Lééf as gesin

50 maniere om ‘n nalatenskap te bou

Deur Marilynn Chadwick | Foto Pexels

Jou nalatenskap is blywend. Dit verg talle klein gebaartjies oor ’n lang tydperk om ’n nalatenskap te laat.

Talle mense verkies vandag roem bo eer. Maar roem is vlietend, terwyl eer solied is. Dis ook baie makliker om roem aan te gryp as om eer te skep. Wanneer jy dus besluit om ’n kultuur van eer in jou huis te skep, gaan jy teen die grein. Maar hou moed! Jou erfenis sal jou kinders en die toekomstige geslagte seën. Dit sal ook ’n seën wees vir ’n wêreld wat na iets anders smag.

Ek hoop die volgende idees sal jou help om eer binne jou gesin te begin uitleef. Miskien sal dit jou aanspoor om ook jou eie idees uit te dink. Elke gesin is immers anders. Dis my gebed dat jou man en kinders sal floreer namate jy ’n klimaat van eer in die huis skep – en dat jou nalatenskap blywend sal wees.

Jou erfenis sal ook God eer en die mense rondom jou seën. Ek stem in gebed saam met jou dat ons saam ’n beweging van eer kan begin wat in ons eie huwelike en gesinne sal begin en dan uit ons harte en huise sal oorloop na die dorstige en gebroke wêreld.

