Foto’s Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

Die grootste vyand van elke dag se carpe-diem-lewe is nie ons onvolmaaktheid nie, maar die druk wat ons op onsself sit om perfek te wees!

Ek wonder waar ons aan die idee kom dat ons perfek moet wees: dat ons kreukelvrye mense moet wees wat altyd perfek gewas en plooivry gestyf is? Dalk kom dit van iewers uit ons stootkarretjie-dae toe ons ouers sekere standaarde van ons verwag het. (Of ons gedink het hulle verwag dit). Miskien is dit die onrealistiese prentjies wat die mediawêreld optower of terugvoering wat ons van mense ontvang het. Dit mag wees dat sommige mense se intimiderende geaardhede ons sommer net soos wurms laat voel. Maar dalk … is ons eintlik ons eie grootste vyand en verwag ons eenvoudig te veel van onsself en is dit ons eie onrealistiese standaarde wat minderwaardigheid, onvergenoegdheid en onsekerheid in ons laat nesmaak.

Hoe onnodig kasty ons onsself in die strewe na perfektheid. Terwyl die Vader eintlik net vra dat ons in afhanklikheid saam met Hom sal stap, sal doen wat Hy vra en die res dan in Sy hande sal los. Want Hy werk juis met en deur onperfekte mense wat bewus is van hul swakhede maar op hul knieë Sy genade ontvang. En die wonder is dat ons Here juis ons onvolmaaktheid en gebrokenheid kan gebruik omdat Sy lig deur die gate in ons mondering kan skyn.

John Ortberg se woorde: “Everybody is normal until you get to know them”, het my maar net weer laat besef dat ons maar regtig kan onthou dat ons almal iewers ’n swakheid het. Party van ons steek dit net beter as ander weg.

Ons is almal maar net gekreukelde stukkende stukke lap in ons Vader se volmaakte hande. Tog kry Hy dit reg om van elkeen van ons purper-gekleede mense te maak. Kom ons hou aan hierdie waarheid vas en leef elke dag met groter vreugde: ook oor ons onperfektheid.

Lappies-mens
Grote Skepper
Ek dink ek maak myself en U ongelukkig
omdat ek so hard probeer
om iets te wees wat ek nie is nie.
Iets te wees wat U nie van my verwag nie.
Help my om my eie gebrokenheid
in die oë te kyk
Maar dit dan daarna vir U te gee.
U wat lappies stukke mense
soomvry aan mekaar kan werk
en kragtig kan gebruik.
Omdat U ons lief het:
Stukkend en al.

Kies wie jy is. Kies vreugde.

Hulle is die hele Bybel vol! Stukkende mense wat droogmaak. Mense wat keer op keer val, God verloën, foute maak, ander seermaak … weer en weer. Dink maar aan die kwaad word van Moses, die weghardloop van Jona, Jakob se skelm streke, Dawid se owerspel en moord, Petrus wat Jesus openlik verloën, Saulus wat aanvanklik Christene doodgemaak het … kreukelmense wat reguit deur God se genade gestryk is.

Sien af van die idee dat jy perfek hoef te wees. En geniet net die mens wat God jou gemaak het; wat jy ís. Wat jy deur genade in Hom is en kan word. Kies dan aanvaarding, selfvergifnis, liefde en veral vreugde om weer in jou hart te kom woon.

Boodskap:

Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. 2 Korintiërs 4:7

2019-04-02T19:17:10+00:00