Boekuittreksel

‘n Nuwe seisoen

Deur Beverly Lewis

Sallie Riehl droom nog altyd daarvan om ten minste een keer te reis voordat sy by die kerk aansluit. Daarom is sy in ekstase toe sy die geleentheid kry om dié somer as ‘n kinderopasser vir ‘n welaf gesin in Cape May te gaan werk. Maars selfs al moet sy slegs tydelik van haar ouerhuis in Paradise afskeid neem, beteken dit dat sy haar doop met nog ‘n jaar sal moet uitstel en dat sy die man met wie sy veronderstel is om uit te gaan, moet agterlaat. Tog is die weke wat sy in Cape May deurbring, onvergeetlik – deels weens Kevin, ‘n Mennonitiese jong man wie se vriendskap sy gou begin koester. Het sy oorhaastige beloftes gemaak, of sal sy slegs by die huis kry wat sy die meeste begeer?

Uittreksel

“Die Logans arriveer ’n kort rukkie later en Sallie wag terwyl die gasvrou hulle laat sit en die spyskaarte uitdeel, en vir hulle sê wie hulle vanaand sal bedien.

Toe Sallie uiteindelik die gesin verwelkom, merk Leonard Logan op hoe lekker dit is om in haar afdeling te sit.

Autumn draai bedees haar koppie skeef. “Dis lekker om jou weer te sien, mejuffrou Sallie.”

Willkumm aan elkeen van julle,” sê Sallie. Soos voorheen val dit haar op hoe baie Autumn van haar hou.

Monique trek dadelik haar handsak nader en haal haar selfoon uit sodat sy vir Sallie foto’s van baba Connor kan wys. “Hy is nou maar ’n maand oud,” sê die mooi vrou met die rooiblonde hare terwyl sy vinnig na haar man kyk, “en sedert sy koms is dit die eerste keer dat ons iewers anders is as by die huis.”

Autumn knik en glimlag, haar geelblonde hare wip teen haar slanke skouers. “Hy huil baie,” sê sy en kyk na haar ma.

“Hy het net ’n bietjie koliek, my skat.” Monique vat Autumn se hand.

“Connor lyk net soos Monique met haar helderblou oë,” sê Len dadelik.

“Wat ’n oulike seuntjie,” sê Sallie toe sy nader leun om na die foto’s op Monique se selfoon te kyk.

Die Logan-gesin lyk ontspanne en heel opgewek toe Sallie hulle bestelling vir drinkgoed neem – ’n ystee en twee limonades.

“Dalk kan jy self kom kyk hoe ons baba lyk,” sê Autumn. Sy sit regopper in haar stoel toe haar ma in haar rigting kyk.

Sallie stem in, steek dan haar hand in haar sak en haal die kaartjie uit wat sy gemaak het. “Veels geluk met jou verjaardag, Autumn, al is dit ’n bietjie laat.”

Die dogtertjie klap haar hande asof die kaartjie ’n kosbare geskenk is. “Dankie!” Autumn maak dit oop en haar lippe beweeg toe sy die verse sag lees. Dan kyk sy op na Sallie en glimlag breed. “Ek is mal daaroor.”

Monique glimlag stralend vir Sallie. “Jy is so dierbaar.”

“Dis nes jy is, Sallie,” stem Len saam en voeg dan by: “As jy ’n oomblik het, is daar iets wat ons graag met jou wil bespreek.”

“Natuurlik,” sê Sallie en loop dan weg om hulle koeldranke te gaan haal. Sy wonder of dit enigiets te doen het met Yvonne se skimpe by die mark.

Haar gedagtes gaan terug na die eerste keer toe sy die Logans ontmoet het. Sallie het gehoor dat hulle al die pad van Philly af gekom het net om ’n tuisgekookte Amish-ete in die Lancaster-distrik te geniet. Yvonne het later verduidelik dat haar man en Len universiteitsvriende was en dat hulle roeiers in die universiteit se roeispan was – Len was kaptein van dié klub wat deur studente bestuur is. Die twee mans het nog altyd kontak behou en Len het ’n dekade of so gelede vir Lyman gehelp om die ou skuur op te knap.

