Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Die vrou van die klippesee

Deur Meg Vandermerwe (Umuzi)

Kreefsmous Hendrik dog hy yl toe hy ‘n  beseerde jong vrou op ‘n verlate systrand aan die Weskus kry, want waar haar bene moet wees, groei ‘n visstert, sterk en stewig soos ‘n tuna s’n. Miskien is dié wese een van die watermense waaroor sy vrou Rebekkah gepraat het voordat sy vir ewig in die see verdwyn het. Of dalk is sy dit wat die Xhosamense ‘n “mamlambo” noem. Hendrik se lewe verander handomkeer wanneer hy die watervrou huis toe neem. Is dit sy seer hart wat sy oë só bedrieg, wonder hy, of lê hier ‘n leidraad wat kan sê wat van sy vrou geword het? Gou besef Hendrik daar loop ‘n haarlyn tussen dit wat hy kan sien en dit wat hy moet glo. R265.

Om tot verhaal te kom

Deur Lizette Rabe (LAPA)

Probeer sin maak met sinne wat nie wil sin maak nie; dit is die wese van skryfterapie – in Engels bekend as journalling. Dit is waarmee hierdie boek wil help: om jouself te vind. Skryfterapie is ’n bewese manier om deur verlies en trauma te werk, ongeag wat die aard of omvang van jou trauma is. Het jy jou werk verloor? Moes jy deur ’n egskeiding worstel? Was jy die slagoffer van misdaad? Is ’n ernstige siekte by jou gediagnoseer? Het jy ’n geliefde verloor? Die antwoord oor die pad vorentoe lê in jouself; dit is waar skryfterapie inkom. Om tot verhaal te kom verskaf praktiese wenke oor hoe om te skryf en verskaf ook inspirasie uit die werk van ander skrywers. R260.

The Messiah’s Dream Machine

Deur Jennnifer Friedman (Tafelberg)

Hierdie is ‘n opvolg op Queen of the Free State, Jennifer Freedman se eerste memoir. Vertellinge oor haar lewe is propvol humor en patos en volg ons haar reis na volwassenheid, moederskap en selfs emigrasie. Die skryfwerk is pragtig en vertel die storie van haar lewe met deernisvolle beskrywings en kosbare en grappige herinneringe aan kosskool, begrafnis-fiasko’s, windmeule, baba’s en meer. R275.

Spice Odyssey

Deur Cariema Isaacs (Struik Lifestyle)

“Ek kan myself nie ‘n wêreld sonder kleur indink nie, ek kan myself nie ‘n maaltyd sonder speserye indink nie.” So gesels Cariema Isaacs oor haar passie vir spesery in die pragkookboek propvol geurige disse en inligting oor speserye. Cariema se koserfenis is afkomstig van haar Kaaps-Maleise erfenis en die tyd wat sy in haar ouma se kombuis deurgebring het. Die boek deel ‘n magdom heerlike resepte van regoor die wêreld wat jou mond sal laat water! R350.

Anderkant die ondenkbare

Deur Jeanette Mouton (Struik Christian Media)

Op Sondag 1 Mei 2011 verander Jeanette Mouton se lewe onherroeplik: Sy kry die gevreesde oproep dat haar kind dood is. In hierdie hartroerende memoir kyk sy terug op die lewe van haar twintigjarige seun Henno se lewe en die swart nag toe hy in ‘n motorongeluk gesterf het. Sy onthou verskeie uitstaan-oomblikke en wroeg ook oor wat sy anders moes gedoen het. Sy wonder of God dan nie haar gebede gehoor het om haar kind te bewaar nie. Uiteindelik vind sy haar weg op die pad van genesing. R180.

Die name van Jesus

Deur Fanie Naudé (CUM)

Wat beteken dit wanneer Jesus die Leeu van Juda, die Sleutel van Dawid, die Hoeksteen, die Erfgenaam en die Amen genoem word? In hierdie boek word 50 van die belangrikste en mees algemene name verduidelik wat Jesus se familie, sy dissipels, vreemdelinge, Hyself, asook sy Vader Hom genoem het. Jesus se Name vertel ons meer van sy verhouding met sy God, die Heilige Gees en veral met ons – sy kinders. Hierdie name  sal jou insig gee in die karakter van die groot Ek is, die Alles-in-een en bowenal Jesus as ons persoonlike Verlossser en Leidsman. En namate ons Hom beter leer ken, sal ons verhouding met Hom verdiep. R160.

63 Days to Optimum Health

Deur Sally-Ann Creed (Human & Rosseau)

Voel jy dikwels moeg, onder druk en nie so gesond as wat jy moet nie? Slaap jy sleg en eet jy ongesond? Met hierdie boek help die bekende voedingskundige terapeut, Sally-Ann Creed, lesers om nuwe gewoontes te vorm om binne 63 dae ‘n nuwe jy te kan word. Deur die regte keuses te maak, kan jy jou energievlakke verhoog en jou gesondheid op die lang duur verbeter. Daar word gekyk na die gesondheid van die spysverteringstelsel, sogenaamde super-kosse wat immuniteit bevorder en die liggaam voed en bestaande kosmites. Die boek sluit ook resepte in vir gesonde disse vir die hele gesin. R300.

Lysies vir die lewe vir Ma’s

CUM Christlike Uitgewersmaatskappy

Dié boekie sal alle ma’s inspireer en met vreugde vul! Die pragtig ontwerpte boekie bied 101 kort en praktiese lysies, joernaal-idees, teksverse, gebede en aanhalings om ma’s te bemoedig soos hulle hulle daaglikse take afhandel. Temas sluit in slim tydbesteding, gebede vir jou kinders, dankbaarheid, vriendelike woorde en om jou lewe te vereenvoudig. Die ideale Moedersdaggeskenk vir Ma. R180.

2019-04-30T18:57:43+00:00