Boekgesprek

Lééf gesels met Cor en Letitia Uys oor hul nuwe kinderboek, Jesus-avonture vir kaalvoeters.

Cor en Letitia Uys is al ongeveer 30 jaar betrokke by kinderbediening in Suid-Afrika en hulle is veral bekend as Oom Karoolus en Lente. Hulle bediening strek van gemeentes, jeugweke, kleuterskole en laerskole, kunstefeeste tot kinderteatergeleenthede. Hulle vervaardig en bied ook radio- en televisieprogramme aan, en hulle jarelange program, Maranataland, word gereeld op Christelike radio- en televisiestasies gehoor en gesien.

Vraag: Vertel ons bietjie meer van Oom Karoolus en Lente? Waar het dit alles begin?

Antwoord: Lente is ‘n 5-jarige dogtertjie wat altyd, deur dit wat sy sien of beleef, wonderlike dinge leer oor Koning Jesus, wanneer sy by haar oom, Oom Karoolus, in sy houthuisie gaan kuier. Dée twee karakters het hulself 31 jaar gelede vir die eerste keer op die radiogolwe aan luisteraars bekendgestel met die uitsaai van stories. Hiervandaan het die karakters hulself op verhoë regoor die land, en selfs buiteland, bevind. Hulle saai vandag nog uit op verskillende gemeenskapsradiostasies, asook op Christelike TV-kanale.

Vraag: Cor en Letitia, julle is al meer as 30 jaar betrokke by kinderbediening in Suid-Afrika. Hoekom juis ‘n bediening vir kinders?

Antwoord: Wel, dit het eintlik ‘n natuurlike ontstaan gehad. Nooit sou ons dink dat hierdie bediening ons lewe so sou impakteer nie. Ons het nog maar altyd ‘n passie gehad om die Blye Boodskap te vertel waar ons ook al is, maar hierdie het ‘n voertuig geword om die boodskap na soveel meer plekke te bring. Lente het eintlik saam met ons eie kinders haar bestaan gekry. Behalwe dat sy 5 jaar oud gebly het vir die res van haar lewe! 

Vraag: Vertel vir ons meer oor die boek Jesus-Avonture vir kaalvoeters? Waar het die idee van ‘n boek vandaan gekom?

Antwoord: Ons het jare gelede so iets oorweeg, maar omdat dit ‘n baie duur proses is om ‘n goeie produk, wat die ontwerp- en drukproses insluit, op die tafel te hê, het dit maar net ‘n droom gebly. Totdat Christelike Uitgewersmaatskappy ons sowat twee jaar gelede genader het. Ons was baie opgewonde. Ons het net geweet dat hierdie boek getrou moet wees aan die karakter van ons programme wat die inhoud aanbetref, en ook in hoe die karakters uitgebeeld sou word.  

Vraag: Die boek bevat 24 pragtige stories en elkeen met ’n belangrike les vir die kleingoed. Hoe belangrik dink julle is dit om so deur lekkerleesstories die kleingoed aan Jesus en die Bybel bekend te stel?

Antwoord: Dis vir ons baie belangrik dat die kinders van kleins af moet verstaan hoe God na hulle kyk – dat Jesus Christus ons met God versoen het en dat Hy die Rots is op wie hulle kan vertrou. As hulle hierdie waarheid kan ontdek, is dit genoeg. Ons vertrou dat die Here die saad wat in storievorm in hulle harte gesaai word, self sal laat groei.

Vraag: Daar is nie net stories nie, maar ook aktiwiteite soos doen-dinge, nuwe woorde wat hulle leer en ’n kort gebed wat hulle kan opsê of leer. Waarom is sulke aktiwiteite belangrik?

Antwoord: Herhaling is so belangrik, sal enige opvoeder vir jou sê, ter wille van vaslegging. So van die doen-dinge tot by die gebed in die storie, word ‘n herhaling van die boodskap van die storie.  

Vraag: Dan word die kleingoed ook bederf met ’n gratis CD saam met die boek. Julle gebruik nog altyd musiek as deel van die kinderbediening? Sal julle sê dit is makliker om met die kleingoed te kommunikeer deur musiek?

Antwoord: Musiek het die vermoë om die melodie en lirieke in jou kop te laat draai nadat jy dit gehoor het. Baie keer sing ons woorde van liedjies saam, en vergeet dit nie. Musiek is ‘n wonderlike manier om woorde en gedagtes te vervoer.  

Vraag: Is die liedjies op die CD spesifiek vir die boek geskep of is daar bekende gunstelinge ook?

Antwoord: Ons het die voorreg om sommer van die liedere wat ons gebruik op die verhoog as ons optree ook hier met die kinders te deel.

Vraag: Vir watter ouderdom kind is die boek gepas?

Antwoord: Dis gemik op voorskoolse en grondslagfase, maar ons weet dat die ongestrykte kinders (volwassenes wat die boek dalk gaan voorlees) dit net so baie sal geniet! 

Vraag: Wat wil julle graag deur die boek bereik? 

Antwoord: Vir ons was hierdie boek ’n droom wat waar geword het, mooier as wat ons ooit gedrooom het. Ons gebed is dat elkeen wat die boek lees die wete sal hê: God het my lief, nog altyd, ongeag wat, want Hy het my sy Seun gegee sodat ek vir ewig met Hom kan leef. 

Jesus-avonture vir kaalvoeters deur Cor en letitia uys word uitgegee deur CUM. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/jesus-avonture-vir-kaalvoeters-hardeband-met-cd.

2018-12-01T14:06:31+00:00