Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Kom sit aan

Deur Rudi Swanepoel (Lux Verbi)

Wat beteken dit vir ons om te eet? Is dit bloot die bevrediging van ‘n drang, die inneem van ‘n hervulling, soos om vulstasie toe te gaan en brandstof in jou motor te kry? Of kan kos, hoe ons dit voorberei en hoe ons dit eet, teruggeëis word as heilig, as méér as net die ooglopende, as ‘n manier om in verbondenheid te lewe? Rudi Swanepoel, bekende blogger en predikant van Johannesburg, inspireer die leser om deur die doodgewone daad van eet meer betekenis te vind in ons lewe. Deur met vreugde en bewustelik te eet, kan ons ons ‘gewone’ lewens radikaal anders ervaar.  R195

Net mooi fine

Deur Lanie van Reenen (Penguin Random House)

Net mooi fine is die opvolg van Lanie van Reenen se suksesvolle boek Cést la Vie. Hierin beskryf sy wat gebeur het sedert haar hotelprojek in Frankryk gefaal het; hoe sy die nuwe realiteit van haar eie gestroopte lewe te bowe moet kom terwyl sy ook die verwerende château probeer red of verkoop. Op haar pad na heling onderneem Lanie vele avonture: soms alleen per fiets, soos wanneer sy die Camino Portuguese voltooi; maar ook te voet, soos die tog na berg Everest se basiskamp wat sy ter wille van liefdadigheid onderneem. En in hierdie ontroerende omstandighede ontstaan die vraag: Wat is die somtotaal van verlies? R230

Christo Wiese Risiko & Rykdom

Deur TJ Strydom (Tafelberg)

Op sy dag eienaar van ‘n diamantmyn, ‘n wynplaas én die duurste huis in Kaapstad. Voorsitter van Suid-Afrika se grootste kleinhandelaar. Direkteur van die Reserwebank, en die rykste man in die land. As jong man het Christo Wiese sy tande by Pep Stores geslyp. Mettertyd bou hy ‘n magtige sakeryk op, wat Shoprite en ‘n rits ander maatskappye insluit. Sy wenresep: ‘n eindelose liefde vir transaksies, ‘n vreeslose aptyt vir risiko en ‘n oog vir ‘n winskopie. Dié sjarmante sakeman was nog nooit bang om ‘n kans te waag nie. Die berekende risiko’s wat hy oor 50 jaar neem, maak hom hoogs suksesvol. Tot hy die meubelgroep Steinhoff teëkom, en dinge lelik skeefloop. R290.

Kaap, kerrie & koesisters

Deur Fatima Sydow & Gadjia Sydow Noordien (Human & Rousseau)

Dié tweelingsusters se lus vir die lewe en slag in die kombuis sal jou begeester om self die hand aan dhaltjies en piekelvis te waag. Met die resepte wat dié twee hier versamel het, kan jy maar – die bestanddele is bekend en die metodes gemaklik. Die onthou-stories agter baie van die resepte maak van hierdie boek soos ‘n huiskuier by ou vriende. Jy sal Kaaps-Maleise smake – koekies, kerries, sambals, smoortjies, bredies en brode, vleis en vis – herken, selfs al ken jy nie die name van die geregte nie: dis waarmee baie Suid-Afrikanser grootgeword het. R330

Genesing vir elke vrou

Deur Joyce Meyer (Struik Christian Media)

Kan ‘n vrou wat diep seergemaak is deur haar lewensomstandighede of iemand wat sy vertrou in haar hart en siel, genees word? Kan sy weer liefhê en vertrou? As ‘n vrou wat self jare se misbruik, verwerping en verraad moes verduur van dié naaste aan haar, kan Joyce Meyer met ‘n weergalmende “Ja!” antwoord. Joyce put inspirasie uit haar eie geskiedenis van mishandeling om te wys hoe Jesus Christus se verlossende liefde vroue se emosionele wonde kan genees en vreugde terugbring in hul lewe. Elke hoofstuk lei die leser deur dit wat hulle terughou in die lewe en hulle daarvan weerhou om hul ware identiteit op te eis as ‘n geliefde van Christus. R200

Hekel en word heel

Deur Nadia de Kock en Hilda Steyn (Lapa)

Hierdie is ‘n hekelboek met ‘n verskil. Vir die eerste keer in Afrikaans vertel vroue hoe hekel hulle deur moeilike en donker tye gehelp het. Stories wissel van mishandeling, verlies, werkstres, depressie, siekte en die dood van ‘n kind tot emosionele en fisieke misbruik. Een-en-twintig dapper vroue maak hul harte oop en vertel hul aangrypende verhale van stryd en uiteindelike oorwinning. Elke storie kom saam met ‘n hekelmotief wat spesiaal vir die storie ontwerp is, asook ‘n projekpatroon waarin die motief gebruik word. Die patrone wissel van maklik genoeg vir beginners tot verwikkeld genoeg vir die ervare hekelaar. R295.

199 Gunsteling Bybelverse vir Mans

CUM Christelike Uitgewersmaatskappy

199 van die bekendste en mees geliefde teksverse in hierdie pragtige boekie sal vir mans elke dag hoop en bemoediging bied en hulle inspireer om God se Woord in hul harte te bewaar. Die versameling teksverse is tematies gerangskik, kan maklik gememoriseer word en is ’n bemoedigende en inspirerende manier om elke dag te begin. Woorde van Waarheid om Pa vir Vadersdag mee te bederf. R49.

Gebede vir ‘n vrou se hart

Deur Elizabeth George (CUM)

Elke vrou se storie verskil, so ook haar behoeftes en haar vrese. En elke vrou het ’n spesiale gebed wat sy uit haar hart vir haarself of ’n geliefde wil bid. Gebede vir ’n vrou se hart help vroue waar woorde ontbreek en gee leiding waar insig kortkom. Met ’n gebed en oordenking oor verskeie fasette van die lewe – van vrese en veiligheid tot volharding en lof – gee dié boek vir vroue gebedsadvies vir hulle goeie en ook slegte tye. Elizabeth George is ’n topverkoper-outeur en meer as 12 miljoen eksemplare van haar boeke is al verkoop. R189,99.

2019-06-01T14:24:02+00:00