Sielsmaats

Alleen tydens die Feestyd…

Deur Johan Ferreira | Foto Pexels

Hoe gemaak as jy nog steeds, of weereens die Kerstyd alleen moet aandurf?

Desember is weer hier en ek is steeds sonder ‘n sielsmaat. Die gedagte aan die feesdae laat my keel sommer toetrek van angs.  My familie is dierbaar en lief en betrek my altyd by húlle vieringe, maar daar is altyd die bedekte opmerkings oor my verhoudingstatus wat maar net nie verander nie.

Min mense verstaan die frustrasie wat ’n alleenloper beleef wat nie werklik los van ’n lewensmaat wil lewe en funksioneer nie.

Moedeloosheid oorval met tye die mees optimistiese en positiewe mens wat enkellopend en eensaam is. Hierdie moedeloosheid word dikwels gebore uit die onvermoë om te kan verstaan hoekom die kans op ’n betekenisvolle verhouding bloot buite bereik voel. Persone sal met tye in aanvaarding leef van hulle verhoudingstatus, maar word dan heel dikwels gekonfronteer met die geïdealiseerde prentjie van gelukkige paartjies.

Die verwagting van vriende en familie oor romantiese verhoudings skep groot spanning by die alleenloper ten tye van feesvieringe. Tydens hierdie seisoen van die jaar poog meeste mense om interpersoonlike geluk na te jaag deur tyd te skeduleer met hulle geliefdes om darem die goeie tye van die lewe positief te vier. Mense in gelukkige verhoudings beleef hierdie tyd van die jaar geweldig positief en aangenaam en skep heel dikwels intensioneel die atmosfeer van geluk. Ons kies om saam met mense te wees vir wie ons lief is en wil graag hulle persoonlike geluk deel en beleef.  Hierdie aktiwiteite gebeur in pare, en mees algemeen in groepe.

Die verwagting van hierdie goepe word bepaal deur die sosiale reëls van die samelewing waarin die groep funskioneer. Hierdie sosiale reëls behels oor kulture heen die verwagting van romantiese verbintenis tussen individue. Daardie mense wat dus nie aan die sosiale verwagtings voldoen nie, beleef sosiale isolasie en spanning.

Die vraag wat gereeld gevra word is of daar dan iets met my as mens kortkom dat ek nie eers hierdie mees basiese interpersoonlike kontrak met ’n ander mens kan sluit nie?  Die voortdurende selfondersoek kan uiteindelik na selfverwyt en ’n negtiewe selfsiening lei.  ’n Negatiewe beeld van die self is natuurlik uiters onaantreklik vir ander mense en kan die kanse op nuwe konneksies met mense verhoed.

Wat nou gemaak in hierdie tyd as ek nog steeds, of weereens alleen die Kerstyd moet aandurf?

  1. Vermy om in selfbejammering te verval. Bederf jouself met ’n positiewe ervaring – doen iets nuuts en deel hierdie ervaring met ander.
  1. Bly besig. Vermy lang tye van isolasie en verveling. Konsentreer op die positiewe inhoud in jou lewe of skep positiewe inhoud deur te kyk na jou belangstellings en stokperdjies.
  1. Wees aktief deel van die gesellighede. Berei jouself voor om lekker te gesels met almal wat jy gaan teëkom. Beplan jou gesprekke as dit moet en wees die vrolike en vermaaklike self waarvan jy en ander sal hou.
  1. Neem ’n vriend of vriendin saam na familie geleenthede om sodoende te vermy om die enigste enkellopende daar te wees. Hê beslis ’n antwoord reg vir daardie familielede wat die ontoepaslike en ongemaklike vrae vra.
  1. Bekyk die positiewe sy van enkellopend wees. Luister vir ’n slag met empatie na al jou vriende wat geen tyd vir hulleself het nie, wat al hulle geld op hulle maats of kinders spandeer. Wees dankbaar vir die voorregte van jou lewe.
  1. Maak ’n verandering in jou lewe – sny jou hare, verander jou klerestyl vir ’n aand, stel jouself bloot aan ’n ervaring wat nuut en opwindend is.

Meeste mense wat oor stres tydens die feesseisoen gevra word, sal aandui dat sosiale verpliginge hoog op die lys is. Hierdie geld nie net vir alleenlopers nie, maar speel wel ’n groot rol in hoe mense oor hulle verhoudingstatus voel. Daar blyk die verwagting te wees dat ’n vakansieromanse die hele seisoen sal red. Wees egter versigtig om nie halsoorkop en onverantwoordelik te wees net omdat jy eensaam is nie.

Natuurlik gaan dit jou ook niks in die sak bring om in jou huis te gaan wegkruip nie.  Die realiteit van iemand ontmoet, vereis dat jy sigbaar sal wees vir ander mense wat ook graag na konneksie soek. As jy nou al lank alleen is kan hierdie gedagte intimiderend wees, maar dit bly egter die eerste stap na die moontlikheid van ’n verhouding.  Wanneer jy reg is en genoeg moed bymekaar geskraap het, sal jy weer die speelveld van uitgaan en gesels met vreemdelinge moet aandurf.

Dr. Johan Ferreira is ’n sielkundige en verhoudingsterapeut in privaatpraktyk in Johannesburg. www.drjohanferreira.com.

Lééf Sielsmaats bied ’n veilige aanlynomgewing waar gelowiges op soek na liefde mekaar kan ontmoet. Besoek Sielmaats by www.sielmaats.co.za vir meer inligting.

2018-12-01T21:22:37+00:00