Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Die verevrou

Deur Jan van Tonder (Human & Rousseau)

Liora word groot op ‘n volstruisplaas in Algerië, naby die Sahara. Sy is omring deur mense wat lief is vir haar, Maman en haar tante, oom Moshe, en haar pa, wanneer hy in die rondte is. Van kleins af bring sy tyd deur in haar tante se pluimery, ‘n magiese omgewing waar volstruisvere omskep word in kostuums vir die filmbedryf en die verhoë van Parys. Maar Liora loop haar telkens in grense vas wat sy moet oor. En in Algerië broei onrus. Eers verhuis sy na die oorloggeteisterde Algiers waar sy leer om dokter te word, maar dan word sy gedwing om inderhaas landuit te vlug. Parys toe. Jare later kom Liora, steeds verwonderd oor die skoonheid van volstruisvere, in die Klein-Karoo aan om oom Moshe te besoek. Hier ontmoet sy Candice, ook behep met volstruisvere, ‘n priester, ‘n kunstenares en ander Kannalanders. Haar lewe word opnuut omgedop, en weer eens lê daar ‘n grens voor haar – en sy moet besluit of sy dit sal oorsteek. R295.

The Pianis of Yarmouk

Deur Aeham Ahmad (Random House)

Vroegoggend aan die buitewyke van Damaskus, stap twee honger vriende deur die verlate stad tot by ‘n bekende straat wat in puin lê. Aeham wend hom tot die enigste ding wat vir hom troos bring en stoot sy klavier tot in die straat om ‘n lied van hoop vir sy mede-Siriërs te speel. Dié lied reik ver buite die grense van sy tuisbuurt en dra gevolge ver bo wat hy oor kon droom of verwag. In hierdie boek word Aeham se wederverwaringe poëties en met deernis weergegee. Van die verlies van vriende, familie en ‘n stad, tot waar hy sy land moet verlaat en elders vrede vind. ‘n Pragtige portret van ‘n man se soeke na vertroosting en van ‘n land wat wreed vernietig is. Aeham Ahmad is in 1988 in Yarmouk, ‘n voorstad van Damaskus, gebore. Vandag woon hy in Wiesbaden, Duitsland en gee hy musiekkonserte regoor Europa. In Desember 2105 ontvang hy die Internasionale Beethoven-prys vir menseregte. R320.

Bloedlelie

Deur Jeanette Ferreira (Lapa)

In die somer van 1838 vertrek die Voortrekkerleier Piet Retief en sowat honderd man na die Zoeloekoning Dingaan om oor grond vir die trekkers te onderhandel. In die laer by Doornkop wag sy vrou Magdalena op hulle terugkeer. Byna honderd en tagtig jaar later gaan Hanna en haar man op soek na wat ook al Magdalena nagelaat het. Vroeg-vroeg in hierdie soektog loop Hanna haar vas in ‘n plaasmoord waarvoor sy nie antwoorde het nie. En Retief se vrou was ‘n gewone mens, haar spore verdwyn telkens soos ‘n kwartel in kreupelbos. Geskiedenis is ‘n storie wat elke mens anders kan vertel en niks is soos dit vir ons lyk nie. Al wat ons het, is vandag. Op prinse sal die mens nie vertrou nie. Bloedlelieis ’n verwikkelde, literêre roman en speel op twee vlakke af: die hede en verlede. In die hede ervaar die leser gesprekke en hofsake oor grondeise. In die verlede soek die Voortrekkers grond. Die afwisseling bring ’n eiesoortige dinamika na dié roman. R295.

Suurlemoenseisoen Herbou jou lewe in 52 weke

Deur Amanda de Lange (Lux Verbi)

Die suurlemoen is een van die mees veelsydige vrugte in die natuur en kan ingespan word vir reiniging, genesing, skoonheid en geursel in kos. Dié boek bevat 52 werkstukke wat ontwerp is om die suur van die lewe te neem en dit te verander in iets soets. Die skrywer help die leser om anders na hul lewe en omstandighede te kyk en te begin dink in terme van die liefde en die goedheid van God as ‘n Vader, Verlosser en Vertrooster. Om te besef dat daar in Hom altyd ‘n oplossing is vir selfs die suurste suur wat die lewe kan opdis. R160.

