‘n Kwessie van geloof

Om op God te wag

Deur Stephan Joubert | Foto Hanneri de Wet

Om geduldig op God te wag is een van die grootste geloofslesse wat ons vandag by Habakuk kan leer.

God se nabyheid maak vrees bang

Mense wat sê die ou dae was beter as vandag, het nie onlangs self daar geleef nie. Dit is hoekom Prediker 7:10 skryf dat ons nie moet sê die ou dae was beter as nou nie, want dit is nie die slimste ding ooit om kwyt te raak nie. Hierdie woorde is ewe waar van dié wat sê elders is altyd beter as hier.

Die lewe gebeur hier. Boonop gebeur dit vandag reeds. Lewe is nie ’n eendag-op-’n-reëndag aangeleentheid wat elders afspeel nie. Hebreërs 3 en 4 leer ons dat God ook in die teenwoordige tyd aanwesig is – hiér en nóú, met ander woorde. Omdat Hy hier is, is hoop ook hier. Hoop is nie iets abstraks nie. Ons hoop nie maar net op beter dae, of op ’n vinnige gebedsverhoring, soos wat Habakuk dalk nog in hoofstuk 1 van sy profetiese boek gedoen het nie.

Die Here is die oorsprong van alle hoop. Sy blote teenwoordigheid maak vrees bang. Dit laat wanhoop op die vlug slaan.

Maar ons geloofsoog moet wawyd oop wees. Goor emosies neem die wyk wanneer ons bewus raak van die Here se oorweldigende nabyheid. Dan kom ons bonsende harte tot rus. Dan word vandag leefbaar. Wanneer God se gerusstellende woorde in ons ore weerklink, wil ons nie meer na ander tydsones emigreer nie. Ons weet dan die Here verander ons paar snytjies brood hier en nou in feeskos. Hy laat ons bekertjies oorloop van geluk. Dan is sy genade vir ons genoeg. Habakuk leer immers die les van sy lewe wat hom persoonlik laat verskuif vanaf “God is nêrens” na “om op God te wag, is die antwoord”.

In wag is daar krag

Habakuk tree op as profeet wanneer die magtige en gevaarlike Babiloniërs op die toneel verskyn. In sy tyd wen korrupsie, geweld en onreg om elke hoek en draai. In hierdie tyd moet Habakuk eintlik profeteer, maar hy is so ontsteld dat hy eerder vir God gaan vertel dat Hy nêrens te sien is nie. Habakuk is ’n omgesukkelde profeet. Hy kan die Babiloniërs se bedreiging van Jerusalem nie uitstaan nie; ook nie wanneer die mense van Juda hulle respek vir God se wet verloor nie. Om dit alles te kroon, worstel Habakuk met sy eie wankelende geloof. Hy kan God nêrens opspoor tussen hierdie chaos nie. Maar dan doen hy in hoofstuk 2:1 ’n goeie ding. Hy rig vir homself ’n geestelike wagtoring op en begin wag op die Here. Hoor net: “Soos ’n wag op sy wagpos sal ek regstaan om te hoor wat die Here vir my te sê het en wat Hy met my klagte gaan maak” (Hab. 2:1).

“Die antwoord is om te wag op die Here” Habakuk 2:1

Van wag gepraat …

“Hierso, ek sien jy lyk of jy lus is vir een.” Toe bied die ou in die tou by die poskantoor vir my een van die lekkers in sy pakkie aan. Almal was teen daardie tyd geïrriteerd, want die tou was lank en daar was net een dame aan diens. Die gebruiklike klagtes het oral opgeklink oor hoe vrot diens deesdae is. Mense verander mos gou in “nuwe mense” as hulle wag op diens. Nee, nie in die Bybelse sin van die woord nie. In elk geval, terwyl ek ’n boek lees, wat ek altyd saamvat as ek moet tou staan, druk hierdie persoon aan my rug en hou sy pakkie lekkers na my toe uit. Toe wou hy weet wat ek lees. “’n Boek oor die Here se genade,” vertel ek. “Ek glo ook in die Here en leef dit daar in die ‘township’,” sê hy met vreugde in sy stem. Toe gesels ons ʼn paar minute soos ou vriende. Jesus se familiebande is dikker as aardse bloed. Daar in die tou beleef ek dit opnuut. Jesus is oral, ook as ’n mens moet wag.

Maar nou ja, toe ek nou die dag iewers ’n advertensie sien wat sê die menslike gees is nie vir toustaan gemaak nie, dink ek by myself dit geld van ons lywe ook. Luister gerus na die gemiddelde toustaner, dan hoor jy klagtes oor die toestand in die land, en wat nog alles. Nogtans is wag ’n normale deel van ons elkeen se lewe. Ons wag op byeenkomste om te begin; ons wag op diens; ons wag op mekaar; ons wag op beter dae

En dit frustreer baie mense. Hoe dan gemaak met die Here se opdrag in die Bybel dat ons op Hom moet wag? En op Habakuk se woorde hier in hoofstuk 2:1 dat hy vir homself ’n wagmuur gebou het om op die Here te wag? Wel, die punt van reg wag is dat ons nooit op dinge uit die Here se hand wag nie; ons wag op Hom. Sy teenwoordigheid is meer as genoeg; dit is die lewe self. Om op die Here te wag, is ’n lewenslange opdrag. Ons is lewenslank gefokus op sy eer. Al wagtende word ons omvorm tot goeie weerkaatsers van God se hemelse genade.