Sallie tel die skinkbord met die ystee en limonades op om dit na die Logans se tafel toe te neem. Sy beskryf die dag se spesiale aanbiedings, en Len gesels vinnig met Monique en Autumn voordat hulle voorgereg bestel.

“Ek sal ’n paar ekstra borde bring as julle wil deel,” sê Sallie.

“Dit sal perfek wees,” sê Monique sag. “Dankie.”

Nadat Sallie terug is met die borde, en bly dat sy vanaand nie so baie klante het nie, begin Len haar vertel van hulle vakansiehuis in Cape May, New Jersey, waar hulle elke jaar ’n groot deel van die somer deurbring. “Monique hou daarvan om van ons balkon af te kyk hoe die son opkom en ondergaan,” sê hy. “Cape May is een van min plekke waar jy albei kan sien.”

Sallie luister met groot belangstelling en probeer haar dit voorstel.

Monique se oë glinster terwyl sy kyk hoe haar man sy hande op die tafel vou. “Ek is regtig lief vir die plek, maar omdat Connor net ’n baba is, sal dit vir my moeilik wees om hierdie somer saam met Autumn tyd op die strand deur te bring, of op enige ander plek.”

Len knik. “En ek is tydens die week by die werk … wat my by ons punt bring. Jy sien, ons soek iemand wat Autumn hierdie somer geselskap kan hou, en iemand wat Monique ook af en toe met die baba kan help sodat sy ’n blaaskans kan kry. Autumn het toe met die idee vorendag gekom dat ons jóú moet vra om haar oppasser te wees, indien dit iets is waarin jy sou belangstel,” sê hy. “Ek het reeds die vrymoedigheid geneem om die idee met Lyman en Yvonne te bespreek. Hulle het my verseker dat jy in die herfs kan terugkom werk toe. Jy sal ongeveer agt weke weg wees.”

“Ons plek is net ’n kort entjie se stap van die stad se strande af,” voeg Monique vinnig by.

“Die see?” sê Sallie verbaas.

“Dit is absoluut wonderlik,” sê Monique.

Hoe kan ek nee sê? dink Sallie skielik, en sy wil sommer dadelik instem. Die idee dat sy nog steeds ’n avontuur kan hê én tyd saam met hierdie wonderlike gesin kan deurbring, trek haar onmiddellik aan. “Dit is so gaaf van julle om my te vra. Wanneer beplan julle om te gaan?”

“Ons beplan om Saterdag veertien Junie te arriveer,” sê Len.

Nogal gou. “Dit is so ’n wonderlike geleentheid … ” Sy moet haarself dwing om stadiger asem te haal, en sy is steeds in die versoeking om dadelik en ekstaties jah uit te roep. “Ek moet egter daaroor dink. Is dit reg so?”

“Nou goed.” Autumn knip haar mooi bruin oë. “Maar net totdat ons nagereg eet,” sê sy, haar gesig stralend.

“Soos jy kan sien, het ons dogter jou met die hand uitgesoek.” Len lag.

“Wel, ek voel regtig geëerd. Denki… Ek bedoel, dankie.”

Sallie knip haar oë teen die vreugdevolle trane toe sy van hulle tafel af wegstap. O, wat ’n seën sal dit wees indien dit uitwerk!

Nadat sy die Logan-gesin se bestellings geplaas het, glip Sallie weg na die ruskamer vir ’n happie van nig Essie se soutbeesvleistoebroodjie met tuisgemaakte agurkies wat in skyfies gesny is. Sy kry nie tyd om te kyk wat nog in die mandjie is nie, maar soos sy vir Essie ken, is daar waarskynlik ’n heerlike nagereg ook, asook tuisgemaakte tjou-tjou of appelstukke en grondboontjiebotter. Essie is immers bekend daarvoor dat sy meer kos inpak as wat nodig is. Vir nou eet Sallie egter net genoeg om haar aan die gang te hou totdat die besigste tyd van die aand verby is.

