Kuier by

Bella se vreugdes

Deur Dawid Yzelle | Foto’s Francois Pretorius

Isabella Niehaus is ‘n vrou met ‘n oog vir die mooi en glo daarin om die vreugdes van die lewe met ander te deel.

Die golwe breek altyd reguit hier, sê Isabella Niehaus, en kyk uit oor die see by Langebaan wat lek aan die duin waarop haar huis gebou is.

Sy sal weet, want aan die woord is ’n vrou met ’n oog vir detail: Sy het immers naam gemaak as skoonheids- en moderedakteur, het haar eie kunsgalery bedryf, en hier langs die blou water bied sy fotografiewerksessies aan en bring mense saam om haar rooi langtafel waar daar kreatief rondom kos gekuier word.

“Water smokkel met my kop. As ek hartseer is, spoel dit die hartseer weg. As ek kwaad is, kalmeer dit my.”

Ná jare se pendel tussen die Moederstad en haar grys minimalistiese huis op die duin het Isabella (63), of Bella soos haar vele vriende haar noem, besluit dit is nie meer ’n opsie nie. En, vertel sy, die dag toe sy daardie tafel rooi geverf het, het die gestroopte plek wat 14 jaar gelede gebou is om ’n fotografie-ateljee te vestig, werklik huis geword. ’n Veilige hawe met kuns teen die mure, ’n eklektiese versameling kleurryke meubels, boeke en tydskrifte wat in hopies op die ligdeurdrenkte trap opgestapel staan, en ’n kombuis waar daar kennelik gekóók word.

Dit is ook die plek waar sy haar kookboek geskryf het – ’n droom wat lank hoog in haar hart gebrand het . . .

“Water smokkel met my kop. As ek hartseer is, spoel dit die hartseer weg. As ek kwaad is, kalmeer dit my.”

Resep van ’n lewe

Isabella wou vir haar seun, Taro (33) alles oor haar lewe neerskryf. “Dié boek is ’n liefdesdaad vir Tharo,” sê sy ma sag. Uiteindelik het dié liefdesdaad ’n resepteboek geword, verweef met die “wonderlike mense” wie se pad al met hare gekruis het, diegene vir wie sy al gekook of wat vir haar gekook het. Want dis tog dikwels rondom kos dat verhoudings en herinneringe gebou word.

“Ek het besluit ek gaan vir almal resepte vra – ek het omtrent net 10 resepte van my eie! So het die boek maar uitgekring – dis ‘n anderste boek . . .  ‘n boek waar ek ook vertel van my grootwordjare, waar my liefde vir en herinneringe aan smake vandaan kom.”

Bekende name soos Reuben Riffel, Michael Mol, Piet Marais van Laat die potte prut, skilders Hannatjie de Klerk en Louis Janse van Vuuren het ’n resep bygedra. Louis werk ook aan waterverfsketse wat plek-plek in die boek sal verskyn.

Francois Pretorius het die foto’s geneem en saam met medefotograaf Hein van Tonder bied hy en Isabella gereeld fotografiewerksessies op Langebaan aan. Isabella het elke resep self getoets, daarvan is die kombuis op die grondvlak van die duinhuis ’n stille, ietwat chaotiese getuie. Al wat Isabella oor dié reuse-onderneming te sê het is, “Dit slaan deur in jou kos as jy sagkens daarmee te werk gaan.”

En ja, sy het natuurlik van haar seun ook ’n resep gevra: “Ek het nou die dag vir hom ‘n boodskap gestuur.  ‘Mamma moet ’n spertyd haal, ek het nóú ’n resep van jou nodig,’ het ek gesê. ‘Hou gou-gou aan, Mamma,’ het hy geantwoord. En toe gee hy KFC se nommer vir my!”

Uiteindelik het Ma maar self vir hom ’n resep gekies – adobo, ‘n Spaanse en Portugese kosmaakmetode wat ook later na Suid-Amerika uitgebrei het. Die geheim van dié vleisgereg is die manier hoe die vleis in asyn gemarineer word. Dit word dan op rys of roerbraai voorgesit.

“Ek is nie van nature ’n sjef nie,” erken sy. Die kosding het maar so sewe jaar gelede begin; as 21-jarige kon ek net pampoenkoekies maak!

“Dié boek is eintlik ’n groot uitspattigheid,” sê Isabella. “Maar ek dink dit sal vir Taro lekker wees om my storie te lees. Ons het vreeslik baie gereis, ek en hy saam. Onder meer na Porto in Portugal, ‘die plek met al die teëls’ soos hy daarna verwys.”

Haar seun met die vry gees en sagte oomgeehart, soos sy hom beskryf, is ook ’n bekroonde vlieërplankryer wat kennelik sy ma se liefde vir die see geërf het.

