Boekuittreksel

Liefde weeg die swaarste

Deur Helena Hugo

Isa Karsten is ‘n uiters bekwame persoonlike assistent by die regsfirma Kleinschmidt, Steyl en Seun. Sy is beeldskoon, maar voer ‘n voortdurende stryd teen kos wat nie net haar selfbeeld nie, maar ook haar gesondheid bedreig.

‘Isa het al alles wat sy saamgebring het, uitgepak en wegge­bêre toe iemand aan die deur klop. Dis die kelner wat haar skinkbord met tee bring en dit op die lessenaar neersit.

“Geniet,” sê hy en maak dat hy wegkom.

Tot haar verbasing is daar twee plat beskuitjies ook by, maar nie melk of suiker nie.

Sy lig die deksel en kry die geur van kaneel en lemoen, wat nie te sleg is nie. Haar hande bewe toe sy die tee skink. Om die kop­pie te rek, gaan tap sy koue water in die badkamer aan haar kant van die kamer. Dit smaak nie sleg nie en die beskuitjie is soeterig.

“Stadig eet,” hoor sy die stem van een van die talle dieetkundiges wat haar al probeer help het.

“Stadig eet, deeglik kou.” Nog ’n stem.

“Bou-de …” Zettie Venter.

Isa het rondgeloer in die kamer. Haar kamermaat se duvet is afgerol, maar haar bed is verder netjies reggetrek. Die Bybel met ’n sentimentele oortreksel wat saam met ’n roman van Francine Rivers langs Zettie se bed staan, klop nie met die Zettie Venter wat sy geken het nie. Isa het dit gestaan en bekyk, maar nie daaraan geraak nie. Toe het sy haar tekengoed en Adam se Jerusalem-foto’s saam met tannie Hantie se Corrie ten Boom-boekie op haar lessenaar uitgestal. Philip Yancey lê voorlopig saam met Philippa Gregory en Chanette Paul in die boks met kunsvoorrade.

Haar skoene is uitgeskop en sy sit met haar bene gestut op die stoel. ’n Gelag en gepraat van mense wat met die trap op naderkom, raak hoorbaar. Dit maak haar senuweeagtig. Sy sluk die laaste kwartkoppie tee en staan op om die koppie op die skinkbord te sit; so vinnig, dit val skuins toe sy dit netjies wil regskuif.

Hier kom Zettie Venter. Net sy wat so kan lag. Wie kon dink dat hulle twee eendag ’n kamer in ’n maermaakkliniek sou deel?

Daar is ’n vinnige kloppie aan die deur en Zettie stap in. “Sien julle!” groet sy haar groepie, wat aanstap.

Sy trek die deur saggies op knip, glimlag vir Isa. “Ons rus tot drie-uur, dan doen ons groepwerk of spreekure met die dokters of kry lesings, daarna gim, Vrydae aerobics of tennis of gholf, party ry selfs perd. Jy kan later kies wat jy wil doen. Ek hou van swem. Kan jy glo, toe jy my laas gesien het, kon ek ’n bikini dra.”

“Dis lank gelede.”

“Sewentien jaar, byna agtien. Ons moet praat.”

Sy kan aan Zettie se stem hoor dat sy anders is – nie meer hard en brutaal nie; sag en moederlik.

Isa bly aan haar kant van die kamer en Zettie trek haar stoel vasberade nader.

“Ek gaan kort en kragtig wees. Dis goed dat ons saam is. Eintlik is dit gebedsverhoring. Glo my, ek het jou nie vergeet nie. Ek het baie aan jou gedink toe ek gewig optel, al die vieslike kilogramme wat ek nie kon keer nie. Naderhand was ek so opgeblaas, my pragtige dogtertjie wou my nie meer ken nie. Ek’t die Here gevra of dit my straf is omdat ek altyd gedink het dit sal nooit met my ge­beur nie. Jy het by my gespook, die lelike goed wat ek jou toegesnou het. Ek weet waar jy werk, maar ek kon myself nie sover bring om soontoe te gaan nie. Ek het die Here gesmeek om jou na my toe te bring, dat ons in ’n winkelsentrum of net iewers mekaar weer raakloop. Ons woon in Pretoria, my ouers is nog in Roodepoort.” Zettie skep asem, sy kyk by Isa verby deur die venster, haar gesig verwronge. “Ek was van plan om reguit na jou werkplek toe te gaan as ek hier uitkom. Wat gebeur? My gebede word verhoor.”

Trane stroom oor haar gesig. Sy buk oor en strek haar hande na Isa toe uit. Maar sy het haar arms om haar lyf gevou en inme­kaargekrimp. Sy hou nie van dié soort ontboesemings nie. Dit herinner haar aan haar ma wat in trane aangaan oor hoeveel sy vir haar doen en hoe hartseer sy haar maak as sy nie saamwerk en minder eet nie.

“Ag, ek het jou afgeskrik. Ek is so, voortvarend. Is goed, ons kan later weer praat. Jy het ’n moeilike tyd voor jou.”

Zettie pluk ’n snesie uit haar mou en vee haar trane af. Sy staan hangskouer op en stap na haar bed. Daar gaan lê sy op haar rug en praat met die dak.

“Hulle gaan jou weeg en meet, jou dieet uitwerk, jou begin met oefeninge. Vanaand kry jy dun sop en kruietee. Drie dae van vloeistowwe. Dis hel. Ek het die eerste week ses kilogram af­gekom. Daarna het dit stadiger gegaan. Ek is nou agt weke hier en ek weeg veertien kilogram ligter. Was honderd-en-twintig. Dis van die hormoonbehandeling vir my seuntjie. Ons het dieselfde deurgemaak met Melanie. Jy moet lê, rus terwyl jy kan.”

Isa maak haar oë toe, haal rustig asem. Tien jaar is nie lank genoeg om te voel hoe dit voel om ’n vet vark te wees nie, maar Suzette Venter het haar les geleer. Snaaks, sy kry haar jammer.

“Ek is eerlikwaar so spyt oor ek jou so gepes het. Ek moes nie.”

“Dit was nie net jy nie.”

“Ek weet. Kinders soek altyd een om op te pik. Dis omdat hulle bang is.”

“Los dit, dis verby.”

Zettie stut haar op haar elmboog. “Is jy seker?”

“Ja.”

“Ag, nou het ek gemoedsrus. Ons gaan nog baie gesels.”’

Uittreksel uit Helena Hugo Omnibus 3gepubliseer deur en gedeel met toestemming van Struik Christian Media. Dié boek is landwyd beskikbaar by toonaangewende boekwinkels, en kan aanlyn by CUM Books gekoop word: cumbooks.co.za

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van die Helena Hugo Omnibus (Want liefde maak lig, Liefde weeg die swaarste en Liefde maak heel) met komplimente van Struik Christian Media wen. Stuur jou naam, straatadres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae@leef: Vraag: Wat is die naam van die vrou wat ‘n kamer met Isa by die maermaakkliniek deel? Sluitingsdatum: 30 Junie 2019.
2019-06-01T12:39:12+00:00