Vra jouself…

Foto Hanneri de Wet

Niemand kom heeltemal ongeskonde deur die lewe nie. Die meeste van ons beleef op die een of ander tydstip van ons lewe pyn, en vroeër of later moet ons dit aanspreek sodat dit ons nie vir ewig pootjie of terughou nie. Maar hoe? Amanda de Lange gee raad.

Een van die belangrikste dinge in enigeen se pad na genesing is dat ons iewers moet kies om die idee dat ons ’n slagoffer is, te laat vaar. Die werklikheid is dat jy heel waarskynlik wél ’n slagoffer was. Iewers het iets moontlik met jou gebeur waaroor jy geen beheer gehad het nie en wat jy nie vir jouself gekies het nie. Dít het van jou in daardie oomblik ’n slagoffer gemaak. Maar jy hoef nie een te bly nie. Jy kan kies om jou gebrokenheid te heel en om jou slagofferskap agter jou te laat.

Vra Jouself: Dink ek steeds aan myself as ’n slagoffer? Indien wel, hoekom? Op watter manier dien dit my om vas te hou aan die idee dat ek ’n slagoffer is en bly? Hoe kan ek myself help om dit neer te lê en na heelheid te streef?

Nog ’n belangrike aspek in die pad na genesing, is om vas te staan in jou identiteit. As jy nie weet wie jy in Jesus is nie, maak dit nie werklik saak wát anders jy dínk jy weet nie: Dit wat die heel belangrikste is, is vir jou onbekend. Om vorentoe te beweeg in genesing, moet jy verstaan dat jou identiteit nie bepaal word deur verganklike dinge nie – en beslis ook nie deur jou gebrokenheid, of enige ander situasie in jou lewe waarmee jy worstel nie.

Vra Jouself: Waarin is my siening van myself en my lewe geanker? Is dit in die verganklike dinge in my lewe gesetel of in die onverganklike opinie wat Jesus van my het? Wie se stem bepaal wat ek van myself of my lewe glo? Na wie luister ek: Na Jesus, of na die ander, verganklike stemme en opinies?

Dit bring ons by die derde punt uit. Leuens. Hierdie is ’n ongelooflike groot stap in enige van ons se genesingsproses. Solank as wat ons volhard daarin om die leuens te glo wat die vyand aan ons opdis, kan ons nie vorentoe beweeg in genesing nie. Dit is geweldig belangrik om stewig geanker te wees in die waarheid wat ons vind in die woord van God. Daarsonder speel die vyand met ons woer-woer.

Vra Jouself: Wat is die belangrikste leuens wat ek glo oor myself, oor ander, en oor God? Hoe raak dit my manier van dink en my optrede? Waar en hoe kan ek begin om hierdie leuens aan te spreek? Hoe sal my lewe wees as ek in groter waarheid leef?

’n Vierde, baie belangrike aspek van die genesingsproses is ons manier van dink. Wanneer jou denke jou pootjie, is byna al jou pogings om vooruit te beweeg en genesing in jou lewe te bewerkstellig futiel. Dit is dan ook hoekom Paulus ons in Romeine 12:2 aanmoedig om ons denke te vernuwe. Hoewel die konvensionele wysheid van die wêreld dikwels wyd ondersteun en verkondig word, is dit die wysheid van God wat ware vryheid en genesing bring.

Vra Jouself: Op watter maniere verskil my manier van dink van dié van die Woord van God? Wat kan ek doen om my denke meer in lyn met dié van Jesus te bring? Waar moet ek begin? Hoe kan ek elke dag daaraan werk om nuut en anders te dink volgens Paulus se instruksies?

Amanda de Lange is ’n spesialis-lewensafrigter, veranderingstrateeg, spreker en skrywer van die boek Suurlemoenseisoen: Herbou jou lewe in 52 weke (uitgegee deur Lux Verbi).

Sy doen ook genesende afrigting, wat spesifiek op die proses van innerlike genesing fokus. Kontak haar by 0846090344 of amanda.dlange@gmail.com

2019-06-01T10:39:45+00:00