  1. Begin nou eenvoudige tradisies bou. Neem jou gesin se ouderdomme, fases en belangstellings in ag. Eksperimenteer totdat jy dinge vind wat werk en hou dan daarmee vol! Onthou, eenvoud is volhoubaar.
  2. “Pizza en Tuisbly Gesinsaande” was ons ritueel op Vrydagaande. Dit was ons gesin se heel geliefkoosde tyd. Wonderlike flieks. Pizza (maklik om te maak, maklik om te bestel). ’n Tydjie met ons gesin alleen. Niks kan dit klop nie!
  3. Soek flieks met die tema “eer”. Ons volwasse kinders het nou hul eie lysie van persoonlike gunstelinge. Helde in flieks kan ’n kragtige manier wees om eer aantreklik te maak. Gesels na die fliek met jou kinders oor dit wat hulle geleer het. Om vir jou ’n paar idees te gee om mee te begin; hier is ’n paar van ons kinders se gunstelinge soos wat hulle ouer geword het: Hoosiers, Seabiscuit, Remember the Titans, Chariots of Fire, Sound of Music, October Sky en nog vele meer.
  4. Wie is ’n paar van jou persoonlike helde? Soek maniere om jou kinders aan ’n paar van jou rolmodelle en mentors voor te stel – mense wat die ideaal van eer verteenwoordig.
  5. Lees van jongs af goeie boeke vir jou kinders. Stories oor geloof, eer, moed en ander eervolle temas.
  6. Help jou kinders om te leer om eer te bewys aan die betekenisvolle volwassenes in hul wêreld, asook aan ouers en grootouers.
  7. Moedig jou kinders aan om met verjaarsdae briewe te skryf aan spesiale familielede. Ons kinders het ’n lysie gemaak van die “toptien- gunsteling herinneringe” saam met Ouma en Oupa vir hul grootouers se verjaarsdae.
  8. Vra familielede en vriende (selfs mentors, onderwysers of jeugpastore) om ’n brief te skryf wat jou kinders se hoop en drome aanmoedig. Ons het dit op hul 13de en 16de verjaarsdae laat doen. Plak die briewe in ’n plakboek.
  9. Eer en vier prestasies of doelwitte wat hulle bereik het.
  10. Vier klein en groot gebeure. Ons het ’n “Jy is spesiaal vandag”-eetbord gehad. Verf jou eie bord of kyk uit hiervoor aanlyn.
  11. Vier klein mylpale in karakter. Het ’n kind ’n vrees oorkom? Ons het dit altyd die oorwinning van ’n “kommervlieg” genoem. ’n Goeie rede vir ’n draairoomys!
  12. Sien en bevestig jou kind se eerbare gedrag. Soms is ’n glimlag of ’n drukkie al wat nodig is. “Betrap op soete daad” noem een van my vriendinne dit. Het ’n kind waagmoed getoon? Opgestaan namens ’n swakker kind? Kreatiwiteit gedemonstreer deur dinge anders as al die ander te doen?
  13. Wanneer ’n kind eerlik was oor iets wat hy of sy verkeerd gedoen het, sou ons soms die straf verminder (maar nie kanselleer nie).
  14. Bevestig en moedig ’n opgeruimde gesindheid aan, veral as jou kind vrolik bly wanneer sake nie reg uitwerk nie.
  15. Versamel geestelike aandenkings om jou gesin aan God se werk in hul lewens te herinner.
  16. Maak ’n “God-boksie”. Ek het ’n lieflike boks gevind, wat omtrent ’n halfmeter lank is. Geestelike aandenkings, Bybelverse met spesiale betekenisse en stories oor beantwoorde gebede word almal in die God-boksie gegooi.
  17. Haal nou en dan ’n paar items uit die God-boksie en gesels daaroor. Dit dien as ’n herinnering daaraan dat God altyd aan die werk is – selfs al kan ons dit nie op daardie tydstip sien nie.
  18. Bid weekliks as gesin saam en deel ’n kort Bybelboodskap. Maak tyd vir huisgodsdiens. Vra die kinders wat hul gebedsversoeke is en dank God vir beantwoorde gebede.
  19. Bid dankgebede voor slaaptyd. ’n Dankbare hart is ’n eerbare hart. Een egpaar wat ek ken, maak elke aand beurte om te vertel van dinge waaroor hulle dankbaar is wanneer hulle hul driejarige saans in die bed sit. Dit bou soete herinneringe saam met hul dogtertjie – en sluit die dag op ’n dankbare noot af.
  20. Help jou kinders om maniere te ondersoek om God met hul geld te eer. Toe ons kinders klein was, het ons vir elkeen tien muntstukke as sakgeld gegee. Die eerste muntstuk is in die kollektemandjie geplaas en die tweede een in ’n spaarvarkie. Die res kon hulle uitgee of spaar vir iets spesiaals wat hulle wou koop.
  21. Dink aan ’n gebedsneller vir elke kind, asook vir jou en jou man, om julle deur die hele dag daaraan te herinner om te bid.
  22. Memoriseer saam die vyfde gebod terwyl jou kinders nog jonk is. Herinner hulle daaraan dat God daardie spesiale opdrag net vir hulle gegee het, en dat dit ’n belofte inhou: “’Eer jou vader en jou moeder’ is die eerste van die Tien Gebooie waaraan ’n belofte verbind is: ‘Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag lewe” (Efesiërs 6:2-3).
  23. Beklemtoon eerbiedige gedrag. Maniere maak saak. Oogkontak, ferm handdruk, “Ja, Tannie” of “Ja, Meneer” of minstens ’n hoflike ja of nee is alles belangrik.