O, om die see te kan sien, dink sy. En om die somer as ’n kinderoppasser deur te bring. Sy skud verstom haar kop. Dit is byna te goed om waar te wees, maar sy moet regtig eers met Dat en Mamma daaroor praat, veral omdat sy so lank weg sal wees. Sy sal die vereiste doopklasse misloop, wat beteken dat sy eers oor nog ’n jaar by die kerk kan aansluit.

En dit nadat ek Mamma belowe het om dit hierdie somer te doen …

Sallie gaan terug na die Logans se tafel toe. “Weereens dankie dat julle my gevra het om julle kinderoppasser te wees. Ek wil graag ja sê, maar ek moet dit eers met my familie bespreek.”

“Absoluut,” sê Len. “Bel ons net sodra jy besluit het. Ek weet iemand gaan gretig op jou antwoord wag.” Hy kyk na Autumn en knipoog; sy kan skaars stilsit.

Monique verseker Sallie dat hulle haar goed sal betaal en ook al haar uitgawes sal dek. “Ons het ’n huishoudster wat ’n paar keer per week aandete maak. Jou primêre verantwoordelikheid sal wees om tydens die week tyd saam met Autumn deur te bring en om soms vir ons middagete te maak. Ek sal dit natuurlik ook waardeer as jy af en toe na Connor kan kyk sodat ek ’n bietjie kan rus,” sê Monique en sug. “Wanneer Len naweke daar is, sal hy natuurlik dinge saam met Autumn wil doen, so jy sal Saterdae en Sondae vry wees om jou eie ding te doen.” Sy noem ook dat hulle glad nie van Sallie sal verwag om te bestuur nie, aangesien daar ’n bus is wat na die Washington Street-inkopiesentrum en die promenade ry, asook trems. “Ons kan ook altyd ’n taxi bel, indien dit nodig sou wees.”

Autumn glimlag en knik haar kop. “Ek sal jou alles wys, juffrou Sallie. Jy sal regtig van die Salt Marsh Safari hou. Ek en Mamma gaan elke somer.” Sy bly stil, kyk vinnig na haar ma en laat sak haar kop vir ’n oomblik. “Wel, ons het altyd voordat… ”

Daar is ’n ongemaklike stilte en vir ’n oomblik praat niemand nie. Dan verbreek Len die stilte toe hy saggies aan Autumn se skouer vat en sê: “Ons moet ’n paar aanpassings maak … wat normaal is met ’n nuwe baba in die huis.”

Jah,” stem Sallie saam toe sy die skielike verandering in Autumn se bui sien.

Hulle bespreek nog ’n paar besonderhede, en dan sê Monique sy sal die volgende Dinsdag vir Sallie meer inligting hê wanneer sy by die restaurant kom werk, dis nou natuurlik as Sallie die pos aanvaar.

“Dit klink wonderlik,” antwoord Sallie voordat hulle groet. Toe die Logans na die uitgang loop, kyk Autumn terug en lig haar een hand om te groet.

Dit moet moeilik wees om haar ma se aandag te deel nadat sy dit vir nege jaar net vir haarself gehad het.

Dit is vir Sallie moeilik om haar in Autumn se situasie in te dink, aangesien sy van die begin af nege broers en susters gehad het. Tog hou sy van die vooruitsig om die somer saam met so ’n dierbare dogtertjie deur te bring.”

‘n Nuwe Seisoen deur Beverly Lewis word uitgegee deur die Christelike Uitgewersmaatskappy. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/n-nuwe-seisoen-sagteband-1.

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van ‘n Nuwe Seisoen deur Beverly Lewis  met komplimente van CUM wen. Stuur jou naam, straatadres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae@leef: Vraag: Wat is die gesin se van by wie Sallie vakansiewerk gaan doen as kinderopasser? Sluitingsdatum: 30 Januarie 2019.
2018-12-01T17:09:04+00:00