Boekuittreksel

Engele op ’n missie

Karen Kingsbury se gewilde “Engele op ’n missie”-reeks is nou in een volume beskikbaar en is ’n onvergeetlike reeks oor Goddelike ingryping en die vrese en vreugdes van ’n groep vriende uit die pen van dié gewilde skrywer.

In Waar engele wandel doen Tyler Ames – ‘n professionele bofbalspeler – ’n besering op wat sy loopbaan beëindig, en vind hy uit dat sy groot liefde Sami Dawson aanbeweeg het. Wanneer ‘n reeks wonderwerke hom lei om vriende te raak met ‘n ou dame wat aan Alzheimers ly, besef hy dat sy dalk net die antwoorde het waarna hy so desperaat op soek is.

In Dans van die engele ontmoet ons vir Mary Catherine. Sy is aangetrokke tot bofbalspeler Marcus Dillinger en werk as vrywilliger saam met haar kamermaat, Sami, by ’n plaaslike jeugsentrum. Maar alles verander toe sy verpletterende nuus van haar dokter kry wat haar toekoms onherroeplik verander.

In Onder engele-vleuels besluit Mary Catherine om na Uganda te trek en by ’n weeshuis te werk. Marcus vertrek op ‘n desperate soektog na Mary Catherine en die engele in hul midde doen alles wat hulle kan om seker te maak dat hul missie slaag.

Karen Kingsbury, USA Today- en New York Times-topverkoperskrywer, is Amerika se gewildste inspirerende romanskrywer. Daar het al meer as 50 romans uit haar pen verskyn en meer as 25 miljoen van haar boeke is reeds verkoop. Karen en haar man, Don, bly in Nashville, Tennessee.

Uittreksel

Daar is ’n eerbiedige stilte wat neerdaal toe die deelnemers hul plekke inneem.

Dit is ’n nuwe span hierdie. ’n Nuwe groep spesiaal gekose reisigers wat vandag hier byeen is om ’n oneindig belangrike stryd aan te pak. ’n Missie met verskriklik baie op die spel. Voor in die vertrek kom Orlon orent. Lig stroom byna verblindend deur die vensters maar dit lyk asof niemand dit raaksien nie.

Orlon staar na die gesigte voor hom. Hy kan hul kommer aanvoel, hul vrae, hul nuuskierigheid. Elkeen van die twintig engele wat hier vergader is, is spesiaal uitgesoek. Van al die hemel se engele, verstaan hierdie meedoënde wesens hartsake die beste.

‘Elkeen van julle is geskep vir ’n oomblik soos hierdie. Ons span het opdrag ontvang om ’n klein groepie van Adam se seuns en dogters se harte te red. Mense wat op die punt staan om geskiedenis te maak.

‘Die eerste gedeelte van ons sending het te doen met die hart en siel van ’n ongelukkige man, ’n bofbalspeler met die naam Tyler Ames, wat in Pensacola, Florida, woon. Die tweede gedeelte het te doen met ’n jong vrou van Los Angeles. Die meisie vir wie Tyler eens lief was. Haar naam is Samantha Dawson.’ Orlon glimlag ten spyte van die erns van die sending. Hy voel reeds toegeneë teenoor die twee. ‘Tyler het haar Sami genoem.’

Orlon skep eers asem voordat hy verder praat. ‘Migael het noukeurig oor al die engele nagedink en besluit dat julle – in die besonder – opgewasse is vir die opdrag wat voorlê, gereed is vir die stryd wat gevoer sal moet word.

‘Tyler en sy voormalige geliefde bevind hulle in ’n ingewikkelde situasie. Mettertyd sal ander mense ook betrokke raak. Dit gaan ’n paar sendings verg om sukses te behaal. Tydens elke sending sal ons te doen kry met ’n aantal mense op verskeie aardse plekke.’ Hy maak oogkontak met ’n hele paar engele. ‘Ons gaan ons opdrag stapsgewys aanpak en uitvoer.’

’n Ritseling trek deur die engele wat na hom sit en kyk. Dit is nie rusteloosheid nie, eerder afwagting.