  24. Moedig tafelmaniere wat “minstens goed genoeg is” aan. Ek het altyd ons kinders geterg: “Maak seker jul maniere is ‘minstens goed genoeg’ om saam met die koningin van Engeland te eet, as julle ooit genooi sou word.”
  25. Maak seker jou kinders weet hoe om hard te werk. Maak ’n badkamer skoon, maak ontbyt, was wasgoed. Hulle sal jou later hiervoor bedank.
Moedig jou kinders se drome aan. Herinner hulle daaraan dat niks vir God onmoontlik is nie.
  1. Benadruk persoonlike verantwoordelikheid. Skep ‘n sisteem van huishoudelike take en sakgeld wat die beste vir julle werk.
  2. Bid saam met jou kinders vir hul maats, veral vir die wat geestelik soekend is. Laat jou kind weet dat jy sal aanhou om vir die maat te bid.
  3. Hou dit wat jou kinders jou van hul maats vertel, konfidensieel. Genoeg gesê.
  4. Wanneer jou kinders tieners is, herinner hulle daaraan dat onafhanklikheid ’n illusie is tot hulle self hul eie rekeninge betaal. (Dit kan ’n goeie teenvoeter wees wanneer hulle vir jou sê: “Sus-en-so het meer onafhanklikheid as ek.”)
  5. Maak ’n inkomtyd vas. Ons het. “Niks positiefs gebeur na middernag nie,” het ons altyd gesê.
  6. Wees bedag op leerbare oomblikke, veral wanneer jy saam met jou kinders in die motor ry. Ons kinders het altyd baie vrae oor God gevra terwyl ons in ons motor gery het. As ek reg onthou, was die motor ook die plek waar hulle die meeste vrae oor seks gevra het. Miskien het hulle die vrymoedigheid gehad om in die motor openhartig te gesels, aangesien ek my oë op die pad moes hou.
  7. Neem jou verantwoordelikheid ernstig op om van jou kinders dissipels te maak. Soek maniere om hulle die Bybel te help leer ken. Daar is baie DVD’s vir kinders beskikbaar wat hulle sal help om die Bybel te memoriseer.
  8. Herinner jou kinders aan die dag toe hulle Jesus aangeneem het. Hierdie raad kom van ’n wyse persoon wat met kinders werk en wat my aangemoedig het om nooit daardie vroeë geloofsbesluite ligtelik op te neem nie – maak nie saak hoe jonk die kind was toe hy of sy Christus aangeneem het nie.
  9. As gevolg van die raad in #33, het ek daarop gelet om spesifieke besonderhede omtrent ons kinders se geloofsbesluite aan hulle uit te wys. Ek het byvoorbeeld gereeld vir my dogter die storie vertel van hoe sy Jesus aangeneem het toe sy nog nie eers drie was nie, presies toe ons “hier gery het”.
  10. Woon lewenskragtige eredienste by waar God se Woord verkondig word. Ons het so jonk moontlik kinders by ons gewone dienste ingesluit.
  11. SMS elke oggend ’n Bybelvers wat die Here op jou hart druk vir jou tiener- (of selfs volwasse) kind. ‘n Vriendin het hierdie idee uitgedink. Sy noem dit “Ma se Versie van die Dag”. Selfs haar volwasse kinders herinner haar daaraan as sy vergeet het om ’n versie te stuur.
  12. Kry vir jou ’n gebedsmaat wat altyd gereed is om op kort kennisgewing te bid. Stuur eenvoudig vir mekaar ’n vinnige gebedsversoek en soms ’n Bybelversie per SMS. En vertrou God om die res te doen.
  13. In plaas daarvan om vir ’n vriendin ’n Kersgeskenk te gee, gaan drink saam met haar koffie. Kies saam ’n Bybelversie en verbind julle daartoe om daardie versie ’n jaar lank vir mekaar se kinders te bid as jul Kersgeskenk aan mekaar. Een vriendin het ’n hele jaar lank hierdie belofte uit Psalm 144:12 vir ons kinders gebid: “Ons seuns sal in hulle jeug opgroei soos goed versorgde plante. Ons dogters sal hoekpilare wees, uitgebeitel soos vir ’n paleis.”
  14. Vertel julle gesin of familie se geloofstories vir jou kinders om hulle aan hul geestelike erfenis te herinner.
  15. Moedig die grootouers aan om hul stories te vertel.
  16. Vertel jou kinders waar hul name vandaan kom.
  17. Wat is jul nalatenskap? Alle families het voorouers wat helde was, anders sou jy nie hier gewees het nie. Wie is sommige van julle s’n? Deel hierdie inligting met jou kinders.
  18. Vertel jou geloofsgetuienis aan jou kinders. Vertel hulle wat God vandag in jou lewe doen.
  19. Moedig jou kinders se drome aan. Herinner hulle daaraan dat niks vir God onmoontlik is nie.
  20. Help jou kinders om in moeilike tye te volhard – veral wanneer hulle ֺ’n doelwit nastreef.
  21. Ondersoek sendinggeleenthede in jul kerk en gemeenskap.
  22. Oorweeg dit om ’n kind in ’n ander land te borg. Laat jou kinders bydra tot die maandelikse koste.
  23. Skenk geld aan ’n sendingbediening, of nog beter, gaan as gesin op ’n sendinguitreik.
  24. Kies spesiale liefdadigheidsprojekte vir Kersfees. Ons het die kinders toegelaat om te besluit waar die gesin vir Kersfees ’n skenking sou maak.
  25. Moenie hierdie “reis” alleen onderneem nie. Vind nog ma’s en skep saam ’n kultuur van eer. Bid saam dat jul gesin se nalatenskap ’n blywende een sal wees wat die toekomstige geslagte sal seën.
2019-06-30T22:29:36+00:00