Lééf mooi

Hoop in ‘n fles

Deur Christine Ferreira | Foto’s Pexels & verskaf

Werk teen verouderingsprodukte regtig? Voortdurende navorsing bewys dat sommige rome en serums wel die vel jeugdiger en gesonder kan laat lyk.

Wat veroorsaak veroudering van die vel?

As dit kom by veroudering van die vel, onderskei dermatoloë tussen die intrinsieke tekens van veroudering en foto-veroudering (veroudering wat deur die son veroorsaak word). Namate ons ouer word, verloor die vel sy fermheid en maak lyne en plooie hul verskyning. Die vel raak dowwer en die veltonus vaal en oneweredig. Met die verloop van tyd verstadig die pas van selvernuwing, neem die vel se vermoë af om homself te beskerm en te herstel en maak bloedvaatjies nie meer so maklik oop en toe nie (dit beïnvloed die regulering van die veltemperatuur en die vloei van suurstof na die selle).

Volgens sommige dermatoloë het ons min beheer oor die agteruitgang van dié funksies. Daarom is hulle taamlik skepties oor die gebruik van room of salf, die verouderingsproses teen te werk. Hule is wel van mening dat die gebruik van vitamien A of ook bekend as retinol in teenverouderingsprodukte wel ‘n verjongende uitwerking op die vel kan hê. Verdere faktore, soos jou genetiese samestelling, sonlig, rook en besoedeling, onderliggende kwale, swaartekrag en die werking van die spiere dra ook by tot die veroudering van die vel.

Vir dié van ons wat hoop om op ons oudag met ‘n gesonde en mooi vel te spog, skep dit maar ‘n mistroostige prentjie. Skoonheidshuise, daarenteen, wil ons laat glo dat die regte produkte tog ‘n verskil aan die voorkoms en verouderingstempo van die vel kan maak.

Hoe nou? Kan ons skoonheidsterapeute, konsultante en glansryke advertensies glo, of moet ons maar die nare werklikheid van ‘n moeë, dowwe en plooierige vel met die ouderdom aanvaar? (Oor een aspek word daar wel saamgestem: die son veroorsaak tot 90% van veroudering by die vel.)

Skoonheid deur navorsing

Navorsing en toetsresultate is die instrumente wat deur skoonheidshuise gebruik word om seekere aansprake oor teenverouderingsprodukte te staaf. Toesighoudende instansies vereis internasionaal dat produkte deeglik getoets word voordat enige aansprake gemaak mag word. Skoonheidsmiddels begeef hul deesdae al hoe meer op die gebied van die kosmeseutika (‘n kombinasie van kosmetiese en farmaseutiese eienskappe in ‘n enkele produk). Die gaping tussen wat dermatoloë glo en voorskryf en wat skoonheidsterapeute bevorder, word al hoe kleiner.

Kosmetiese produkte bevat vandag, danksy intensiewe en gevorderde wetenskaplike navorsing, al hoe meer aktiewe bestanddele, en dis nie net beperk tot die duurste produkte nie. Ook die meer bekostigbare produkte trek voordeel uit dié ontwikkeling.

Dit is egter die hoeveelheid en die gehalte van aktiewe bestanddele in ‘n produk wat dikwels die prys daarvan bepaal.

Deeglike en betroubare navorsing is die basis van enige skoonheidsproduk. Navorsing deur skoonheidshuise behels nie net die ontwikkeling van nuwe bestanddele nie, maar ook uitgebreide toetsing van nuwe produkte en middels. Gesofistikeerde elektroniese toerusting word gebruik om onder meer die vogvlakke, kleurtoon en elastisiteit van die vel, asook die diepte van plooie te meet. Ook die veiligheid van bestanddele moet deur navorsing gerugsteun word.

Kyk uit vir hierdie produkte

Drie nuwe skoonheidsreekse wat deur Suid-Afrikaanse medici en skoonheidskenners ontwikkel is, het die afgelope tyd die lig gesien.  Die produkte toon belowende resultate as dit kom by die versorging van die vel en die bekamping van veroudering. Wees gerus op die uitkyk vir GR8Skincare, Dermaclinical aesthetics en sk.in.

  • GR8Skincare is deur dr. Janine Ellenberger ontwikkel. Volgens haar moet elke bestanddeel wat in ‘n produk gebruik word, ‘n doel dien. Sy volg ‘n minder-is-meer benadering as dit kom by die hoeveelheid velsorgprodukte wat jy behoort te gebuik. Volgens haar is bestanddele soos vitamiene A en C, en pro-biotika, sleutel tot die vel se gesondheid. Dr. Ellenberger glo in eenvoudige verpakking wat nie die omgewing skade berokken nie. Die GR8Skincare-reeks bestaan slegs uit agt produkte en bevat geen skadelike bestanddele nie. Die reeks is by Dischem beskikbaar.
  • Skoonheidskenner, Debbie Wolfendale, het pas die Dermaclinical aesthetics-reeks produkte bekendgestel. Jare se ervaring het Debbie gelei tot die skep van hierdie reeks. Resultate is van die grootste belang. Daar word bo alles gefokus op die vel se gesondheid en van die mees gevorderde nuwe bestanddele word hiervoor ingespan. Die reeks is omvattend en word gebruik teen pigmentasie, sensitiwiteit en om veroudering doeltreffend te bekamp. Lees meer by dermaclinical.net.
  • sk.in is ontwikkel deur dr. Alek Nikolic, ‘n bekende Kaapse mediese estetiese praktisyn. Die reeks produkte word word as deel van ‘n velsorgprogram, wat deur dr. Nikolic ontwikkel is, ingespan om die vel so perfek as moontlik te laat lyk. Vyf serums vorm die hart van die reeks. Kragtige aktiewe bestanddele (wat slegs medies voorgeskryf kan word) word gebruik om die vel te vernuwe. Daar word ook gefokus op die versterking van die vel se buitense beskermende lagie. Lees meer by www.skiningredients.com.
2019-05-05T12:39:34+00:00