Vra jouself…

Deur Amanda de Lange | Foto Hanneri de Wet

Dit is nie wát met jou gebeur nie, maar hóé jy dit beleef wat die impak van emosionele trauma bepaal. Maar hoe hanteer ’n mens dit? Amanda de Lange help jou om die regte vrae te vra.

Emosionele en psigologiese trauma is die gevolg van uitsonderlik stresvolle gebeure wat jou gevoel van geborgenheid vernietig en jou hulpeloos laat voel in ’n gevaarlike wêreld. Traumatiese gebeure sluit dikwels dinge in soos ’n voorval waar jou lewe of veiligheid bedreig is, maar die werklikheid is dat enige situasie wat jou oorweldig laat voel traumaties kan wees, selfs wanneer dit nie fisieke gevaar behels nie.

Wat trauma betref is dit nie die objektiewe feite wat bepaal of iets traumaties is of nie, dit is die persoon se emosionele belewenis van die gebeure wat deurslaggewend is. Hoe groter jou vrees is en hoe meer hulpeloos jy in ’n situasie voel, hoe meer waarskynlik is dit dat jy getraumatiseerd is.

 Van die mees algemene oorsake van trauma is die volgende:

Eenmalige gebeure, soos ’n ongeluk, besering, gewelddadige aanval, veral as dit in jou kinderjare gebeur het.

Aanhoudende, meedoënlose stres, soos byvoorbeeld om in ’n gewelddadige omgewing te woon, ’n lewensbedreigende siekte te moet hanteer, gereelde traumatiese gebeure, moeilike lewensomstandighede, ensovoorts.

Dinge wat dikwels oorgesien word, is chirurgie, die skielike dood van iemand anders, die verbrokkeling van ’n belangrike verhouding (nie noodwendig ’n liefdesverhouding nie – dit kan vriendskappe ook insluit), ’n vernederende of diep teleurstellende ervaring, wreedaardigheid (self of die aanskouing daarvan).

As enige van hierdie dinge vir jou bekend klink of tot jou spreek, is die eerste ding wat jy moet bepaal is of jy professionele hulp nodig het. Dit hang af van die graad van trauma wat jy ervaar. Ligte trauma kan heel moontlik hanteer word deur net goed na jouself om te sien, maar erge trauma wat nie beter word nie, vra vir aandag.

 Vra Jouself: Wat is my simptome? Sukkel ek om te funksioneer – tuis of by die werk? Het ek probleme met uiterste vrees, angs of depressie? Is dit moeilik om hegte, bevredigende verhoudings te vorm? Is daar angswekkende herinneringe, nagmerries of terugflitse na ’n traumatiese gebeurtenis waarvan ek nie kan ontsnap nie? Ignoreer ek dinge wat my aan my trauma herinner? Voel ek emosioneel afgestomp en gediskonnekteer van ander?

As jy ja op selfs net ’n paar van hierdie vrae geantwoord het, moet jy dit ernstig oorweeg om professionele hulp te kry. Trauma genees selde vanself.

Enige trauma, lig of diepgaande, kan veroorsaak dat ons onsself teen meer daarvan wil beskerm. Ongelukkig is hierdie “beskerming” dikwels presies wat ons nié nodig het nie.

Vra jouself: Isoleer ek myself? ’n Mens wil jouself dikwels van ander mens afsonder nadat jy deur trauma is, maar isolasie gaan dinge net erger maak. Wanneer jy tyd deurbring saam met mense wat jou liefhet en vir jou omgee, help dit om tot jou genesing by te dra. Doen moeite daarmee om tyd saam met ander deur te bring, selfs al is dit net kort kuiertjies.

Daar is heelwat dinge wat jy vir jouself kan doen om jou te help deur ’n traumatiese tyd. Dit begin met die vorige punt – om jou nie te isoleer nie – en strek verder in selfsorg in. Die goeie goed wat jy vir jouself kan doen, sluit in om gesond te leef wat betref eetgewoontes, genoeg slaap en oefening, om sosiaal te wees en onnodige stres te vermy.  

Vra jouself: Wat is die dinge wat ek kan begin doen om beter na myself om te sien? Maak ’n lys van minstens drie dinge wat jy kan doen en beplan hoe jy dit gaan doen. Maak jouself teenoor iemand verantwoordbaar om by jou plan te hou.

Amanda de Lange is ’n spesialis-lewensafrigter, veranderingstrateeg en spreker en skrywer. Sy doen ook genesende afrigting, wat spesifiek op die proses van innerlike genesing fokus. Kontak haar by 0846090344 of amanda.dlange@gmail.com

Lees meer

Wees vakansie-slim

Om weer tuis te kom

Dieper water deur Jimi le Roux

Ons kuier by La Petite Ferme

2018-12-03T18:49:41+00:00