Die nuwe jaar is in volle swang! Môre begin ek en my span aan die Herfs 2019 gedrukte uitgawe van Lééf se uitleg werk. Om tot by hierdie punt te kon kom, het heelwat beplanning en voorbereiding geverg. Kopie en foto’s is sorgvuldig oor die afgelope maand of drie bymekaargebring. Al die fotosessies is nou afgehandel en die laaste bietjie redigeerwerk lê vanmiddag voor. My lysies is gemaak en take wat voltooi is, netjies afgetik.

In die aanloop hiertoe is my kantoor reeds voor die vakansie reggepak aangesien ek dit moeilik vind om in wanorde te funksioneer. Leêrs is skoongemaak, kaste uitgepak en afgestof en die boekrakke georden om seker te maak alles is eksie-perfeksie voordat ek weer aan die werk spring.

Ook die huis en die tuin het einde verlede jaar onder die groot skoonmaak deurgeloop. Johan, my man, het vroegsomer reeds die bome en struike, wat teen hierdie tyd heeltemal oorgroei was, deur ’n span gesoute werkers laat snoei. Dit het dae geneem om die tuin uiteindelik skoon te kry.

Hierna het die huis aan die beurt gekom. Al wat ’n ornament en tierlantyntjie is, is op die kombuistafel uitgepak. Net dit wat vir ons die allermooiste is, is weer terug gepak. Dié keer boonop ook op nuwe plekke. Die res van die ornamente is of weggegee of gebêre. Toe ons eers besef hoe lekker die nuwe oop en skoon ruimtes vir ons is, het ons die res van die huis getakel.

Nie lank hierna nie, kry ek ’n boodskap van ’n vriendin wat vertel dat skoonmaak glo die nuwe internetgier is. Verkope van skoonmaakmiddels het wêreldwyd die hoogte ingeskiet en lees mens nou wyd en syd oor die voordele wat die vermindering van besittings (de-clutter) vir siel en gees inhou.

As gelowiges word ons in die Bybel genooi om ook ons harte te suiwer. Om van bitterheid, verwyte en haat ontslae te raak. Om plek te maak vir liefde en vergifnis, ons bagasie aan Hom oor te gee om ’n nuwe, skoon begin te kan maak. Om alles wat oortollig en onnodig in ons lewens is, af te lê om plek te kan maak vir dié lewe wat God vir my en jou in gedagte het.

Mag jou jaar op ’n nuwe gesuiwerde noot begin en jy die vrede van ’n lewe van eenvoud en Hemelse orde geniet te midde van ’n wêreld vol chaos om ons.

Groete tot die volgende aanlynuitgawe van Lééf met hart & siel op 1 Maart 2019 hier by www.leef.co.za verskyn.

Christine Ferreira

Redakteur

2019-02-03T09:12:52+00:00