“Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd.” Prediker 3:1

Die koue het uiteindelik arriveer. Vir die eerste keer dié seisoen moes ons dié week die verwarmer aansit. Die honde lê nou vir ure uitgestrek in die son op die grasperk of snoesig opgekrul in hul mandjies. Daar is berigte van ligte sneeuval op die berge in die Oos-Kaap en die bome in ons omgewing klou verbete aan hul laaste herfskleed, terwyl die dieprooi blare saggies grond toe tuimel. Die yl sonnetjie stroom soggens deur die kaal takke van bome in ons voortuin. In ruil hiervoor is die lug ’n nuwe skakering van blou en verkleur die krismisrose in my tuin tot skakerings van vuilgroen en wynrooi, so eie aan die herfs en vroegwinter.

So bring elke seisoen sy eie mooi. Nou kook ons sop en skink Johan vir ons ’n glasie rooiwyn. En verlustig ons ons aan tuisgebakte brood. Die son sak vroeg en kruip ons vroeër as gewoonlik onder die vere. Te midde van spertye en saktyd is die dae stiller en rustiger. So asof die winter ons die geleentheid gee om na binne te keer, ’n slag na die stilte van die hart te luister, die gejaag ’n tydjie lank agter te laat.

Om met ’n hernieude bewussyn en sodoende rustiger te leef, verg dissipline. Want hoe maklik word ons nie deel van die (soms onwillekeurige) gejaag nie!

Vir elke ding onder die son is daar ’n vaste tyd, sê die Prediker.

Nóú is die tyd om die siel tot rus te bring, om te bedaar, om stadiger te leef. Om die boeke te lees wat al maande op die boekrak staan, jou huis te vul met die klanke van kore en klassieke musiek wat die ritme van die stadiger seisoen beaam.

Om tot rus te kom, is ’n keuse. Ook om jou bekommernisse ’n tyd lank uit die voorgrond te stoot. Om vas te hou aan die Een wat sê Hy sal sorg dat die skure volbly en dat die reën op sy tyd sal val. Om op Hom te vertrou ook in die hartjie van die winter …

Mag jy ook nou ’n nuwe, stiller seisoen betree. Mag jou hart tot rus kom totdat die volgende aanlynuitgawe van Lééf met hart & siel op 1 Julie 2019 hier by www.leef.co.za verskyn.

  • Moenie vergeet dat die Herfs 2019 gedrukte uitgawe van Lééf met hart & siel nou op die rak is nie. Kry jou kopie sommer vandag in die hande! Die Winter 2019 uitgawe sal vanaf 25 Julie op die rakke wees.

Christine Ferreira

Redakteur

2019-06-01T15:30:30+00:00