‘Dwarsoor die hele aarde gaan mense voort om afstand te doen van hul geloof. Dit is niks nuuts nie.’ Orlon se hart voel swaar. ‘Maar Migael het gehoor van ’n kind wat nog nie verwek is nie, wat nog nie gebore is nie. Hierdie kind is bestem om ’n baie groot leier te wees. Danksy hom, gaan baie mense hul ingesteldheid verander en terugkeer na geloof.’

Engele weet nie wat verwarring is nie, maar die uitdrukkings op die gesigte voor hom kom baie na daaraan. Orlon tree nader. ‘Talle siele se redding hang van hierdie kind af.’

’n Paar engele knik. Ander leun vooroor, aandagtig, gefokus.

‘Tyler en Samantha is betrokke in ’n stryd waarvan hulle nie weet nie en wat hulle nie kan sien nie. ’n Stryd van ontmoediging en verydeling. ’n Stryd vir hulle siele.’ Orlon sug. ‘Om sake te vererger, het daardie twee vergeet wat hul potensiaal is. Hulle het die spoor byster geraak en as ons …’ Hy kyk versigtig in die vertrek rond. ‘As ons faal … sal die hele geskiedenis daaronder ly.’

Elke gesig in die vertrek getuig van toewyding vir die stryd.

Wat ook al gaan gebeur, Migael het reg gekies. Hulle is die regte engele vir die taak.

‘Luister mooi. Hierdie twee mense mag nie tou opgooi nie. As hulle dit doen, sal die kind wat die geskiedenis gaan verander, nooit gebore word nie. In daardie geval gaan baie mense swaarkry … en sterf.’ Hy huiwer. ‘Julle moet weet wat die kind se naam is. Hy sal Dax Garner genoem word. Bid elke dag vir hom.’

In die voorste ry steek ’n engel met die naam Beck sy hand op. Beck is die langste, sterkste engel van hulle almal. Hy het ’n donker vel en blink bruin hare en groen oë. As hy ’n mens was, sou hy maklik ’n professionele voetbalspeler kon wees.

In plaas daarvan is Beck ’n veteraan-engel wat hartsake betref. Hy skuif regop. ‘Gaan die kind hulle s’n wees? Tyler en Sami se kind?’

‘Nee.’ Orlon knip nie ’n oog nie. ‘Daardie besonderhede sal later bekendgemaak word. Migael het beklemtoon dat ons stap vir stap sal hoor wat die stryd behels.’ Hy bly ’n oomblik stil. ‘Die ure gaan verby. Ek wil hê twee van julle moet nóú op die sending vertrek. Julle sal op pad meer inligting ontvang – waarheen om te gaan, wanneer om kontak te maak.’

Beck staan van sy stoel af op. ‘Ek is bereid om te gaan.’

‘En ek.’ Ember sit agter in die vertrek. Haar lang rooiblonde hare raam haar gesig met die groot blou oë. Sy staan op en haar passie vir Adam se seuns en dogters is voelbaar. ‘Stuur my, Orlon.’

Hy staan ’n hele rukkie en dink. ‘Goed dan.’ Hy vou sy arms. ‘Beck en Ember. Ons sal julle stuur.’

Migael het vir hom gesê dit sal maklik wees om die spanne te kies. Dit is gewoonlik die geval. Daar is tallose engele op missies van die hemel na die aarde.

Beck en Ember kom vorentoe. Sonder ’n woord kom staan die ander in ’n kring om hulle en lê hul hande op die twee engele. Die gebed is kort en kragtig. Dat God se Gees met Beck en Ember sal wees, en dat twee harte iewers in Pensacola en Los Angeles van vernietiging gered sal word.

Nie net ter wille van hulself nie, maar ter wille van ’n baba wat nog nie eens gebore is nie.

Ter wille van die hele mensdom.

Orlon kyk na Beck en Ember. Hulle is gereed vir die missie, oorgehaal vir die stryd.

Dit is tyd om te begin.”

Uittreksel uit Engele op ’n missie-omnibusdeur Karen Kingsbury gepubliseer met toestemming van Struik Christian Media.

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van die Engele op ‘n missie-omnibus deur Karen Kingsbury met komplimente van Struik Christian Media wen. Stuur jou naam, straatadres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae@leef: Vraag: Noem een van die boeke uit die Engele op ‘n missie-reeks. Sluitingsdatum: 31 Mei 2019.
2019-04-30T18:40:39+00:00