Ons raaiselpad met Alzheimer-siekte

Deur Elise Nel (Lux Verbi)

Elise se eens briljante man raak aggressief en vergeetagtig, en tree heeltemal anders op as wat sy hom ken. Sy het ‘n vae vermoede wat skort, maar uiteindelik word haar ergste vrese bewaarheid: haar geliefde man het Alzheimer se siekte. Hy vra haar in ‘n oomblik van helderheid om tot die einde na hom om te sien, wat sy doen. Elise vertel hierdie intieme en aangrypende verhaal met deernis vir haar man en elke persoon wat aan alzheimers ly. Sy gee ook praktiese raad vir die versorgers van mense met alzheimers en tekens waarna ‘n mens moet oplet. R200.

Kanker Schmanker

Deur Madelein Rust (Lapa)

Die naam Madelein Rust is baie bekend onder lesers van misdaadfiksie. In hierdie boek pak sy ‘n moordenaar van ‘n ander aard: kanker. Madelein deel die intiemste besonderhede van haar reis met borskanker. Dit is ‘n brutaal eerlike vertelling oor haar lewe met die siekte; patos en humor loop saam-saam deur hierdie oek. Dit is ‘n boek van hoop en triomf wat die leser hardop laat huil én laat lag. Dis ‘n verhaal vir elkeen wat ‘n stryd van enige aard stry. Meer nog, die boek rus borskankerstryders toe met inligting wat nie geredelik beskikbaar is nie en help ook hul geliefdes om die reis met kanker beter te verstaan. Alle inkomste wat die skrywer uit die boek verkry, word aan mense geskenk wat hulp tydens of ná hulle stryd met kanker nodig het. R245.

Restart you heart

Deur Jentezen Franklin CUM)

Topverkoper-outeur en bekende pastoor Jentezen Franklin neem die leser met sy nuwe boek op ’n lewensveranderende reis na versoening en genesing wat oor 21 dae strek. Die leser word gehelp om seerkry en bitterheid agter te laat en liefde en vergewingsgesindheid in plek daarvan te kies om uiteindelik die vreugde wat Christus bied, te ervaar. Soms voel dit asof die pynlike gebeure en omstandighede uit die verlede jou hart steeds elke dag in stukke breek, al besef jy jy moet iets daaromtrent doen. Hierdie boek help jou om te hoor hoe God vir jou sê: “Dit is nou die tyd!” en Hom dan toe te laat om in jou lewe te begin werk en jou gesond te maak. R140.

Two weeks

Deur Karin Kingsbury (CUM)

Dié splinternuwe hartroerende roman is deel van die Baxter-familiereeks. Dit vertel enersyds die verhaal van ’n paartjie wat opgewonde wag om hul aangenome kind huis toe te bring, en andersyds die verhaal ’n jong ma wat die grootste besluit ooit in haar lewe moet neem. Cole Blake gaan oor ’n paar maande universiteit toe om medies te studeer. Maar net voor die laaste paar weke van hoërskool aanbreek, ontmoet hy Elise, ’n geheimsinnige nuwe meisie in die skool. Cole stel dadelik in haar belang, maar Elize probeer baie hard om van haar wilde verlede te ontsnap en haarself weer te vind. Dan vind sy uit sy is swanger en deel haar hartseer geheim met Cole. Cole is egter vir die eerste keer in sy lewe werklik op iemand verlief en is vasbeslote om Elize te ondersteun, al beteken dit dat hy nie universiteit toe sal kan gaan nie en vir iemand anders se baba moet sorg. Elize besluit egter om die baba te laat aanneem en kruis haar paaie met die kinderlose egpaar. ‘n Pragtige verhaal oor liefde, geloof en wat dit werklik beteken om ’n familie te wees. R280.

2019-04-08T09:54:33+00:00