Kuns van Lééf

Ontdekkingstog

Deur Lizette Murray | Foto’s Hanneri de Wet & Sebastien Dubois

Vir kunstenaar Paula Dubois gaan dit daaroor om God en skoonheid in die alledaagse lewe te vind.

In die kunstenaar Paula Dubois (49) se voordeur sit ’n wit kat met gemmerspatsels in die oggendson. Hy lek sy voorpoot, stert om die bene gekrul. Hy is ongestoord. Hierdie is sy plek.

“Een Sondagoggend ná kerk was die leë bak waarin die herderspastei was, die eerste ding wat ek met die inkomslag op die kombuisrak gesien het. Op Sébastien, my seun, sebed het ’n klein babakatjie opgekrul lê en slaap. Hyhet hom Cottage Pie gedoop.”

’n Mens kan goed verstaan hoekom ’n verdwaalde babakatjie haar in Paula se huis kom tuismaak het. Die groot glasruite van haar kuier-ateljee nooi die son en tuin na binne. Die hele vertrek lê gebaai in lig. Op die boekrak teen die venster staan glaspotte met ’n clivia, ’n protea, ’n bossie blosende bruidjies – beter bekend as blushing brides. Die verskillende vorms en kleure en teksture vra om in ’n skildery vasgevang te word.

En dit is presies wat Paula doen. Sy kyk tot in die hart van dinge rondom haar – en maak daarvan ’n kunswerk. Paula kan haar nie ’n lewe sonder kuns indink nie. In gr. 2 het ’n onderwyseres, juffrou Rautenbach, vir haar ouers gesê sy het ’n besonderekunstalent, sy moet ekstra klasse begin neem. En sy het. “My laerskooljare met sy weeklikse kunsklasse, asook my hoërskooljare aan die Pro Arte-kunsskool in Pretoria, was wonderlike tye.”

‘Ek leer steeds om onvoorwaardelik op Hom te vertrou vir klein en groot dinge in my lewe en om fyn te luister om Sy stem ‘raak’ te hoor.’

’n Kunstenaar in Sy koninkryk

Vir Paulawas dit ’n voorreg om haar kunstalent van jongs af te kon slyp. In haar matriekjaar het sy een nag op ’n plaas in die Oos-Kaap met ’n teksvers in haar kop wakker geword. Daar was geen krag nie. Sy het toe bykerslig die vers in Lukas 14:26 opgesoek. Dit lui: “As iemand na My toe kom en hy is minder lief vir My as vir sy pa en ma en vrou en kinders en broers en susters en vir homself, dan kan hy nie my dissipel wees nie” (Die Bybel vir Almal).

Dié Skrifgedeelte het haar dwarsdeur haar studentejare aan die Universiteit van Pretoria – waar sy ’n BA-graad in Beeldende Kunste (Inligtingsontwerp) voltooi het – bygebly. Paula wou op een of ander manier by sendingwerk betrokke raak, met kuns die instrument in haar hand. Sy hetby YWAM (Youth With a Mission) aangesluit en is na hul opleidingsentrum in Muizenberg waar sy ’n Discipleship Training School (DTS) gedoen het. Sy het ook opsendinguitreike na plekke soos Madagaskar, Marokko en Griekeland gegaan. In 1995 is Media Village by YWAM se opleidingsprogram ingesluit. In Media Village se kunsateljee, wat Paula en ’n vriendinThe Blue Square Studio gedoop het, kon sy haar kunstalent inspan om ’n verskil in mense se lewens te maak. Paula het vroeg reeds geleer om slégs op God te vertrou. Een oggend in 2004 het sy en Sébastien van hul huis in Caprinaby Kaappunt na die Kaapstadse middestad gery waar sy as uitlegkunstenaar vir ’n tydskrif gewerk het.Paula was nie gelukkig in haar werk nie, maar was afhanklik van die inkomste. Dié oggend het Joyce Meyer in haar radioboodskap gesê: “Moenie bid vir ’n nuwe werk indien jy ongelukkig is nie. Bid vir die koninkryk van God in jou lewe.”

’n Week later hetPaula ’n oproep ontvang dat ’n nuwe geestelike tydskrif gaan verskyn en dat sy oorweeg word vir die pos as kunsdirekteur. Sy het reguit vir die onderhoudvoerders gevra wat met “geestelike tydskrif” bedoel word. Toe die ge-oormerkte redakteur, Christine Ferreira, antwoord dat Christus soos ’n goue draad deur elke uitgawe van die tydskrif gaan loop, het Paula geweet dat dit die antwoord op haar gebede is. Die nuwe tydskrif, Lééf – met hart & siel,was die plek waar God haar in Sy Koninkryk wou gebruik. “Op Christine se vraag hoe ek myself sien, het ek gesê: ‘’n Kunstenaar. En ’n ma vir my kind.’ ”

Christine het Paula se versugting gehoor. Haar werkooreenkoms het bepaal dat sy tussen agtuur en twee-uur op kantoor moes wees. Daarna kon sy tuis werk. Die volgende klompie jare kon sy dus smiddae by Sébastien, wat toe in gr. 1 was, wees. Dit was die begin van Paula se pad by Lééf – met hart & siel. Die volgende 11 jaar was LééfPaula se tuiste en die Lééf-span haar geestelike familie. Toe Lééf in 2016 as hardeband-tydskrif uit die mark onttrek is, het God Paula alreeds vir ’n nuwe seisoen saam met Hom begin voorberei. Dit is tekenend van haar lewe. Wanneer ’n stuk pad ten einde loop, of wanneer sy skielik tot stilstand geruk word, wag daar reeds iets nuuts wat God Sélf vir haar voorberei het.

