Boekuittreksel

Sara

Deur Maretha Maartens

Tien dae lank praat Sara nou al met God, die Almagtige. Hiervoor het sy haar donkie opgesaal nadat Abraham met hulle enigste kind, twee slawe en ‘n bondel vuurmaakhout op ‘n pakdonkie in die verte verdwyn het. Met die sluier oor haar gesig is sy vrou-alleen by almal in die kamp verby, die woestyn in. Sy, wat so bang is vir die giftige slange en skerpioene van die Negev, het die groot skerpioen naby haar skaars raakgesien toe sy op die grond neerval en na haar onsigbare God begin roep: “Nou is ek soos Hagar, El Roi, God wat my sien! Antwoord my: Is U dan soos Sin, die maangod? Eis U dieselfde offers van dié wat U dien as die gode van die Sumeriërs en die Hetiete?

Uittreksel

“Ek het weer teruggeval, Rahel. Dit is soos ’n opdraand. Ek klim, dan val ek terug. Dan bevind ek my weer in die nag tussen die negentiende en twintigste dag van Lente. Later val ek verder terug, tot diep in verre nagte.

’n Paar Amoriete het raserig ingekom. Die vrou het ’n baba in haar arms gehad, die man ’n seuntjie aan die arm, met drie ander wat agternakom. ’n Gesin, het Sara gedink. Hulle lywe het in die lig van die olielampie geblink. Was dit van olie, van vuurbrand, van ekstase? Die kleinste van die seuns het ongeërg links van haar kom lê, so na aan haar soos ’n eie kind of kleinkind. Hy het in die smal ruimte ingepas.

Sy het die aankomelinge, die man en vrou, geruik. Ek ruik mens. Ek ruik die dade wat mense voor die afgode doen, die bandelose godloënaars wat mense in die teenwoordigheid van die Baäls word. Abraham, jy is weg met die mes, die vuur en ons seun, en ek lê omring van die wese van die Baäls.

Teen die voordag het die baba gehuil. Sy ma het orent gekom en hom gevoed. Hy kon nie vinnig genoeg sluk nie. Dit het geklink asof hy in melk verdrink, asof hy sy ma insluk. Die jong vrou het kastig met hom geraas.

Hy het ’n oomblik lank opgehou drink. Moedersmelk het uit die hoek van sy mondjie geloop. Hy het ’n dik, romerige geluid agter in sy keel gemaak en geskop, net so verruk oor haar as oor haar melk. Die vrou het gebuk en haar kind op sy kop, diep en innig tussen sy lokke in gesoen.

Ek en Isak, het Sara gedink. Ek en hy, met die winterkoue buite, die swaar nagreën van Lente op die swart bokvelle van die tent, alles toe en veilig.

Ek het Isak nie sit en voed nie, nie snags nie. “Mevrou moet dit vir Mevrou maklik maak,” het Rahel een oggend toe sy gekla het, strammerig vir haar gesê. “Vat hom so in die waai van Mevrou se arm, laat hom lê en drink.”

“Jy gee goeie raad, Rahel. En weet jy wat? Dit lyk vir my asof hy van die geluid van die reën hou. Hy draai sy koppie; dit lyk of hy luister.”

O, gesels tog weer soos ná die eerste versoening met my, Rahel? Is vergifnis dan nie iets wat nooit weer omgekeer kan word nie? Laat nuwe gebeurtenisse die aarde om die graf waarin die bitterheid van vroeër begrawe is dan tog maar weer inval soos ’n sinkgat in kalksteenaarde?

“Partykeer maak hy geluidjies, so saam met die geluid van die reën op die bokseil, Rahel.”

“As hulle doof gebore word, draai hulle nie hulle koppe só nie, Mevrou. Ek het van die begin af geweet daar is iets met Idra van Gasael en Tamâm verkeerd. Sy het net vir Tamâm gekyk. So, Mevrou weet nou Isak het nie foute aan hom nie.”

