Lééf in verhouding

50 maniere waarop jy jou man kan eer

Deur Marilynn Chadwick | Foto Pexels

Om my man in liefde te eer beteken om hom met respek en bewondering te behandel.

Om jou man te eer is om te sê: “Jy is spesiaal en baie waardevol in my oë.” Klein gebaartjies gaan baie ver. Neem dit wat werk, gooi dit wat nie werk nie uit en raak kreatief met jou eie idees!

  1. Besluit dat jou man jou prioriteit sal wees – nie net ’n bykomstigheid tot jou besige lewe nie.
  2. Wees sy beste vriendin. Word ’n beter luisteraar.
  3. Gaan drink saam koffie of geniet ’n aandjie uit. Luister na jou man. Wat is sy drome?
  4. Vra God om jou spesifiek te wys hoe jy jou man kan eer. Bestudeer hom. Kyk wat hom geëerd laat voel. Dit verskil vir elke man. Wees kreatief.
  5. Bid dat God maniere aan jou sal uitwys waarop jy jou man dalk onteer. Jy doen dit dalk sonder dat jy weet.
  6. Ondersoek spesifieke maniere waarop jy sy werklas ligter kan maak en sy tyd by die huis ten volste kan benut.
  7. Reageer op sy sin vir humor. Vind maniere om dikwels te lag.
  8. Maak ’n lysie van die karaktereienskappe wat jou aanvanklik na jou man aangetrek het toe jy hom ontmoet het. Deel ’n paar items op die lysie met hom – miskien in ’n Vadersdag- of verjaarsdagkaartjie.
  9. Moedig jou kinders (van alle ouderdomme – selfs jou volwasse kinders) aan om ’n paar dinge neer te skryf waarvoor hulle teenoor hul pa dankbaar is. Laat dit uitdruk en plak dit in ‘n kaartjie.
  10. Vind elke dag een ding waarvoor jy jou man kan bedank. Dankbaarheid is soos die “superkos” van eer.
  11. Gaan slaap albei op dieselfde tyd. Wanneer dit ook al moontlik is.
  12. Kry ’n stokperdjie of aktiwiteit wat julle saam kan doen – veral iets in die buitelug.
  13. Groet jou man hartlik wanneer hy tuiskom. Hou op waarmee jy besig is. Kyk hom in die oë. Glimlag vir hom of nog beter, gee hom ’n soen.
  14. Vra jou man: “Is daar een ding wat ek vandag vir jou kan bid?” Dit help om spesifiek te wees. Bid dan. Vra hom later hoe dit gegaan het.
  15. Vind ‘n belofte in die Bybel wat van toepassing is op sy situasie. Bid daardie belofte vir hom of SMS die vers vir hom.
  16. Kyk en leer by jou vriendinne wat hulle goed van die taak kwyt om hul mans te eer.
  17. Gee doelbewus vir jou man ’n paar minute van gefokusde aandag wanneer hy by die huis kom. Een vriendin met klein kindertjies vertel dat haar “veeldoelige” persoonlikheid sou inskop. “Ek het probeer klere opvou, die skottelgoedwasser uitpak of iets ‘produktiefs’ doen terwyl ons gesels het.” Dit het egter nou verander. “Nou probeer ek om ten volle teenwoordig te wees,” sê sy.
  18. Oorweeg dit om saam wakker te word indien dit moontlik is. My gebedsmaat is al meer as 40 jaar getroud. Sy hou daarvan om elke oggend saam met haar man wakker te word, op te staan en vir hom koffie te bring.
  19. Verbind jou daartoe om te groei in jou verhouding met die Here. Vind ’n geestelike mentor as dit jou sal help om gemotiveerd te bly. Wanneer jy sterk in die Here is, sal dit oorloop tot in jou huwelik en gesin.
  20. Sê vir jou man dankie vir dit wat hy vir die huishouding doen – vir sy harde werk.
  21. Laat jou man weet dat jy steeds tot hom aangetrokke is. Bly fiks en doen moeite om mooi te lyk – dis nog ’n manier om hom te eer.
  22. Ontvoer jou man en gaan slaap iewers oor. Ek het altyd saam met David se assistent gewerk om sy dagboek leeg te kry, dan ’n kinderoppasser gehuur en vir ons plek bespreek by ’n nabygeleë gastehuis. Selfs ’n kort rukkie weg is verkwikkend.
  23. Bid saam.
  24. Spaar ’n bietjie van jou energie vir jou man, selfs al is jou skedule dol. Een van my vriendinne en haar man is besige, professionele mense met ’n leë nes. Sy herinner haarself daaraan om haar beste energie te gee wanneer hulle alleentyd het.
  25. Weier dat sosiale media jul tyd by die huis oorheers.
Weier om saam met vriendinne of kennisse sleg van jul mans te praat.
  1. Neem elke week saam ’n dag af. Miskien werkֹ’ n weeklikse aandjie uit of ontbyt beter – wees kreatief met die tyd wat julle saam vry het. Die sleutel is om dit gereeld te doen.
