Kuns van Lééf

Liewe lappie klei

deur Schalk Schoombie | Foto’s Hannerie de Wet

Keramiek met ‘n kinkel; gehekelde lappies in klei verewig. Dit is waarmee die bedrewe hande van die Pretoriase keramiekkunstenaar Corlie Schoeman treffende kunswerke skep.

Haar hande is slank en goed versorg, die naels kaats helder akwamaryn. Dit is dieselfde keurige hande wat met potklei en glasuur die fynste erdewerk verwerk.

Corlie Schoeman pak verskeie ronde vorms op die koffieplek se tafel uit. Ek volg die kartels en plooitjies in die klei en dink aan die Verre Ooste.

Maar nee, die oorsprong van haar kuns is nie eksoties nie – dit berus by die eenvoudige, nederige gehekelde lappie.

Tien jaar gelede het ‘n vriendin Corlie saamgenooi na ‘n keramiekklas op Donderdagaande.  “Dis waar ek begin het om goed te maak,” onthou sy. “Ek het dit vir ontspanning gedoen. Ek wou myself nie dryf nie.”

Op ‘n dag het sy ‘n gehekelde lappie in klei gedruk. Dit was die begin van ‘n passie: “Ek was kleintyd al behep met mooi hekelwerk.”

Corlie beduie hoe sy die hekellappie in die wit en rooi klei in druk en met ‘n roller bewerk. Daarna plaas sy die kleistuk in ‘n gietvorm om droog te word. Volgende word dit in ‘n oond gebak en sorgsaam afgeskuur.

Die resultaat lyk soos blomvormige bakkies met gegrifde patrone wat jou vingerpunte nooi om te streel en vryf, in skakerings van blou, rooi, groen en pers; bruikbaar in allerlei vorms as vase, borde, slaaibakke en houers vir besigheidskaartjies.

Sy is gedurig by liefdadigheidswinkels en markte op die uitkyk vir ‘n mooi lappie wat in klei gedruk kan word.

‘n Nuwe laplewe

“Hekellappies is iets wat mense al minder gebruik – maar ontsettend baie werk het daar ingegaan. In die klei kry die lappies ‘n nuwe lewe, ‘n ander gedaante, en die toewyding van hekel word so verewig,” straal Corlie.

Die gedroogte ware word gebisk, oftewel in ‘n oond gebak by sowat 1000 grade Celsius, en daarna word die erdeware geglasuur. (Die lappies gaan nie in die oond nie, sy haal dit uit die klei en gebruik dit weer.)

“Glasuur is soos glas wat fyngemaal is. Ek doop die ware daarin en bak dit weer. Hiertydens kom die kleur by. Die proses duur ‘n paar dae vir die klei om uit te droog en dit hang baie van die weer af. As dit baie vogtig is, neem dit soms meer as ‘n week. Die bakproses duur telkens 10 tot 12 ure en die oond vat twee tot drie dae om af te koel, voordat jy dit kan oopmaak, Dus duur die proses altesaam twee tot drie weke – as alles goed gaan. Jy kan ook nie net ‘n paar goed op ‘n slag bak nie. Jy het ‘n vol oond nodig.
“Jy leer gou om vrede te maak met teleurstellings,” bieg sy. “Jy weet nooit wat jy gaan sien as jy die oonddeur oopmaak nie. Nou en dan is daar iets wat kraak of breek. Pottebakkery is nie vir sagmoediges nie. Jy leer en probeer weer.

“Ek het geleidelik beter geraak met die afwerking. Die moeilikste is die afskuur met ‘n houtwerksponsie. Dit kan tydrowend wees. Terwyl ek skuur, luister ek na oudioboeke of kyk ‘n dramareeks op my iPad.”

Dorp en plaas

In September vanjaar word Corlie 50. “O, dit gaan ‘n jaar van groot partytjies wees!” beduie sy uitgelate. Hoekom is sommige mense skaam om hul ouderdom te verklap, wonder sy terloops.

Sy lyk meer as ‘n dekade jonger, somervars en elegant in ‘n los, wit rok volgerank met vlootblou patrone. Haar bruin hare is in ‘n deurmekaar bol op haar kop geknoop. Twee silwer blaarkelk-oorbelle pas by die silwer armbande aan haar regterpols.

Corlie is gebore in Pietersburg, oudste kind van Jan en Tilda Schoeman, met vyf jonger susters. “Ja, ons is ses dogters,” erken Carlie laggend wanneer sy my verbasing registreer. “En nee, dis nie dat my ouers aanhou probeer het vir ‘n seun nie, hulle was baie gelukkig met meisiekinders.”

Albei haar ouers was in die onderwys, maar haar pa het voltyds begin boer met teëlbeeste op ‘n plaas by Nylstroom. ‘n Plaasmeisie is sy egter nie: “Ek het eintlik meer op ‘n klein dorpie groot geword, met naweekbesoeke en sommige vakansies op die plaas. Ek kan nie melk of perdry nie. Dalk was my pa bang dit sou lyk asof hy sy dogters soos seuns wou grootmaak.”

