Boekuittreksel

Hanna 

Deur Maretha Maartens

Hanna is kinderloos. Haar man, Elkana, moet seuns hê om sy priesterlike pligte as Leviet voor die Here na te kom, en ná nege jaar trou hy weer. Pennina skenk lewe aan een kind ná die ander. Maar Hanna sukkel met Pennina se teenwoordigheid in haar huis. Boonop praat die mense. Is haar kinderloosheid die Here se straf vir iets wat sy gesondig het? Sal Hanna kan vrede maak, met haarself en met Pennina? Sal sy guns kan vind in die oë van God sodat Hy haar lamp weer aansteek en die donker verdryf?

Uittreksel

“En nou wil jy vir jou die dogter van ’n Leviet as tweede vrou neem?” het sy, Hanna, dit later, minute of ure later, uitgestamel. Dit was nag. Die dag sou nooit weer breek nie. Sy het sy profiel in die lig van die oggendster gesien. Hy het soos Elkana gelyk en tog ook nie.

“Die Wet laat dit toe,” het hy byna klankloos geantwoord. “Ek het die priester Eli verlede jaar in die tabernakel in Silo daaroor geraadpleeg. As ’n vrou tien jaar lank onvrugbaar bly, staan dit haar man vry om ’n tweede vrou in sy huis te bring om vir hom seuns te verwek.”

“Wie het jy in gedagte?” Sommerso. Wanneer jy uit jou menswees geskok is, praat jy uiteindelik sommerso.

Die naam van die Levitiese meisie wat hy as tweede vrou, as moeder van sy kinders by hul kliphuis wou inbring, het haar soos ’n klip teen die bors getref.

“Peninna, dogter van Elisafan, die leerlooier,” het Elkana gesê.

Peninna, die beeldskone, geil meisie wat die hare van die velle vir haar vader met haar skerp geslypte mes afkrap. Peninna wat die velle saam met haar broers na die bakke dra om hulle daar in die water met die verrotte sumakblare te week. Peninna, aan wie die wit kalk en die stank van die hondemis waarmee sy die velle bewerk, maar altyd gekleef het.

Die lang gesprekke ná die aankondiging van sy besluit … Die onrus wat by die dag verdiep. Elkana se woorde: “Ek gaan haar nie as my slavin behandel nie. Verstaan jy dit, Hanna?”

Ek verstaan wat jy sê, maar ek kan nie daarmee saamleef nie, wou sy dit uitskreeu. Jy is myne. ’n Huwelik is vir twee, nie vir drie nie.

“En as ons my onvrugbaarheid maar net sou aanvaar, Elkana? Kan ons nie maar daarby probeer berus en …”

“Nee, Hanna. Ons kan nie. Ek kan nie.”

O, die gesprekke ná sy besluit. Soos ’n boekrol is die nuwe bestaan wat daar vir hulle sou aanbreek, voor haar oopgerol. Hy het gelees en sy wat nooit leer lees het nie, het verslae geluister.

“Trou, Hanna, is nie soos om ’n donkie of slavin aan te skaf nie. Wanneer ’n man trou, bring hy ’n mens in sy huis – iemand anders se dogter. Jy weet dit self. Jy is die dogter van ’n pa wat jou onderrig en opgevoed het om ’n godvresende vrou vir ’n man te kan wees. Ek is daardie man. Jou pa het jou in volle vertroue aan my toevertrou. Wat sou jou pa van my gedink en gesê het as ek jou met minagting sou behandel? As ek jou sou laat voel het asof ek jou net gebruik? Asof ek die lewe uit jou kou soos wat ’n mens die sap uit granaatpitte kou en wat in jou mond oorbly, op die grond uitspoeg? Die tweede vrou wat ek in my huis bring, is ook die dogter van ’n pa wat haar belange op die hart dra. As ek my verantwoordelikheid as man nie sou nakom nie …”

Sy wou van hom af wegvlug. “Watter verantwoordelikhede, Elkana?”

“Alles wat jy van my ken, Hanna,” het hy sag gesê. “Niks minder nie, niks meer nie.” Hy het haar teen hom probeer aantrek, maar sy was stram. Sy wou nie vasgehou word nie.

“Ek gaan jou van niks ontneem nie, Hanna,” het hy haar verseker. “Ek belowe jou dit.”

“ ’n Vrug wat in twee gesny word,” het sy kil gesê, word twee helftes. “As ek ’n spanspek op ons tafel middeldeur sou sny en een helfte vir … vir Abigal of Rispa of wie ook al sou gee, kan daar nie meer ’n hele spanspek vir ons twee oor wees nie. Dit is onmoontlik, en jy weet dit.”

“My liefde vir jou is nie ’n spanspeknie, Hanna.”

Goedgesindheid en opregtheid is deel van Elkana wese. Hoe kon sy, Hanna, van hom verwag om Peninna om watter rede ook al afsydig te behandel? Hy het haar vooraf daarop voorberei dat hy reg teenoor Peninna sou optree. En hy het. Die drie van hulle saam onder een dak was maande lank so vreemd dat hulle om die beurt geswyg, buitentoe gevlug en dan weer teruggekom het. Al drie van hulle was so senuweeagtig soos skape wat tussen ’n ander boer se skape in ’n onbekende kraal ingejaag word.

Elkana het nie jare lank gewag nie. Dit is nie in sy aard nie. Skaars twee maande later het hy Peninna by die kliphuis ingebring. Die vloer van die kamer wat hy vir haar – en vir sy nagbesoeke aan haar – aangebou het, was nog beswaarlik droog. Spoedig sou hy meer vertrekke moes aanbou.

Het hy geweet dat iets geskeur het soos wanneer ’n weefwerk waaraan daar lank geweef is, aan ’n doringboom se tak hang en deur ’n donkie beetgekry word? Donkies gee nie bes nie. Hulle slaan die tande in en bly ruk. Wat hulle ook al beet het, moet tussen die takke en dorings uit. Wat dan oorbly, is die reste van wat daar was voordat die dier dit beetgekry het.”

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van Hanna deur Maretha Maartens  met komplimente van Lux Verbi wen. Stuur jou naam, straatadres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae@leef: Vraag: Wat is Hanna se man se naam? Sluitingsdatum: 28 Februarie 2019.
2019-01-29T21:42:13+00:00