  2. Begin nou om na te vors watter prettige dinge julle saam kan doen. Een van my vriendinne het ’n lysie gemaak van heerlike daguitstappies wat minder as ’n uur se ry van haar huis af is. As die kinders ’n kwessie is, stig ’n “kinderoppasser-fonds”.
  3. Vind ’n manier om aan die einde van die dag saam tyd deur te bring om te herenig en te ontspan. Sit die kinders vroeër in die bed.
  4. Ons kinders is groot; daarom lyk ons gunstelingmanier om te ontspan aan die einde van ’n lang werksdag so: Netflix en springmielies. En ons deel ’n stafie donkersjokolade. Lekker!
  5. Stel die alarm op jou selfoon om jou daaraan te herinner om vir jou man te bid. Maak ’n gebedslysie, hou ’n joernaal of sit jou gebede teen ’n aansteekbord vas. Kry ’n gebedsneller wat jou daaraan herinner om vir hom te bid. Kies ook een vir jouself. Een vriendin bid wanneer sy klere opvou. Enigiets wat werk!
  6. Bid oor klein probleempies (wat hy dalk nie eens sien nie) voordat hulle groot probleme word. Moenie voel dat jy hulle altyd onder sy aandag hoef te bring nie.
  7. Laat vir hom bemoedigende notas of stuur SMS’e.
  8. Sê voor ander mense bemoedigende woorde aan jou man – veral voor die kinders.
  9. Vertel jou vriendinne van iets wat jy omtrent jou man bewonder wanneer hy nie by is nie.
  10. Komplimenteer jou man van aangesig tot aangesig. Opregte, spesifieke komplimente vul ’n huwelikstenk soos wat niks anders dit kan doen nie.
  11. Konflik gebeur. As jy iets negatiefs het om te sê, sit dit in ’n “toebroodjie”. Woorde van genade en liefdevolle goedheid … dan die waarheid … en dan nog genade en liefdevolle goedheid.
  12. Onthou: Daar word gesê dat ons 10 bevestigende opmerkings moet hoor vir elke stukkie kritiek.
  13. Moedig jou man aan om groot te droom. Vier dit wanneer hy ’n doel bereik.
  14. Herwin spesiale herinneringe in ’n geskenk. Ons skoondogter het ’n kwilt laat maak van ons seun se atletiekhemde.
  15. Bid vir sy liggaam of sy fisieke gesondheid; vir sy werk – die arbeid van sy hande; sy emosionele gesondheid; sy geestelike groei; en sy sosiale verhoudings. (Ont hou die Engelse akroniem: “B-L-E-S-S” – “body, labour, emotional health, spiritual growth, social relationships”.)
  16. Soek aanloklike maniere om jou man te help om gesond te eet en te oefen. Moenie neul nie, maar stel liewer ’n goeie voorbeeld. Of nog beter, kry ’n manier om saam in die buitelug te oefen.
  17. Weerstaan die versoeking om voortdurend te kritiseer of te korrigeer. Gaan ’n dag lank op ’n “woordvas” van alle kritiese woorde. Ek het gehoor daar word gesê: “Dis God se werk om ons mans heilig te maak; dis ons werk om hulle gelukkig te maak.”
  18. Weier om saam met vriendinne of kennisse sleg van jul mans te praat.
  19. Onthou om jou man se reputasie te eer. Een vriendin is deursigtig teenoor haar beste vriendinne oor die twispunte in haar huwelik, maar slegs as sy ook kan vertel hoe hulle dit opgelos het. Sy is versigtig om nie haar vriendinne se beskouing van haar man te skend nie.
  20. Eer jou man se ouers, selfs al is hulle nie teenwoordig nie. Jy kan eer bewys selfs al stem jy nie altyd met hulle saam nie.
  21. Vind ’n spesifieke Bybelvers wat jou sal inspireer om jou man te eer. Een wyse vriendin het na aanleiding van die volgende vers uit die Amplified Bible besluit om elke dag ’n ander aspek te beoefen om haar man te eer: “The wife [must see to it] that she respects and delights in her husband [that she notices him and prefers him and treats him with loving concern, treasuring him, honoring him, and holding him dear]” (Efesiërs 5:33).
  22. Moedig jou man se geestelike leierskap aan – veral met jou kinders. Moenie sy entoesiasme blus of die geestelike leierskapsrol oorneem nie. Veral nie as jy oor meer Bybelkennis as hy beskik nie.
  23. Woon gereeld kerk by saam met jou man; loop saam klas of wees saam deel van ’n klein Bybelstudiegroepie.
  24. Kry ’n manier om saam te dien. Werk byvoorbeeld saam by ’n skuiling vir haweloses. Of wat van ’n kort sendinguitreik?
  25. Bly sterk in jou eie verhouding met die Here. Gereelde gebedstye, Bybelstudie en sterk vriendinne wat saam met jou en vir jou sal bid, sal oor die lang termyn ’n ongelooflike verskil maak.
2019-06-30T22:27:45+00:00