Hartskos

Deur Christine Ferreira | Foto’s Hein van Tonder

Sjokolis, Katelyn Williams, deel haar passie vir sjokolade in haar nuwe kookboek, Chocolate. Hier is ’n paar maklike sjokoladewenners om self te maak.

Hierdie is sekerlik een van die jaar se mooiste kookboeke. Die fotografie en stilering is iets besonders en Katelyn deel haar resepte en liefde vir sjokolade met oorgawe. Daar is van wenke en interessante brokkies oor sjokolade tot resepte vir maklike bruintjies in ’n pan, reuse-sjokoladeskuimpies, smelt-in-die-mond kleinkoekies tot droommooi, verleidelike groot koeke. ’n Moethê vir liefhebbers van sjokolade!

Sjokolade-pannekoek met koue bessies en warm wit sjokoladesous (links)

Bedien 1 tot 2 persone

70 g (115 ml) koekmeel, gesif
30 g (35 ml) strooisuiker
2 groot eiers, teen kamertemperatuur
125 ml (½ koppie) melk
2,5 ml (½ teelepel) vanielje-ekstrak
15 g (15 ml) gesoute botter
Gevriesde bessies, teen kamertemperatuur om saam met die wit sjokoladesous te bedien
Versiersuiker om bo-oor te sif vir opdiening

Voorverhit die oond tot 200 °C (180 °C vir ‘n waaieroond). Plaas ’n gietysterpan met ’n 15 sentimeter deursnee in die oond vir ten minste 20 minute lank om op te warm.
Kombineer intussen die meel en die suiker. Voeg die eiers, die melk en die vanielje by en klits tot glad.
Laat die deeg rus terwyl die pan opwarm. Verwyder die pan uit die oond en plaas die botter in die pan. Bedek die ganse bodem met botter en giet die pannekoekdeeg in die pan en plaas dit terug in die oond. Bak vir 20 tot 25 minutes of totdat die pannekoek pofferig en goudbruin is.
Haal uit die oond en bedien onmiddelik met gevriesde bessies, warm wit sjokoladesous. Sif versiersuiker bo-oor vir versiering.

Wit sjokoladesous
Maak 300 ml

200 ml (3/4 koppie room)
1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies verwyder
100 g wit sjokolade, fyngekap

Verhit die room en vanieljesaadjies in ’n kastrol en laat dit kook. Giet die roommengsel bo-oor die sjokolade. Roer tot glad.

Bruintjies vir twee (regs)

Bedien 2

1 groot eier, teen kamertemperatuur
75 g (125 ml) wit suiker
45 g (45 ml) gesoute botter of margarien, gesmelt
2,5 ml (½ teelepel) vanielje-ekstrak
15 g (30 ml) kakao-poeier
50 g (85 ml) koekmeel
1,25 ml (¼ teelepel) bakpoeier

Voorverhit die oond tot 180 °C (160° vir ’n waaier-oond). Smeer of bedek ’n standaard broodpan met waspapier. Klits die eier en suiker saam totdat dit lig van kleur is, voeg dan die gesmelte botter en vanielje by. Sif die droë bestanddele by en meng tot glad.
Giet die mengsel in die broodpannetjie en bak vir 10 tot 15 minute of totdat die bokant ferm en gekraak is. Toets of dit gaar is deur ’n mes in die middel te steek. Daar behoort nog krummels aan die mes te kleef as jy dit uit die mengsel trek. Laat effens afkoel, sny in skywe om te bedien.

Wenk: Geroosterde neute, sjokoladesplinters, kersies, malvalekkers, kaneel en chilli kan bygevoeg word.

Donker sjokolade-mousse (links)

Bedien 4

180 ml (¾ koppie) water
230 g donker sjokolade (70% kakao), fyngekap

Plaas die water en die donker sjokolade in ’n kastrol en verhit stadig, terwyl jy die mengsel roer totdat dit gesmelt is. Giet die mengsel in ’n glas- of metaalbak wat bo-op ’n ander bak pas. Plaas ysblokkies in die onderste bak en plaas die bak met die sous bo-op die onderste bak.
Gebruik ’n elektriese klitser of ballonklitser en klits die mengsel totdat dit verdik en sagte punte vorm. Giet die mousse in ’n opdienbak of individuele bakkies en laat dit in die yskas afkoel.
Bedien met vars bessies en vrugte (opsioneel).

Variasies

Koffie: voeg 5 ml (1 teelepel) kitskoffie by die water.

Kruisement:  voeg ’n paar druppels kruisement-ekstrak by die water.

Chilli: voeg ’n knypie chillipoeier by die sjokolademengsel, terwyl dit besig is om te smelt.

Meelvrye sjokoladekoek (regs)

Bedien 8 tot 10

250 g (250 ml) gesoute botter, teen kamertemperatuur
375 g donker sjokolade, gekap
440 g (550 ml) wit suiker
7 groot eiers, teen kamertemperatuur

Voorverhit die oond tot 180 °C (160 °C vir ’n waaier-oond). Smeer of bedek ’n ronde koekpan met ’n 20 sentimeter deursnit met waspapier. Plaas die botter in ’n mediumgrootte kastrol en smelt oor medium hitte tot warm en sag. Verwyder van die hitte en voeg die donker sjokolade by. Roer totdat gesmelt. Klits die suiker en eiers by die sjokolademengsel. Giet in die voorbereide koekpan en bak vir 35 tot 40 minute – die koek moet net-net gaar en steeds bewerig in die middel wees. Haal uit die oond en laat dit behoorlik afkoel. Dit sal kraak en insak in die middel. Haal die afgekoelde koek uit die pan en versier soos jy lus het.

Resepte en foto’s uit Chocolate deur Katelyn Williams met toestemming van Human & Rousseau gepubliseer.

2019-04-30T18:46:07+00:00