Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Daar is ‘n engel in my koskas

Deur Willie Strauss (Human & Rousseau)

In hierdie kookboek neem Willie Strauss jou op ‘n nostalgiese kosreis en nooi jou om die geure en smake wat hy met groot vreugde onthou, saam met hom te geniet. Resepte of enkele bestanddele word verweef met interessante – en soms komiese – vertellings. So is daar ondere die blikke kondensmelk (engelemelk) waaruit menige kind die lekker gesuig het en die wonderlike kondensmelkbeskuit wat Ma gebak het, die laning granaatbome langs die plaasdam en die verleidelike granaatkoek waarmee jy jou gaste sal beïndruk. Van brood en beskuit, sop, hoof- en bygeregte tot poedings, koek, koekies en terte asook konfyt en blatjang: dis alles in hierdie kookboek vervat. R325.

Aankoms en vertrek

Deur Pat Stamatélos (Penguin Random House)

Bailey Kellerman verlaat Suid-Afrika finaal ná nog ’n liefdesteleurstelling deur haar eerste liefde, Adam. Hulle het ’n aan-en-af-verhouding sedert hulle jong dae, maar Adam verneuk haar gereeld en kom nie tot trou nie. In London trou sy met ’n Fransman, maar word ook deur hom in die steek gelaat. Terwyl sy oorsee is, word haar ouers wreed in hul huis in Johannesburg tydens ’n rooftog vermoor. Haar broer, Zak, daag woedend by haar huis op en dring daarop aan dat sy terugkom Suid-Afrika toe. Hy verwyt haar ook dat sy nie by die begrafnis was nie, min wetend wat haar omstandighede daardie tyd was. Sewe maande later is Bailey terug in Suid-Afrika, maar iewers is daar ’n slang in die gras. Hoekom het haar pa nie die kluis tydens die rooftog vir die rowers oopgemaak nie? Wat is in die toegesluite kluis? En gaan Adam weer amok in haar lewe kom maak? R230.

Skattejag-Bybel

Deur Ewald van Rensburg (Christelike Media Bybels)

Die baie toeganklike teks van die 1983 vertaling word in hierdie Bybel vir kinders gebruik. Die boek vorm ‘n brug tussen Bybel-storieboeke en die volteks-Bybel. Belangrike Bybelse temas en verse word aan kinders verduidelik en dié Bybel help kinders om die Bybel te verstaan volgens hul ontwikkelings- en leerfases. Dit voed siel en gees en maak Bybellees ‘n opwindende avontuur. Die Skattejag-Bybel is deur Luke Flowers geïlustreer. R349.

Ontdek Jesus in die Psalms

CUM Christelike Uitgewersmaatskappy

Vir eeue al wend mense hulle tot die Psalmboek vir troos, leiding en die versekering van God se almag. Hierdie Bybelstudie fokus op die psalms wat Christus se koms, sy werk en sy heerskappy as Koning van die konings voorspel het. Daar word gekyk na al die psalms wat heenwys na die lewe van Jesus. Hierdie Bybelstudie is geskik vir individue of groepstudie en elkeen van die 11 hoofstukke bevat vrae wat nadenke, maar ook sinvolle gesprekke sal aanmoedig. Dié studie bemoedig die leser deur die wete dat die almagtige God vir jou omgee en sy planne vir jou lewe sal waarmaak. R99,96.

Neem beheer van jou lewe

Deur Stephen Arterburn & David Stoop (CUM)

Sommige mense voel vasgevang in hulle verlede. Hul verlede en ander se opinies bepaal hoe hulle op situasies gaan reageer. Deur beheer te neem oor jou lewe sal jy besef omstandighede hoef nie jou lewensrigting te bepaal nie. In hierdie boek gebruik die skrywers persoonlike voorbeelde, kliniese insigte en geestelike waarhede om lesers te wys presies hoe om genees te word van seerkry, terugslae en gebroke verhoudings wat jou elke dag raak, beter grense vir ander mense in jou lewe te stel, op te hou oorreageer en op die regte manier op situasies en omstandighede te reageer, gedrag te verander wat jou en jou verhoudings skaad en die vrede te vind waarna jy hunker. R189,95.

Die Edik van Nantes-kookboek

Deur Nataniël & Erik le Roux (Human & Rousseau)

In dié kookboek nooi Nataniël en sy broer, Erik le Roux, jou uit om saam met hulle ‘n kosreis na Nantes, Frankryk, te onderneem. Kom kyk hoe lyk die château waar Erik en sy gesin bly, beskou die argitektoniese wonders van Nantes en beleef die koue winter saam met hulle. Met resepte uit die eerste vier reekse van die gelyknamige TV-reeks asook nuwe resepte wat Nataniël en Erik by die huis maak. Maak Franse uiesop, clafoutti, artisjokpoeding, brioche met salm, bloubessiesjampanjesop en sjokoladeklappertruffels net soos die Franse kan. ‘n Visuele fees vir die oog. R370.

Die impak van jou potensiaal

Deur John C. Maxwell (Struik Christian Media)

Ons is geneig om onsself terug te hou omdat ons daarvan oortuig is dat ons vermoëns beperk is. Maar wat as ons veronderstelde beperkings net ‘n illusie is? In hierdie boek identifiseer en ondersoek John Maxwell die sewentien sleutelvermoëns wat elkeen besit. Ons is met sommige gebore, soos hoe ons dink of hoe ons aansluiting vind met ander. Die res is keuses, dikwels onbewustelik, wat ons houding of persoonlike dissiplines insluit. Daar is ruimte vir groei by almal. Maxwell gee duidelike en nuttige advies oor wat ons kan doen om in hierdie verskillende gebiede van ons lewe te verbeter. R140.

Jy is kosbaar

Deur Laura Dingman (CUM)

Die mens is geskep om in verhouding te leef. Maar soveel mense voel ongeliefd en onseker van hulself as gevolg van skaamte oor hul verlede. Hulle is bang om hul ware self te wys omdat hulle glo mense sal hulle dalk verstoot. Hoe kan hulle vol selfvertroue en vry van skaamte leef?  Jy is kosbaar is ’n ses-week-Bybelstudie wat lesers help om juis dít te doen. Laura Dingman lei lesers om hulle ware identiteit in Christus te ontsluit, bo hulle beperkings uit te styg en vol selfvertroue in God op te staan sodat hulle eerlik met Hom en ander kan omgaan. Elke week begin met ’n inleiding, gevolg deur vyf studies wat meer uitbrei oor die week se tema. Dit is gegrondves in die Woord met genoeg ruimte vir persoonlike notas. R190.

2019-01-30T10:03:00+00:00