Wees heel

Minder kommer, meer geloof

Deur Max Lucado | Foto Hanneri de Wet

Met God aan jou sy kan jy ‘n lewe ontdek wat gekenmerk word deur kalmte en toegerus word om die aanslae van angstigheid teë te werk.

Dit is ’n geringe vrees. ’n Verontrusting, ’n angstigheid. ’n Koue wind wat nie wil ophou waai nie. Dit is nie soseer die storm wat jou bang maak nie, maar eerder die sekerheid dat daar ’n storm gaan wees. Dat daar altyd ’n storm aan die broei is. Sonnige dae is net ’n tussenspel. Jy kan nie ontspan nie. Jy durf nie jou waaksaamheid verslap nie. Alle vrede is net tydelik, kortstondig. Bekommernis is ’n meteoorreën van “sê nou maars”. Sê nou ek kan nie die transaksie beklink nie? Sê nou ons kry nie daardie bonus nie? Sê nou ek kan nie draadjies vir die kinders bekostig nie? Sê nou my kinders het dan vir altyd skewe tande? Sê nou hulle skewe tande keer dat hulle vriende kan maak, ’n beroep kan volg of ’n lewensmaat kan vind? Sê nou hulle is op die ou end haweloos en honger, met ’n plakkaat om die nek wat sê: “My ouers kon nie vir my draadjies betaal nie”? Bekommernis is angs. Bekommernis en vrees is neefs, maar nie ’n tweeling nie. Vrees sien ’n bedreiging. Bekommernis verbeel hom daar is een. Vrees skree: “Hardloop!” Bekommernis wonder: “Sê nou …?” Vrees lei tot die veg-of-vlug-reaksie. Bekommernis skep wanhoop en vertwyfeling. Bekommernis beroof ons ook van ons slaap. Ons energie. Ons algehele gesondheid.

Wat is die oorsaak van ons angstigheid?

Die sielkundige Robert Leahy sê: “Die gemiddelde kind van vandag toon dieselfde mate van angstigheid as die gemiddelde psigiatriese pasiënt in die 1950’s.” Kinders het meer speelgoed, klere en geleenthede as ooit, maar teen die tyd dat hulle die huis verlaat, is hulle meer gespanne as ’n Stradivarius-viool se snare. Ons is gespanne. Hoekom? Wat is die oorsaak van ons angstigheid? Verandering, onder meer. Navorsers vermoed dat die Westerse wêreld se “omgewing en sosiale orde die afgelope 30 jaar meer verander het as in die voorafgaande 300 jaar”. Dink net wat alles verander het. Tegnologie. Die ontstaan van die internet. Toenemende waarskuwings oor aardverwarming, kernoorloë en terroriste-aanvalle. Veranderinge en nuwe bedreigings word elke paar sekondes by ons lewe gevoeg danksy slimfone,

TV’s en rekenaarskerms. In ons grootouers se leeftyd het die nuus van ’n aardbewing in Nepal eers ’n paar dae later die res van die wêreld bereik. In ons ouers se leeftyd het die aandnuus oor die ramp berig. Nou hoor ons binne minute daarvan. Ons het skaars die een krisis verwerk, dan hoor ons van die volgende een. Boonop beweeg ons vinniger as ooit vantevore. Ons voorgeslagte het net gereis tot waar ’n perd of kameel hulle in dagligure kon neem. Maar ons? Ons vlieg oor tydsones heen asof dit bloot aangrensende strate is. Ons groot-grootouers moes hulle breinsensors afskakel wanneer die son gesak het. Maar ons? Ons skakel die nuus aan, maak ons skootrekenaars oop of kyk na die jongste oorlewingsreeks op TV.

‘n Lewe van vrede

’n Mens sou dink Christene word van bekommernis gevrywaar. Maar dit is nie waar nie. Ons is geleer dat die Christelike lewe ’n lewe van vrede is, en wanneer ons nie vrede ervaar nie, aanvaar ons die probleem lê by ons. Nie net voel ons dan angstig nie, maar ons voel ook skuldig omdat ons angstig raak. Die uitkoms is ’n afwaartse spiraal van bekommernis, skuldgevoelens, bekommernis, skuldgevoelens.