Só het Rahel dit gesê, so klankloos stram, want die graf waarin haar en haar gesin se bitterheid begrawe is, het met Isak se geboorte oopgegaan. Die bitterheid het nie ontbind nie. Dit was gebalsem, soos die mummies van Egipte. Dit was gebalsemde bitterheid. Toe hulle almal saam van Hebron af getrek het, eers Gerar toe, daarna na Berseba, het Rahel die bitterheid saamgebring.

Hoe verskeur tussen vreugde en bitterheid was Sara binnekant, daardie jaar. Isak het oopoog geluister hoe die water van die tent af veld toe stroom. Nooit het daar eens ’n druppel op hom geval nie. Swartbokhaar begin immers reeds met die eerste swaar plofdruppels uitdy. Die reën maak dit waterdig, soos die somerhitte en -droogte dit laat krimp en elke koel briesie deurlaat.

Daardie winternagte van Lente by Berseba, daardie heilige tye met Isak in haar arm, sy donkerbruin oë wat bly kyk asof hy hom aan haar verwonder, asof hy haar stem soos musiek geniet.

Wat het sy nie alles vir hom gefluister nie. Soos ’n ma van vyftien het sy met hom gepraat, gekorswel: “Weet jy dat jou ma ongehoord oud is, my dierbaarste?”

Dit was in een so ’n heilige nag dat hy die eerste keer die vel van haar hand gevat en dit vasgeknyp het. ’n Oomblik lank het hy die gevoel bepeins, want so was hy van die begin af – ’n bedinker, ’n bepeinser. So verskillend van Ismael soos Somer van Winter. Hy het sy kop gedraai en half verras na die los vel tussen sy vingertjies gekyk. Toe het hy verruk gelag.

***

Die Amoritiese man aan die ander kant van die jong vrou het skielik omgerol, iets vir haar geprewel, sy arm uit gesteek en sy hand op haar regterbors geplaas.

Genoeg innigheid met die kleintjie: ek is hier, ek wag.

Die jong vrou het hom van haar af probeer wegstoot, maar hy het haar eenvoudig aan die skouer beetgekry en haar na hom toe gepluk. Sara het haar oë gesluit en gemaak asof sy slaap. Maar sy kon dit nie lank volhou nie. Kort voor dagbreek, die tyd wanneer die hart op sy swakste klop, bose geeste skree en die doodsengel loop, het sy haar hart swakker voel klop.

Bose geeste het vir haar geskree dat Abraham Isak reeds op ’n altaar hoog op ’n berg aan El Shaddai geoffer het, soos die Kanaäniete hulle eersgeborenes vir Molog.

Sy het saam met die bose geeste begin skree en daar was skielik weer vroue om haar: ’n paar jonges en die ou vrou wat haar gedurende die nag versorg het, die groot, bonkige mens met die hoekige gesig en die skouers waarop sy in haar jeug ’n donkievul sou kon dra.

Een van die vroue het ’n kruikie met putwater teen Sara se lippe gehou: “Mû.” Water. Amoriete – hoe ontaard ook al – gebruik nog steeds dié woord in die taal van die Sumeriërs. Dit is wat die handelaars, die slawe wat die donkies en kamele versorg, elke Sumeriër wat deur hierdie streke na Egipte reis, heel eerste vra wanneer hulle by die waterputte van Kirjat-Arba aankom.

“Mû, Ummu- šību.” Water, moeder-wat-oud-is. Water is lewe. Dit weet hulle, dit weet sy. Sy moes die water probeer drink, maar sy kon skaars sluk.

Haar hart was in beroering in haar.”

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van Sara deur Maretha Maartens met komplimente van Lux Verbi wen. Stuur jou naam, straatadres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae@leef: Vraag: Wat is die naam van Sara se seun? Sluitingsdatum: 30 April 2019.
2019-03-30T21:19:14+00:00