Lééf mooi

Sonveilig

Deur Christine Ferreira | Foto Poetry

Dis weer tyd om die son te soek – met ‘n lyf reg vir see en strand. Maar onthou…

Vir sonliefhebbers val die son se hitte soel op die vel. Maar onthou, blootstelling aan die son sonder die nodige sorg en beskerming kan gevaarlik wees. Die son se strale is in die Suidelike Halfrond feller as wat jy dink en is vir tot 90 persent van die veroudering van die vel verantwoordelik. Dit verniel nie net jou vel nie, maar kan ook velkanker veroorsaak. Behandel dus jou vel (al dink jy dit is hoe sterk) én die son hierdie somervakansie met respek.

Wees sonslim

  • Hoe hoër die uitstraling van UV-strale van die son, hoe groter is die risiko dat jou vel sal verbrand.
  • Vermy die son altyd tussen 11vm. en 3 nm.
  • Oppervlakke soos water en sand, wat lig weerkaats, verhoog die intensiteit van bestraling.
  • Hoe hoër bo seevlak jy is, hoe intensiewer raak die son se strale.
  • Smeer altyd sonskerm aan 30 minute voor jy in die son kom sodat die UV-beskerming ten volle kan ontwikkel. As jy vir ‘n lang tydperk in die son gaan wees, behoort jy weer sonskerm aan te smeer. Wend ook weer sonroom aan die lyf nadat jy geswem of gestort het.
  • ‘n Nat vel is geneig om makliker te brand as ‘n droë vel. Droog dus altyd goed af nadat jy geswem het voordat jy weer sonroom aansmeer.
  • Onthou, die son het intensiewe sorg ná sonbrand nodig. Kies ‘n verkwikkende jel met aloe vera om die vel af te koel en te streel.

Sleutelwoorde

UVA-strale: UVA-bestraling penetreer die dermis en is verantwoordelik vir direkte pigmentasie en veroudering van die vel.

UVB-strale: Dié bestraling tref die epidermis en verbrand die vel.

SBF (Sonbeskermingsfaktor): Dis ‘n riglyn wat dui op die tydperk wat jy in die son kan bly sonder om te brand. Dit beteken as jou vel ná 10 minute in die son sal brand, kan jy nou 15 of 25 keer langer in die son bly sonder om te brand.

PABA-vry: PABA is ‘n afkorting vir para-aminobensoësuur, wat allergiese reaksies en ligsensitiwiteit kan veroorsaak. Die jongste sonbrandmiddels bevat nie meer dié bestanddeel nie.

Liposome: Dit verwys na klein sfeertjies in rome wat aktiewe bestanddele bevat en vervoer.

Mikro-pigment: Dis pigment wat ‘n lagie op die vel vorm en skadelike strale soos ‘n spieël van die vel weerkaats om die uitwerking daarvan te neutraliseer.

UV-filter: Dis filters in sonbrandrome wat die skadelike energie van UV-strale absorbeer en neutraliseer.

Melanoom: Dit verwys na ‘n tipe velkanker wat afkomstig is van die selletjies wat melanien in die vel vervaardig. Dit versprei vinnigers as enige tipe velkanker en word meestal gediagnoseer as ‘n moeisie van kleur, grootte of vorm verander.

Velveroudering: Veroudering van die vel word deur sonblootstelling vererger. Elastien en kollageenweefsel se gesonde en egalige samestelling en struktuur word deur die son beskadig en dit veroorsaak plooie en lyne. Velveroudering is ook sigbaar in ‘n oneweredige veltonus, droogheid, vergrote porieë, ‘n gebrek aan elastisiteit en soepelheid en ‘n dowwe, lewelose voorkoms.

2018-12-03T18:49:53+00:00