Isabella onthou hoe haar eie ma, Issie, kort ná Taro se geboorte oor die klein seuntjie se kop gevryf en vir haar dogter gesê het: “Koekoe, jy moet vir dié kindjie vlerke gee dat hy kan vlieg.” Profetiese woorde, glo Isabella, oor die man wat toe inderdaad met sy vlieër op die see sy vlerke gevind het.

Op ’n Vrystaatse skilderdoek

Isabella het in die Vrystaat tussen Taba Nchu en Verkeerdevlei grootgeword. Haar ouers, Dan en Issie Janse van Vuuren, het met ’n sendeling-hart geleef en ’n sanatorium vir teringpasiënte bestuur.

“Ons was nie welgesteld nie, maar ons huis was mooi; daar was silwerbakke met wit rose in; swaar meubels. Ek het grootgeword met goeie gehalte. Al sien ek myself nie as kreatiwiteit nie, is dit seker maar waar dit alles begin het.”

Haar ma se geloof, sê sy, het deurgeslaan in hoe sy haar lewe geleef het. En aan haar pa was sy “verslaaf”. Ek het oral gegaan waar hy gegaan het.

“Hy was bevriend met (die skilder) vader Frans Claerhout. Ek het voor hom grootgeword. Hy het my ‘Kleintjie’ genoem, en het ’n prominente plek in die boek.”

Isabella vertel dat haar pa een keer ‘n maand saam met die biskop en die ander vaders van Bloemfontein, Ladybrand en omtrekke poker gespeel het – kompleet met whiskey, sigare en ’n verenigde nasies van verskillende tale. Ek het altyd saamgegaan en het my onder die tafel gemaklik gemaak.

“Wanneer hy gaan kosmaak het, het ek saamgepiekel en hy het hy my op die kombuiskas laat sit.” Isabella onthou dat hy die tjoppies gebraai het in die vet wat hy oomblikke tevore afgesny het. Die vars, warm bruinbrode. “Hy het dit in dik snye gesny, wat hy dan om die tafel uitgedeel het sodat die bredie daarop geëet kan word.”

Sy onthou ook sy indrukwekkende kunsversameling met werk van onder meer Gregory Boonzaier en Jan Vermeiren.

Ja, haar kinderjare was oënskynlik idillies, maar dan deel Isabella ook dat haar ouers haar as baba aangeneem het. Hulle was albei veertig jaar oud.

“Want dis tog dikwels rondom kos dat verhoudings en herinneringe gebou word.”

Mooi genoeg om te deel

Vandag nog leef sy met ’n kinderlike opgewondenheid oor die mooi dinge in die lewe, al glo sy dat die soet en die suur altyd saamgaan, en jy nie die een kan kies en die ander eenkant kan skuif nie. “Ek sal die mooi raaksien van daardie enkele klein blommetjie aan ’n turksvyboom (daar groei een by haar voordeur, en komende van die Vrystaat is sy mal oor dié vrug) wat net vir ’n wyle blom. Of dié van ’n majestieuse bloekomboom!”

Sy leef ‘n lewe van eenvoud en in ’n mate afsondering, erken sy, juis omdat sy herlaai wanneer sy alleen is. “Ek sal maklik op my eie in ‘n restaurant met ’n boek of my rekenaar gaan sit. En ek lees graag alles wat ek kan kry. Ek hou van biografieë en boeke wat jou uitdaag. The Night Circus van Erin Morgenstern is ’n boek wat ek vir almal uitdeel – die beskrywings daarin is ongelooflik.”

Haar vier honde en drie katte gee haar baie liefde en sy gaan stap graag met die honde op die strand.

Isabella se lewensfilosofie is om altyd die vreugde met ander te deel, al erken sy dat sy dit soms tot haar eie nadeel doen. Ook dat sy nooit in ‘n slegte bui opgestaan nie, maar dat die prentjie binne sekondes kan verander . . .

Tog glo sy dat ‘n mens met ’n oop hand moet leef, sonder om terug te verwag.

Dis nie aldag maklik nie – soos wanneer sy haar huis oopstel vir langtafelkuiers saam met tot vyftig mense op ’n keer, waarvan driekwart dikwels vreemdelinge is, en “dan lê jy jou siel voor hulle bloot. Maar, vir een dag kon ek vir hulle ’n ervaring gegee wat hulle nog nie gehad het nie . . .”

En hierin lê die rykdom van Isabella van die duinhuis – haar vermoë om die mooi en die vreugde vas te gryp, maar dit dan weer te laat gaan sodat die volgende siel daardeur gevoed kan word.

2019-02-28T18:39:20+00:00