveel wat seer het of by ’n moeilike vurk in die pad gekom het. Of om net vir elkeen te sê die lewe is nie ’n las nie maar ’n lus, omdat my Jesus leef en ek met Hom!

 Vraag: Wat hoop jy sal die leser uit die boek leer en saamdra deur hulle lewe?

Ek skryf nie prekerig of regsienerig nie. Ook nie as toeskouer van ons seer nie maar as deelnemer, met hart en siel. As hierdie boek geestelike waarde aan iemand se lewe toevoeg, juig die engele in die hemel. En ek dank die Here.

 Vraag: Waarom is die boek juis vandag so relevant?

Ons samelewing swoeg en wroeg en dit lyk soms vir my, as ek na die voorblaaie kyk, of die pad net te steil vir sommige geword het. ’n Oomblik van stilword langs die steilte gee weer nuwe moed.

 Vraag: Skrywers vertel dat dit ’n besondere ervaring is wanneer hulle hul voltooide boek vir die eerste keer vashou of dit op die winkelrakke sien. Hoe ervaar jy dit? 

Dit is soos ’n goedbedoelde ruiker: ek ruik daaraan en luister na die voor- en agterblad en sê net dankie my Skepper dat U my dit laat waag het.

Vraag: Laastens, is daar enige toekomstige boeke in beplanning?

Met hierdie publikasie het ek ’n tweede asem en inspirasie gekry en daar is nog meer in die pyplyn as die Here wil. Dit is wat DV beteken.

Geloof in ‘n tyd soos hierdie deur Jan du Rand word deur CUM Christelike Uitgewers gepubliseer. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/geloof-in-n-tyd-soos-hierdie-sagteband-1.

2019-07-01T09:41:36+00:00