My hart verlang na Jerusalem. ‘n Helder herinnering kom na my toe terug. Midde winter in Jerusalem en soos gewoonlik het ek weer te veel boeke gekoop sodat ek moedverlore trag beplan hoe ek met my bagasie by die 20kg-grens gaan verbykom. Ek pak en herpak my tas, ek oorlaai my handsak met wat ek nog daarin kan kry. Maar die boeke bly luidkeels uit die tas praat. Ek bid en kners op my tande, maar ek weet ek is steeds heelwat oorgewig. Tog hoor ek mettertyd die Here met my praat: “Dit sal goed gaan,” sê Hy. Ek word rustiger.

Maar toe die sherut bergaf spoed vat Tel Aviv toe, kom die koue vrees terug. Ek het geen geld om vir oorgewig te betaal nie. Ek voel paniek my keel toedruk. En toe sien ek dit! Langs die pad staan ‘n ry amandelbome spierwit soos bruide in die Januarie-reën. Altyd verreweg eerste van Israel se bome wat bloei. En in my hart hoor ek weer die Geliefde se stem, en ek word herinner aan Jeremia 1 waar die Here vir die profeet vra: “Wat sien jy, Jeremia?” en hy antwoord; “Ek sien ‘n amandeltak.” Toe sê die Here vir hom: “Jy het goed gesien, want Ek is wakker oor my woord om dit te volbring.”

Ek onthou nog hoe my oë vol trane geskiet het. En inderdaad Air France is meer as genadig. Selfs my handbagasie kan ook ingehandig word! Ja, al pak ek dit vol boeke. Ek dans al die pad na waar ek vir my vlug moet wag. Die grootheid en liefde van my Vader oorweldig my.

Gister skemer toe ek oor die stad uitkyk waar Leeukop stadig rosig word, is dit nie oor die amandelboom wat ek dink nie. Dis die verskriklike dinge wat in my eie land en oor die wêreld gebeur wat my gedagtes besig hou. In elke moontlike land vlam opstand en geweld en haat, politici het veel te sê en gryp benoud in die lug, maar voer niks uit nie. Enorme berade word gereël, noodvergaderings belê, maar al die ure se beraadslaging verdwyn soos water in die sand. In eie land vier misdaad en geweld en moord hoogty. Om nie te praat van bedrog en diefstal nie. Die land lê plat en haal skaars asem onder die erfenis van die bose staatskaping.

In my benoudheid roep ek na die Here. “Praat met my!” pleit ek. Teen die berg begin die stadsliggies wink. “Asseblief!” Aanvanklik is daar net stilte. Maar toe verskyn daar in my gedagtes die beeld van ‘n vyeboom. En ek dink daaraan dat dit die tyd is wat die vyeboom in Israel begin bloei. Klein en kliphard is die vruggies nog. Tog proe ek die soetheid van ‘n ryp vy in my mond. Ruik ek die geurige skil.

“Wat sê U vir my?”

Geleidelik daag begrip by my. Wat het Yeshua oor sy terugkoms gesê? “Dié wat die vyeboom sien bloei. . . ”

En hóé bloei die vyeboom  met die stigting van die Staat van Israel in 1948 tog nie! 71 jaar al. Ja, die land word van alle kante beleër en deur die ganse wêreld verwerp.

Maar Yeshua het gesê: “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan totdat al hierdie dinge gebeur het nie.

Op U aangewese tyd, O Adonai!

2019-02-28T21:37:01+00:00