Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Retoer

Deur Marita van der Vyver (Lapa)

In hierdie boek openbaar dié gewilde skrywer haar hart en lewe. Die boek is ingedeel in afdelings, en elke afdeling se naam is die titel van een van haar boeke. Al lesende gaan die leser dus op reis saam met Marita van der Vyver, van Pretoria tot Provence; en terug. Die reis is nie altyd maklik nie. Sy neem die leser op ’n toer deur haar lewe en wêreld: Van haar jeugherinneringe – haar oumas, haar eerste juffrou en die kind wat sy was – tot haar dae op Stellenbosch, in Pretoria en natuurlik op die Franse platteland. Sy raak nostalgies oor ’n tiekieboks, die karre van haar kleintyd (’n bruin Opel en ’n geel Kewer), en laat die leser tegelyk skater en verlang. R160.

Gesonde gesinsverhoudings

Deur Johan Smith (CUM)

Die gesin is diep in die moeilikheid. Die lewe vandag is so ’n dolle gejaag dat ouers en kinders mekaar dikwels net so in die verbygaan sien, en in daardie skaars tye wat ons ’n oomblik vir onsself het, is ons vasgegom aan ’n skerm van een of ander aard. In hierdie boek gee Johan Smith praktiese en prettige raad hoe die gesin van die een-en-twintigste eeu kan wegkom van die digitale hulpmiddels en weer in ’n hegte verhouding met mekaar kan leef. Die boek help elke ouer om die tipe omgewing te skep waar kinders geborge voel en toegerus word om die toekoms met vertroue in te gaan. R129,95.

Toe-val-lig

Deur Amore Bekker (Tafelberg)

Van verpaste vlugte, deurklokkies wat in die nag lui, honde wat spoorloos verdwyn, onverklaarbare ontmoetings en herontmoetings… Amore Bekker het die die beste stories gekies uit haar luisteraars se soms ongelooflike vertellings van toeval en die draaie wat die lewe met ons loop, soos uitgesaai op RSG se Tjailatyd. Bekende skrywers soos Dana Snyman en Elsabé Brits, gewone mense en mense wat eerder anoniem wil bly, vertel van oomblikke toe die waarheid vreemder as fiksie was. Die boek bevat net minder as 100 stories wat jou sal laat lag, laat huil, laat wonder. R235.

Moods of nature

Deur Heinrich van den Berg (HPH Publishing)

In hierdie lywige koffietafelboek word die allermooiste natuurfoto’s van alle kleur gestroop. Dié swart, wit en oranje boek deur fotograaf Heinrich van den Berg is oorspronklik en interessant met onderskrifte wat ‘n kombinasie van digkuns en filosofie is. Die boek bied ‘n diepte van denke, beeld en ontwerp. Die ideale geskenk vir liefhebbers van die natuur wat daarvan hou om met nuwe oë na die wêreld om hulle te kyk. R790.

Platteland Seisoenskos

Deur Aletta Lintveldt (Human & Rousseau)

In Seisoenskos word jy genooi om heeljaar volgens die seisoen te eet. Verlekker jou in die lekkertes van elke seisoen: waatlemoen, perskes en druiwe in die somer; appels, grenadella en vye in die herfs; lemoene, nartjies en suurlemoene in die winter en avokado’s, kapertjies en spruite in die lente. Elke seisoen maak voorsiening vir voorgeregte, brood en happies, hoofgeregte en nageregte en gebak.Vir kosliefhebbers en avontuurlustiges. R325.

Onwrikbare vertroue

Deur Joyce Meyer (Struik Christian Media)

Joyce Meyer wys aan ons hoe ‘n lewe van algehele vertroue op God lyk. Geïnspireer deur haar eie ervarings en God se Woord, lei sy die leser na ‘n plek van vaste vertroue, na ‘n seker wete dat God jou wil seën op elke gebied van jou lewe – geestelik, emosioneel, finansieël, in jou verhoudings en in jou werk. Ongeag jou verlede, jou huidige omstandighede of onsekere toekoms, wanneer jy leer om elke dag op God te vertrou, sal jy die vreugde ervaar wat Jesus gekom het om vir ons almal te gee. Ander het jou dalk al in die steek gelaat, maar God sal nooit nie. R189,95.

Onwankelbare hoop

Deur Max Lucado (Struik Christian Media)

Is dit waaraan jy vashou in die storms van die lewe sterker as dit wat jy deurmaak? Max Lucado bied bemoedigende, praktiese leiding om moeilike omstandighede te bowe te kom, innerlike vrede te kry, vasberadenheid te bou en ‘n beter toekoms te verseker. Die skrywer wys dat niks ‘n desperate, moeë hart ophef soos God se beloftes nie. Vir elke probleem in die lewe het God aan ons ‘n belofte gegee. Max Lucado ondersoek twaalf van God se beloftes wat ook vir hom deur die jare keer op keer nuwe hoop gegee het. Hy verduidelik ook hoe dié beloftes jou sal toerus om uitdagings te oorkom, standvastigheid te ervaar en wyse besluite te neem. R129,95.

Uit die Beek 2019

Deur Barend Vos (Lux Verbi)

Vanjaar verskyn die klassieke Uit die Beek weer uit die pen van die bekroonde skrywer Barend Vos. Die tekskeuse vir elke dag is op die Revised Common Lectionary gebasseer. Dit maak hierdie geliefde Bybelse dagboek soos altyd geskik vir persoonlike stiltetyd, vir huisgodsdiens en vir Bybelstudiegroepe. Die boek bevat 365 dagstukkies wat jou sal help om geestelik te groei en die Here te leer ken soos Hy werklik is. R185.

2018-12-01T14:50:41+00:00