Dit is genoeg om enigiemand angstig te laat voel. Dit is genoeg om ons te laat wonder of die apostel Paulus dalk kontak met die werklikheid verloor het toe hy geskryf het: “Moet oor niks bekommerd wees nie” (Fil. 4:6). “Wees oor minder dinge bekommerd,” sou dalk ’n makliker uitdaging gewees het. Of: “Wees net op Donderdae bekommerd.” Of: “Wees net bekommerd in dié tye dat jy ernstig beproef word.”

Tog lyk dit of Paulus hier vir ons geen speling laat nie. Moet oor niks bekommerd wees nie. Niks nie. Nie een ding nie. Is dit wat hy bedoel het? Nie presies nie. Paulus het hierdie sin in die teenwoordige aktiewe tyd geskryf, wat op ’n voortdurende toestand dui. Dit is die lewe van voortdurende bekommernis waar oor Paulus hier geskryf het. Die teenwoordigheid van bekommernis is onvermydelik, maar die tronk van bekommernis is ’n keuse. Bekommernis is nie ’n sonde nie; dit is ’n emosie. (Moet daarom nie angstig raak omdat jy bekommerd is nie.) Bekommernis kan egter tot sondige gedrag lei. Wanneer ons ons vrese met drank en kos probeer onderdruk, wanneer ons vuur spoeg soos ’n draak, wanneer ons ons vrees probeer verkoop aan enigiemand wat dit wil oorneem, doen ons sonde. As giftige bekommernis jou daartoe lei om jou lewensmaat te verlaat, jou kinders af te skeep, beloftes te verbreek of harte te breek, pas op! Jesus het vir ons gesê: “Spits julle daarop toe dat julle sinne nie afgestomp word van te veel eet en drink en deur die bekommernisse van die lewe nie” (Luk. 21:34).

‘n Wonderlike belofte

In die Woord staan daar: “Wees altyd bly omdat julle weet dat julle aan die Here behoort. Ek sê dit weer: “Wees bly!” Laat almal sien hoe bedagsaam julle lewe. Onthou: Die Here kom binnekort! Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou omdat julle aan Christus Jesus verbonde is. Ten slotte, broers en susters, vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.” Filippense 4:4-8

Hier is vyf verse met vier opdragte wat tot een wonderlike belofte lei: “En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou” (4:7).

  • Vier God se goedheid: “Wees altyd bly omdat julle weet dat julle aan die Here behoort” (4:4).
  • Vra God om jou te help: “Vra alles wat julle nodig het van God” (4:6).
  • Gee jou bekommernisse aan God oor: “… terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen” (4:6).
  • Dink aan alles wat goed is: “Vul julle gedagtes met alles wat waar en lofwaardig is” (4:8).

Vier. Vra. Gee oor. Dink. Dié vier stappe bring vir jou kalmte en vrede.

Kan jy doen met ’n bietjie kalmte in jou lewe? Met God as jou helper sal jy vanaand beter slaap en môre meer glimlag. Jy sal jou vrees op ’n totaal ander manier hanteer. Jy sal leer hoe om jouself van die rand van die krans af weg te neem, slegte nuus deur die lens van God se opperheerskappy te sien, die leuens van Satan te onderskei en vir jouself die waarheid te vertel. Jy sal ’n lewe ontdek wat gekenmerk word deur kalmte en jy sal die vaardighede ontwikkel om die aanslae van bekommernisse te weerstaan.

Dit sal werk van jou kant af vra. Ek wil beslis nie die indruk skep dat  bekommernis sommer met ’n eenvoudige opbeurende praatjie weggewaai kan word nie. Vir sommige sal God se hulp inderdaad terapie en/of medisyne insluit. As dit die geval is, moenie een oomblik dink jy is ’n tweederangse hemelse burger nie. Vra God om jou na ’n gekwalifiseerde berader of dokter te lei wat vir jou die behandeling sal gee wat jy nodig het.

Hiervan kan jy seker wees: Dit is nie God se wil dat jy met voortdurende bekommernis saamleef nie. God is lief vir sy kinders. En God hou toesig oor jou wêreld. Hy hou sy oog oor jou lewe. Luister goed en jy sal God hoor sê: “Alles is nou veilig. Jy kan nou maar rustig raak.” Deur sy krag sal jy oor niks bekommerd wees nie en jy sal dié vrede ontdek wat meer is as wat jy dink.

Uittreksel uit Wees oor niks bekommerd nie (CUM 2018) deur Max Lucado. Met toestemming van die uitgewer gepubliseer.

2019-01-29T21:03:35+00:00