Nader aan Hom

Paula ervaar dikwels hoe sy uit haar gemaksone gedwing word. Buiten dat dit ’n verruiming van haar vaardighede beteken, verryk dit ook haar gees. En dit versterk haar verhouding met God. “As kunsredakteur is my werk afgebaken. Ek het net sóveel ruimte op elke bladsy. Ek moet goed beplan om die teks en foto’s sinvol ingepas te kry. Dit verg beplanning en ’n geordende aanslag.

“In die vryskutwêreld stap jy egter op ’n bepaalde oggend by ’n onbekende kantoor in. Jy gaan sit agter ’n rekenaar en moet onmiddellik begin werk. Dan is dit God se genade en jou ondervinding wat jou dra. Ook jou soepelheid om iets nuuts te skep en nie by die bekende vas te haak nie. Ek moes leer om ontvanklik te wees en om te waag.”

Sedertdien was Paula by ’n hele paar tydskrifte as grafiese ontwerper, illustreerder en bladuitlegkunstenaar betrokke, onder meerTuis, Goeie Huishouding, Sarie, en Lééf, wat sedert 2018 onafhanklik versprei word.Sy werk ook as kunsredakteur vir verskeie boeke. Een van die pragpublikasies waarvoor sy verantwoordelik was, is die nuwe uitgawe van Klein Kook en Geniet(2018). Met vryskutwerk wat soms wisselvallig is, is daar nie die vaste sekerheid van ’n gereelde inkomste nie. Die een woord wat Paula se saamstap met God die beste beskryf, is “vertroue”. “Ek leer steeds om onvoorwaardelik op Hom te vertrou vir klein en groot dinge in my lewe en om fyn te luister om Sy stem ‘raak’ te hoor.”

By geleentheid het Paula ’n duidelike aanwysing gekry om in te skryf vir ’n Asemiese Skrif-werkswinkel by Leesette Turneren Heleen de Haas, ’n vriendin en wyse Christenvrou. Paula het nie ’n idee gehad waar sy dit sou kon gebruik nie.Maar uiteindelik het selfs hierdie Mark Making-skryfkuns – ’n tegniek waarmee die kunstenaar met plantmateriaal soos takkies, blare, sade en ander voorwerpe verf– ’n plek in haar kuns gevind.

‘Hierdie kunstegniek het my geleer om te laat gaan. Om nie perfeksionisties te wees nie.’

“Hierdie kunstegniek het my geleer om te laat gaan. Om nie perfeksionisties te wees nie. Dit bring ’n opwindende nuwe, ongekontroleerde element in my kunsbeoefening. Gelyktydig het dit ook ’n nuwe vryheid in my eie lewe gebring. En ’n nóg groter vertroue op God.”

Ons blaai deur die kunswerke wat sy vir ’n kunsuitstalling, What we need is here,gemaak het. Dis aards. Onopgesmuk. Eerlik. Met sterk kleure uit die natuur. “Daar was onlangs ’n kunsmaand by Welgemeend-kunsgalery in Kaapstad waar sowat negentig befaamde vrouekunstenaars, soos Irma Stern en Maggie  Laubser se werk uitgestal is. Penny Siopis, wat met gom en ink verf, se praatjie het so ’n indruk op my gemaak dat ek tuis onmiddellik blushing brides met gom en ink geverf het.” Vir Paula hou die skugter blushing bride-blommetjie ’n besondere simboliek in. Die eienskappe van ’n skaam, blosende bruid wat haarself in afwagting op haar bruidegom voorberei, word ook in ons as Christus se bruid weerspieël.

Waar Paula aan die voet van Tafelberg woon, is sy omring deur die natuur – met sy skoonheid, maar ook met sy wind en reën en stormweer. Soggens gaan stap sy om Leeukop vanwaar sy die see kan sien. Met die berg en die see net ’n opkyk ver kan sy nie anders as om in verwondering te bly leef nie. “Vir my gaan dit daaroor om God en skoonheid in die alledaagse lewe te soek. Hierdie soeke lei my elke dag op ’n ontdekkingstog. Ek beleef transformasie en groei. In my kuns, maar ook in my eie lewe.”

  • Kyk uit vir Paula se werk by ‘n uitstalling getiteld A new nature by die Tina Skukan Gallery by Koedoebergweg 6, Faerie Glen, Pretoria vanaf 25 Augustus 2019. Skakel 012 991 1733 vir meer inligting oor die uitstalling.
2019-06-01T14:00:38+00:00