Jy wag immers op God, nie op dinge en antwoorde nie

Dit is nie tydmors om op die Here te wag nie

Om op iets of iemand te wag, is gewoonlik dooie tyd, of selfs tyd mors. Dis daardie nuttelose stukkie tyd vanaf doer agter in die ry tot heel voor. Of totdat die verkeer op die snelweg weer begin beweeg in spitstyd. Of tot die werksgeleentheid waarop ons wag skielik oor ons pad kom. Wag is nie bedoel vir haastige mense wat dinge eintlik al gister wou gehad het nie. Tog praat die Bybel dikwels van wag. Psalm 130 roep ons almal op om te wag op die Here. Soos wat die wagte op die ou stadsmure op die oggend gewag het, so moet ons die Here inwag.

Om op Hom te wag, is nie in die eerste plek om op dinge te wag nie. Dit is om op die lewende God self te wag. Dis om in sy teenwoordigheid in te kom. En daar te bly. Om op die Here te wag, is ’n oefening in geloofsvorming en gebedsgroei. Dit vra dat jy al hoe meer in pas moet kom met God se wil. Jy doen dit lewenslank. Jy begin elke oggend wag as elke nuwe dag aanbreek. Jaarin en jaaruit. Van die oggend tot die aand leer jy om jou wil ondergeskik te stel aan Syne; om jou horlosie in pas te bring met die hemelse uurglas. Jy hou nooit op met wag as jy ernstig is oor jou geloof in God nie. Dit is ’n normale deel van jou gebedslewe. Om op Hom te wag, vra dat jy jou program, jou dagboek, jou drome en jou ideale ondergeskik stel aan God s’n. Dit vra ’n leefstyl waar jy alles van Hom verwag en op die uitkyk bly totdat Hy jou genadig is.

Hoe wag jy effektief op die Here? Wel, een ding is seker: jy staan nooit agter in die ry as jy op God wag nie. Jy wag heel voor. Want by die Here is daar nooit ’n ry nie. Daar is nooit ander belangriker sake op sy agenda as jy self wat opreg by sy hemelse deur opdaag nie. Want by die Koning van die heelal is die heel kleinste dingetjie belangrik. Hy maak selfs tyd om die hare op jou kop een vir een te tel. Daarom staan jy heel voor in die ry as jy op die Here wag. Jy klop direk aan die hemelse deur. En as jy bereid is om presies daar te wag, hou jy aan met klop totdat Hy self die deur oopmaak. Want die goeie nuus is, as jy in die Naam van Jesus Christus aanklop, is daar altyd ’n antwoord. Ja, partykeer klop jy langer, ander kere korter. Maar die hemelse deur word altyd oopgemaak vir elkeen wat ’n afspraak het met die Allerhoogste, vir mense wat die moed het om te wag totdat Hy oopmaak. Jy wag immers op God, nie op dinge en antwoorde nie.

Om te wag bring geestelike seën

Vir alle gelowiges wat aanhoudend oefen om op God te wag, is daar groot geestelike seën in. Hulle is mense wat God se vrede ervaar. God se vrede is sy geskenk aan alle wagtendes. En sy krag ook, soos Habakuk tydens fase twee van sy gebedsreis begin ervaar. Die hemel gaan oop oor almal wat op God wag. Sulke mense word kragbronne waardeur die Allerhoogste se genade en liefde in hierdie stukkende wêreld van ons invloei. Mense wat op God wag, is ook nederige mense; mense wat geleer het om laag voor Hom te buig. Om op Hom te wag, is nooit tydmors nie – dit is juis die mees produktiewe geestelike oefening wat jy ooit kan doen. Dis om jouself in te stel om met die belangrikste Persoon in die ganse heelal in kontak te kom. Om te wag, is die lewe self!

Wag verander ons karakter. Wag verbeter ons sig. Wag maak ons stil en vredevol in ons binneste. Wag is om saam met Habakuk God se stem te hoor wat die hele aarde oproep om stil te wees voor Hom, want Hy is in sy heilige tempel (Hab. 2:20). In wag is daar groot krag, mits ons op die Here wag. Nogmaals, ons wag nie op diens of antwoorde nie, ons wag op God. Hy is die antwoord. Hy is die deurbraak. Hy is die op los sing. Sy teenwoordigheid is meer as genoeg. Ons wag op Hom. Ons wag totdat ons oog verskuif vanaf ons eie behoeftes na God self. Ons wag tot ons rustelose harte tot rus kom en ons bevreesde gemoed kalm raak. Om te wag op die Here gebeur lewenslank. Om op Hom te wag, is om diep in ons binneste stil te word voor God. Dis om tot vrede te kom met Hom en met onsself. Dit is om hemelse rus in ons gebede te vind hier op aarde. Dit is om te weet God self is die enigste antwoord!

2019-03-30T21:06:15+00:00