Toe die Kaapse najaar bome begin goudrooi kleur, en die luggie langsamerhand verkoel, vlieg ek Nederland toe. Kuier by my  skoonfamilie Die eerste sonder my man. Bob is byna twee jaar gelede in ‘n fasiliteit vir demensie opgeneem.

Dit voel triestig en ongewoon om na soveel jare die tog alleen te maak. Ek luister na die entoesiastiese Nederlands van die loods wat ons aan boord verwelkom en voel skielik vreeslik verlate.

“Vader,” bid ek benoud, “hou my asseblief styf vas.”

Toe KLM vlug KL0596 sy blou vlerke oor die Wynlande strek, voel ek inderdaad die rustige nabyheid van die Een wat ons nooit alleen iewers laat gaan nie, by my kom.

“5 grade, heerlijk sonnetje!” roep die loods toe ons 10h00 land. Ek ril by die gedagte en trek dankbaar ‘n warm baadjie aan.  Bob het twee broers en drie susters in Nederland. Bram, die jongste, kom my op Schiphol haal. Toe ons die pad in die druk, maar perfek gereguleerde verkeer vat, sien ek dat voorjaar oor die land oopgebars het. Onverwoordbaar mooi. Groener as groen en sodra ons uit Amsterdam is die pragtige geel koolsaad en die wit anysblom so ver as jy ry langs die pad.

En so kuier ek tussen 5 adresse en word behoorlik bederf. Die eerste twee weke bly dit bitter koud, met selfs sneeu op ‘n dag. Maar die laaste week is warmer. Ek moet lag as hulle 25 grade “bloedheet” noem. Heel Nederland is buite. Ek kyk verlangend na die veilige fietspaaie tussen die groen bome en blomme waar oud en jonk sorgeloos fiets. Elfuur in die aand stap ek en my skoonsus veilig die kilometer en ‘n half van ‘n kooroefening na haar huis toe. Ons “beende” kilometers ver deur Amsterdam en Gouda, drink eindeloos koffie, eet pannenkoeken en frietjes in die sprokiesmooie ou dorpies.Ek moet soveel maal op my lip byt as ek meteens helder onthou van kere wat ek en Bob op daardie juiste plekke dieselfde gedoen het. Veral in die begin jare toe alles in Nederland nog vir my nuut was.

Ons slaan ou albums met foto’s oop. Hoeveel pret het ons nie as familie saam gehad nie! Hoe jonk en mooi was ons tog. . . Ons lag weer vir hoe skrikaanjaend die Hollanders se reguit maniere in die begin vir my was. Maar ons onthou ook dat in 2012, 2013, al drie my skoonsusse se mans binne 10 maande dood is. Ons staan stil by die ellende wat Bob getref het. Hulle vertel van hom as kind gedurende die oorlog. Van die Hongerwinter. Hoe jonk hy was toe hy die seemansskool in Rotterdam verlaat het om te gaan vaar. Vandag weet hy nie eers meer wie hy is of waar hy is nie.

Dit word Pase die laaste naweek toe ek by my so geliefde skoonsus Trude in Stolwijk is. Op Vrydagaand is my hart by die Pesach Seder in Beit Ariel. Ek gaan saam met haar na haar mooie Lutherse kerkie in Gouda. Die diens is ontroerend. Toe aan die einde, die voorganger die groot kers voor die kansel doodblaas, die lampe doodgaan en dit stil word in die kerk, voel ek warm trane oor my wange loop. My man is nie dood nie, maar hy lewe ook nie meer nie.

Maar op Opstandingsoggend word die kers weer brandend binne gebring “De Heer heeft opgestaan!” fluister almal.  En ineens voel ek hoe die swart wanhoop wat maande lank my hart geknel het, ligter raak.

Hy wat uit die graf opgestaan het, het met die warm familie-liefde en die mooie Hollandse voorjaar, my vasgehou en my hart getroos.

2019-04-30T20:24:54+00:00