Ek deel my hart

Geroep vir die waarheid

Deur Schalk Schoombie | Foto Jacques Stander

Die akteur Frank Rautenbach (46) is ná vele avonture in die buiteland terug op eie bodem, opnuut versterk deur Christus se oorwinning.

Waar kom jou e-pos adres, Bulldozer, vandaan?

In 1992 was ek in Londen. Tydens ’n kerkdiens het ’n pastoor van die VSA oor my geprofeteer en gesê hy sien my aan die stuur van ’n stootskraper. Dat God my deur ’n proses van voorbereiding en opleiding sit en as ek my onderwerp daaraan sou ek die nasies aandurf en ontwortel, afbreek en opbou, want die Here het Sy hand op my. Wat hy nie geweet het nie, is dat my ouers en twee ouer broers my as kleuter Bulldozer genoem het, want ek het deur dinge en mense gebeur. ’n Dag voor die profesie was my stiltetyd se teksgedeelte Jeremia 1:1–10. Veral vers 10 is toepaslik: “Kyk, Ek stel jou aan oor die nasies en oor die koninkryke om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, en om te bou en te plant.”

Hoe ervaar jy Suid-Afrika ná jou tyd oorsee? 

Suid-Afrika is soveel kleiner as wat ek onthou! Ons is nog net vyf maande terug en pas nog aan. Ek dink steeds dis ’n pragtige land met tonne potensiaal. Daar is ongetwyfeld uitdagings, maar ná 11 jaar in die VSA het ek tot die slotsom gekom dat alle lande uitdagings het. Dis hoe jy die struikelblokke voor jou benader wat die verskil maak.

Jy is die ambassadeur van RoepTV. Vertel meer.

Ek is, en ook die gesig en stem van dié digitale kanaal. RoepTV is ’n wêreldwye mediaplatform wat die waarheid van Jesus Christus bedien en familievriendelike vermaak bied wat op Christelike beginsels geskoei is. RoepTV is op 1 September  verlede jaar geloods en sal toeganklik wees op enige slimtoestel. Ek speel ook die hoofrol van Pieter Brummer in Kern,’n RoepTV-fliek wat in ’n dramareeks ontwikkel word.

Die waarheid is deesdae omstrede. Hoe weet gelowiges wie om te glo?   

Jesus het ons geleer om nie te luister na wat mense sê nie, maar om te let op wat hulle doen. Kyk na die vrugte wat die boom dra, dit verklap watter soort wortel daar is. Spandeer tyd met mense, Kyk na die vrug van hul lewe en hoe hulle onder druk optree. Vra die Heilige Gees om jou te help onderskei tussen waarheid en leuen. Uit my beperkte ervarings kon ek aflei dat die mensehart, myne ingesluit, oorloop van selfbelang. En een persent leuen by 99 persent waarheid kan slegter wees as ’n volslae leuen.

Waaroor handel jou boek wat jy onlangs voltooi het?

The Vagabond (Lux Verbi) vertel van my en my vrou, Leigh, se avonture in Los Angeles, van alles wat my tot op die rand van die afgrond gedryf en my laat vra het (soos in die subtitel): “Is my lewe die moeite werd?” Dit is ’n storie van verlossing wat ek nie sien kom het nie!

Hoe het jy as jongmens van iets groters bewus geraak?

Ek was van kleins af sensitief vir alles om my. My ma het my so grootgemaak. Die idee dat daar iets meer kan wees as wat jy sien, was dus glad nie vreemd vir my nie. Liedjies in die kerk het my geraak, die mooi stemme. Ek het ’n helder herinnering van toe ek as sewejarige een keer op my oom se pa se sitrusplaas Meadows was; van die tennisbaangras voor die huis en die bloekoms rondom waardeur die son in die oopte inskyn. Ek het gedink: Daar’s iets groter, daar’s ’n God. So kon ek die Skepper in Sy Skepping ontmoet.

Waar is jy tans op jou geloofspad?

Ek het ’n liefde vir Sy Woord ontwikkel. Wat ’n wonderlike geskenk aan ons dit is! Ek lees elke dag ’n Psalm en ’n kommentaar daarop. Dit het my brood geword. Jesus sê in Markus 10 ons moet soos kinders na Hom toe kom, met ’n oop hart vol verwondering. Ek het diep bewus geraak van hoe geestelik blind ons as sondaars is en dit nie weet nie. ’n Blinde man weet hy is blind . . .

Hoe hou jy moed te midde van swaarkry?

As jy een van Jesus se dissipels was en moes aanskou hoe onregverdig Hy behandel is, hoe valse getuienis teen Hom gebring is, hoe Hy veroordeel en soos ’n misdadiger gekruisig is, sou jy kon dink dis die grootste mislukking in menseheugenis. Tog was Jesus se marteldood en opstanding die grootste oorwinning in die geskiedenis. Jesus het deur Sy lyding volkome gehoorsaam aan die Vader geword. As ons gehoorsaam word deur swaarkry, kom oorwinning. Danksy Jesus se oorwinning is ons méér as oorwinnaars. Petrus het in 1 Petrus 4 gewaarsku dat ons nie verbaas moet wees as daar struikelblokke kom nie. Dit vorm deel van ons groeiproses as gelowiges.

Jy en Leigh het hard probeer om ouers te word . . .

Kyk, elke mens het beproewings. Van 2001 tot 2004 het ons twee ongebore babas verloor, en toe nog twee in 2009 en 2010. Altesaam vier babas. Tydens ’n besoek aan die ginekoloog het ons op die monitor gesien hoe ’n kindjie se hart ophou klop. In 2009, nadat ons ’n paar jaar in Los Angeles gewoon het, het my vrou weer onverwags swanger geraak, en die ongebore kind se hart het ook gaan staan. My vrou se wyse woorde was: “Ons gaan God nie blameer nie. Ons weet nie waarom nie, maar Hy het Sy redes.” Ons het God geprys en ’n oomblik van vreugde ervaar. Ons het besluit dit gaan voortaan net ons twee wees. In diens van God kan ons ratser en vinniger beweeg.

Wat is die roeping van ’n kunstenaar in Christus?  

’n Talent is ’n gawe, iets wat jy verniet ontvang het. Tog kan dit jou arrogant maak. Jy vind jou stem as kunstenaar wanneer jou talent deur die vuur gelouter is. Dit maak jou nederig en bou karakter. Jy vind uit jy dien nie jouself nie, maar God en ander mense. Ek het sukses en teleurstelling beleef. Albei is ’n toets wat onthul wat in jou hart is en wat jy aanbid. Die skrywer Miroslav Volf stel dit so: “Man shall not live by bread alone – we have made our chief temptation into our chief goal. More bread.” Ons moet ons salwing met vrees en bewing uitwerk en die pad met Jesus loop.

2019-04-30T16:52:36+00:00