Lééf mooi

Suiwerskoon

Deur Christine Ferreira | Foto Hanneri de Wet

‘n Suiwer liggaam en ‘n gesonde lewenstyl is die kern van ‘n mooi voorkoms, veral in ‘n besoedelde en stresbelaaide omgewing.

Dit is goed om jou lyf van tyd tot tyd van binne skoon te maak. Die idee van so ‘n reiniging is om die liggaam se uitskeidingstelsel te stimuleer om bloed en weefsel te reinig. Gifstowwe in die liggaam is verantwoordelik vir die aftakeling en veroudering van lyf en vel. Besoedeling en ongesonde kosse veroorsaak onder meer ‘n opbou van gifstowwe en swak sirkulasie bring mee dat sellulêre vloeistof stagneer. ‘n Vars toevoer van suurstof en voedingstowwe is nodig om die selfunksies gesond te hou. Dis daarom noodsaaklik om die gifstowwe deeglik uit te skakel.

Het ek suiwering (detoks) nodig?

Die volgende tekens verklap gewoonlik dat dit tyd is om ‘n suiweringsprogram te volg:

  • As jy voel dat stres en druk jou onderkry.
  • Aknee en knoppies wat sonder rede uitslaan.
  • As jy moeg en sonder fut voel.
  • ‘n Grys en dowwe velkleur.
  • As jou oë nie meer helder lyk nie.
  • Oormatige aanpaksels op die tong.
  • Opgeblaasdheid en swelling.

Maak ‘n plan

Die vinnigste manier om jou liggaam te suiwer is natuurlik om ‘n gesondheidspa vir ‘n paar dae lank te besoek. Tydens ‘n besoek aan ‘n gesondheidspa, wat van drie dae tot ‘n week of meer kan duur, word die liggaam met die hulp van ‘n reinigingsprogram gesuiwer. Dit behels ‘n gesonde eetprogram, oefening, rus, vars lug en spesiale behandelinge wat jou help om jou batterye te herlaai en die om die liggaam van die effek van stres en ‘n ongesonde leefstyl te laat herstel.

Is dit nodig om honger te ly?

‘n Gesonde eetprogram is ‘n moet as jy jou liggaam behoorlik wil suiwer. En daar is sekere kossoorte wat jy tydens ‘n reinigingsdieet moet vermy. ‘n Eetplan wat laag is aan vet, suiker en proteïen, maar ryk is aan vesel, word aanbeveel. Kafeïen is verbode en behoort jy slegs kruietee te drink. Deur kafeïen, alkohol, kleurstowwe, preserveermiddels en rooi vleis vir ‘n tyd uit jou dieet te skakel stel jy die liggaam in staat om homself doeltreffend te reinig.

Ondersoek gerus ‘n program soos die Daniëlsvas waar daar vir ‘n tyd lank net groente en vrugte ingeneem word as deel van jou dieet.

In haar boek Leef lig 40 dae na ‘n gesonder liggaam siel en gees (Struik Christian Media 2018), gee skrywer Vivienne Heath, duidelike praktiese riglyne oor hoe om liggaam, siel en gees te suiwer om sodoende jou lewensgehalte en gesondheid te verbeter. Die skoonheidskenner, Lesley Kenton, beveel ‘n langnaweek-reinigingsdieet aan wat hoofsaaklik uit vars groente- en vrugtesappe, ‘n helder groentesop en kruietee bestaan.

Volg jou eie program

As jy nie ‘n gesondheidspa kan besoek nie, kan ‘n suiweringsprogram ook ‘n paar dae lank tuis gevolg word. Hier is ‘n paar riglyne:

  • Volg ‘n suiwerende eetprogram. Eet meestal vars groente en vrugte en skakel sekere voedselsoorte (soos genoem) uit.
  • Drink baie water om die uitskeiding van gifstowwe te bevorder. Nie minder nie as agt glase per dag is nodig.
  • Borsel jou lyf elke keer voordat jy in die bad of stort klim met ‘n lyfborsel van natuurlike vesel. Dit verrig wondere om die uitskeiding van gifstowwe aan te help aangesien dit die limf stimuleer.
  • Neem saans ‘n mosterdbad om jou te laat sweet.
  • Gebruik tuisprodukte wat die suiweringsproses aanhelp soos ‘n skroproom, vlugtige olies of ‘n lyfolie soos Clarins Body Treatment Oil wat nadat jy gebad het aan die lyf gesmeer word.
  • Bestee tyd in ‘n sauna of stoombad. Gifstowwe word onder meer deur die sweetkliere uitgeskei.
  • Gaan vir ‘n paar suiwerende behandelinge by ‘n skoonheidskliniek of of besoek ‘n spa wat dagprogramme aanbied.
  • Oefen, stap of swem elke dag vir ‘n halfuur.
  • Sorg dat jy genoeg tyd inruim om te rus. Jy mag dalk die eerste dag of twee hoofpyn en tamheid ervaar.

Meer oor limfdreinering

As jou liggaam suiwer en uitgerus is, wys dit dadelik aan jou vel. Sodra ons aan te veel stres blootgestel word, siek is of te veel eet of drink, plaas dit druk op die limfatiese stelsel. Dit beteken dat die limf nie optimaal funksioneer om gifstowwe te help elimineer nie. Die limfatiese stelsel speel ‘n integrale rol om die liggaam gesond te hou deur dit van gifstowwe te reinig. Moegheid, hoofpyn waterretensie, selluliet en gewigstoename kan alles daarop dui dat die limf nie na wense funksioneer nie. Limfdreinering is ‘n effektiewe en wonderlike manier om die limfatiese stelsel te vernuwe en so gesondheid en welstand te verbeter.

By die Dr. P Aesthetic Lifestyle Centre in Hydepark, Johannesburg word die BTL Lymphastim ingespan om limfdreinering te bevorder. Die behandeling werk op die beginsel pneumatiese lugdrukterapie en boots die manier na waarop ‘n terapeut fisies die limf sou masseer en stimuleer. Dié tipe massering bevorder die beweging van limfatiese vloeistof en stimuleer die limfnode op ‘n diep vlak. Limfdreinering is ‘n natuurlike manier om die liggaam te suiwer en die immuunstelsel ‘n hupstoot te gee. Die BTL Lymphastim-behandeling help ook onder meer vir slegte spysvertering, waterretensie, selluliet en swak bloedsomloop. Die behandeling is pynloos en ontspannend en behels dat die kliënt ‘n spesiale plastieklangbroek aantrek wat aan ‘n masjien gekoppel is wat drukking ritmies toepas en reguleer, terwyl jy lekker lê en ontspan. Na afloop van die behandeling voel jy summier verkwik. ‘n Reeks behandelinge word aanbeveel.

Vir meer inligting oor die behandeling, kontak Dr P Aesthetic Lifestyle Centre, by 010 001 8557. Die kliniek is geleë by Suite 401, Hyde Park Corner, hoek van Jan Smuts  & William Nicol Rylaan, Hyde Park.

2019-01-29T20:30:50+00:00