Foto’s Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

Één snaar kan musiek maak! Een mens kan lig wees. Omdat die Lig in haar is.

George Frederick Watts was bekend daarvoor om skilderye te skilder wat idees en onderwerpe en situasies van sy tyd uitbeeld. In ’n tyd toe mense desperaat op soek was na hoop, skilder hy dan ook ’n skildery met die titel: Hope. Dit beeld ’n geblinddoekte vrou uit wat in ’n fetusposisie op ’n aardbol sit. In haar hand hou sy ’n lier vas met net een snaar. Haar kop afgebuig in ’n poging om musiek uit die een snaar te hoor …

Mense was ontsteld oor die depressiewe uitbeelding van hoop en het Watts daaroor uitgevra.

“Julle kyk oppervlakkig na my skildery”, was sy antwoord. En toe lig hy toe:

  • “Kyk fyner … en sien die wegsteek-spikkel van ’n enkele ster bo haar kop: Hoop is soms weggesteek onder newels van die donker – ons moet dit net soek.
  • Kyk dan verder. Sien jy hoe fokus sy op die één snaar? Hoe sy aanhou probeer om musiek te maak met één snaar? Hoop is om – ondanks gebreekte snare – steeds te fokus op die een snaar van jou lewenslier. En sy musiek te hoor.
  • Sien julle nie die lig wat van vooraf op haar val nie? Dit is jý. Jy wat daarna kyk, kan die lig oor haar gooi. Hoop – lig – kan van jou, die kyker, die waarnemer af skyn. Hoop is lig wat aangegee word. Lig wat van jou af oor ’n donker wêreld kan skyn.”

Dis oor alle tydvakke heen moontlik om die lewe as donker te beskou. Miskien moet ons net weer onthou:

  • Hoop is nie ’n vuur wat opstu uit groot stompe hout nie. Hoop is heel dikwels die klein, flou vlammetjie van ’n enkele kers in ’n pikdonker vertrek. Hou maar net vas aan vandag se stukkie lig. Môre sal jy weer nuwe krag kry.
  • Hoop kan nie altyd die blink môrester sien nie, maar weet intuïtief dat hy daar is. Dat hy wel toegetrek kan wees agter onweerswolke en dikwels skaars sigbaar is, maar altyd daar is.
  • Hoop kan nie altyd die toekoms sien nie, maar kan vandag sien. Die lamp in jou hand skyn nie myle vooruit nie, maar kyk weer, die flou liggie agter die glas gee net genoeg lig vir vandag. Genoeg vir die volgende tree. Moet daarom nooit moed opgee nie.

Ons aanbid die God van HOOP. Die Een wat elke nuwe môre genoeg sal gee vir vandag … en wat ons – ondanks die donker om en in ons – nooit sonder sy LIG laat nie.

Eensnaar-musiekmaker
U wil die beste vir ons gee.
Altyd.
U wil ons oë oopmaak vir die mooi.
Gedurig.
U wil ons met u goedheid bederf.
Sonder ophou.
U wil eensnaar-mense weer note gee
om te sing.
Om die lewe te dans.
Dankie dat U musiek kan maak
selfs wanneer die lewe vals is.
Dat U simfonieë skep
deur een mens met hoop.
Vandag kies ek om
in u orkes van léwenshoop te speel.

Doen hoop

Vir twaalf jaar lei sy aan bloedvloeiing wat duidelik nie deur mediese oplossings genees kan word nie. Dan hoor sy van die Jesus wat wonderwerke kan doen. Sukkelend probeer sy deur die skare stoei sodat sy tog net by Hom kan uitkom. Sy weet: selfs net die aanraak van sy soom sal vir haar genoeg wees. Binne sekondes nadat sy aan sy klere raak, is sy genees!

Een vrou wat rede gehad het om hoop te verloor, wéét: daar ís Iemand wat my lewe kan verander. Iemand wat lig vir my sal bring. Sy hoop en dóén.

Mag ons hoop doen daar waar ons elke dag leef. Ja, mag ons die flonker lig wees omdat die Hoop ín ons is.

Boodskap: Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees.” Markus 5:34
2019-01-31T15:08:29+00:00