‘Pottebakkery is nie vir sagmoediges nie. Jy leer en probeer weer.’

Veelsydige hande

Corlie het skool gegaan in Nylstroom en Pretoria-Oos. Sy was nie besonder kunstig as kind nie, meen sy beskeie. Altyd was die liefde vir lap ‘n rigtingwyser, ‘n sekere aanvoeling vir detail en tekstuur. Sy het versamel en bymekaar gemaak, skulpies en klippies opgetel.

“My ouma aan my pa se kant het gehekel en gebrei en my baie geduldig gehelp om popklere te maak. Op hoërskool het ek my eie klere gemaak en doen dit steeds.”

Dalk was die agtergrond wat haar B. Huishoudkunde-graad in Kleding en Interieur wat sy van 1988 tot 1991 aan Tukkies voltooi het, net te wyd en nie gespesialiseerd genoeg nie, mymer sy. Maar dit was tog nuttig vir aankope en verkoopsvernuf in die klerebedryf.

Sedertdien het sy haar veelsydige hand gewaag aan verskeie beroepe. Sy het ‘n draai deur onthaal gemaak en ‘n gastehuis bestuur. Van 2002 tot 2013 het sy voltyds gewerk by Lulu Belle, ‘n boetiekwinkel in Brooklyn Mall wat vroueklere, kostuumjuwele en bykomstighede gebied het. Die winkel bestaan nie meer in Brooklyn nie, maar daar is nog twee in die Kaap. “Elke dag was anders en dit was lekker om met mense te werk.” Corlie werk nog deeltyds by Lulu Belle.

“Ek het al heelwat gereis na Parys, Indië en Turkye. Elke land het iets unieks in kultuur en tradisie.”

Erg oor lap

Corlie bly gedurig by liefdadigheidswinkels en markte op die uitkyk vir ‘n mooi lappie wat in klei gedruk kan word.

“Ek raak erg, hoor – ek het soveel lappies! Want êrens gaan ek nog ‘n lappie opspoor. Ek sal net duur betaal vir iets besonders. Mense dra vir my lappies aan. Ek bring lappies saam van oorsee, van Frankryk. Voorlaasjaar het ek die laaste lappie wat my ouma gehekel het gebruik om slaaibakke vir my sussies en ma te maak.”

Tans sit sy hand by in die ateljee van Minette van Rooyen-Zaaiman, by wie sy pottebakkery geleer het. “Ek pak oonde en help met alles, maar ek gee nie klas nie.”

Corlie bied ope dae by haar huis of ‘n vriendin se huis aan, waar belangstellendes ‘n verskeidenheid van haar keramiek kan bewonder en koop.

Groot bestellings vir winkels of kliënte is ‘n uitdaging. “Verlede jaar het ek ‘n 78-stuk eetstel vir ‘n kliënt gemaak wat gelukkig so mooi uitgekom het, maar ‘n mens moet altyd ekstras maak vir ingeval daar foute insluip. Dis ook moeilik om baie groot goed te maak, want dit kraak makliker, maar deur die jare raak ‘n mens beter en slimmer.”

Wonderlike detail

“Ek kan my verlustig in die detail van mooi goed. Op ‘n Bybel-toep het ek in Exodus 25 gelees hoe die Verbondsark van die Israeliete gelyk het, en die detail was asemrowend. Soveel presiese afmetings en voorskrifte: vier goue ringe aan die voete, draaghoute van akasiahout, ‘n versoendeksel, twee gerubs en ‘n krans rondom, alles met suiwer goud beslaan.”

Aftrede oorweeg sy nie: “Ek het besef ek werk al net so lank as wat ek nog gaan werk, en wat gaan ek vir die volgende 25 jaar doen? Dalk doen ek iets met kos, maar nie in ‘n restaurant nie – die ure is te uitmergelend.”

Sommige oggende gaan stap Corlie saam met ‘n vriendin deur ‘n nabygeleë natuurreservaat. Dit is waar sy die idee gekry het om dalk eendag ‘n teetuin te begin of gebeurtenisonthale te doen. Sy is versot op Mediterreense en  Griekse cuisine, maar erken sy is te lui om vir haarself te kook: “Sommer net ‘n broodjie – rogbrood, kaas en slaai is my kos.”

Haar kleilapware is beskikbaar by Golden Goose Artistry in Brooklyn Mall, Pretoria. Southdowns in Centurion en verskeie ander winkels landwyd. “Ek het al deelgeneem aan baie markte en Sanlam Handmade is ‘n goeie plek om my ware te wys.

Haar passie in ‘n neutedop: “Keramiek geniet wêreldwyd ‘n oplewing en hier is dit ewe gewild. Dis iets wat net wonderlik is.”

2019-01-30T14:33:25+00:00