Hartskos

Bak, beter, beste!

 Deur Christine Ferreira | Foto’s Toby Murphy

Zola Nene se jongste kookboek, Simply Zola The Journey Continues, is ‘n fees vir die oog en tafel.

Ons het haar leer ken op SABC3 se Expresso Morning Show waar Zola soggens ‘n insetsel gelewer het vanaf 2010 tot 2017. Zola het aan die Institute of Culinary Arts in Stellenbosch studeer, waarna sy as die spysenieringsbestuurder van ‘n groot spysenieringsmaatskappy aangestel is. Haar eerste kookboek Simply Delicious is deur die Gourmand Cookbook Awards aangewys as “Best in the World” in die kategorie waaraan daar deelgeneem is. Zola was ook een van die beoordelaars vir die Great South African Bake Off. Haar jongste kookboek is propvol inspirasie en smullekker resepte in eg Zola-styl.

Zoë se glutenvrye koek

 Maak 1 koek

4 heel, ongeskilde lemoene
200 gr ontpitte dadels
4 ryp piesangs
15 ml bakpoeier
200 gram rou mieliemeel
200 gr gemaalde amandels
200 gr onversoete kakaopoeier
10 ml vanielje-ekstrak
335 ml klappermelk

die vloeistof van 1 x 440 gr blikkie kekerertjies, geklits tot lig en skuimerig

Vulsel

125 ml klapperolie
4 ryp avokado’s
200 ml esdoringstroop
500 ml onversoete kakaopoeier
15 ml vanielje-ekstrak
15-30 ml klappermelk

Bo-laag

Bessies van jou keuse

  1. Plaas die heel lemoene in ‘n pot, bedek met koue water en laat dit vir 45 minute lank kook, of totdat dit sag is.
  2. Voorverhit die oond tot 108 grade Celcius. Smeer 3 x 15cm ronde koekpanne.
  3. Verwyder die lemoene uit die water, sny in die helfte en verwyder die pitte. Plaas dit in ‘n voedselverwerker saam met die dadels en piesangs en verwerk tot ‘n gladde mengsel.
  4. Meng die bakpoeier, mieliemeel, gemaalde amandels en kakaopoeier in ‘n mengbak. Roer die lemoenpuree by en voeg dan die vanielje-ekstrak en die klappermelk by.
  5. Vou die kekerertjie-vloeistof saggies in die mengsel.
  6. Verdeel die mengsel eweredig tussen die koekpannetjies en bak vir ongveer 1 uur lank. Toets met ‘n houtstokkie (skewer) na 45 minute om te sien of die koeke gaar is. Laat die koeke in die panne afkoel.
  7. Vir die vulsel, kombineer al die bestanddele in ‘n voedselverwerker en meng tot glad. Plaas die vulsel tussen die lae koek en versier met ‘n verskeidenheid bessies.

Kugelhopf (foto regs)

10 gr kitsgis
60 ml warm water
125 ml pitlose rosyntjies
125 ml goue sultanas
60 ml ongesoute botter, versag, plus ekstra vir borsel
60 ml bruin suiker
5 ml sout
5 ml kaneel
2,5 ml gerasperde neutmuskaat
125 ml warm melk
2 eiers, geklits
400 gr broodmeel
15 heel amandels

versiersuiker om bo-oor te sif

  1. Los die gis op in die warm water.
  2. Voeg die rosyntjies, sultanas, botter, suiker, sout, speserye en warm melk saam in ‘n mengbak. Roer totdat die suiker opgelos is. Voeg die gismengsel en die geklitse eiers by die vrugtemengsel en meng deeglik. Voeg genoeg meel by om ‘n sagte, dog ferm deeg te vorm. Plaas in ‘n gesmeerde bak, draai een keer om om die oppervlak van die deeg met die botter te bedek. Bedek met ‘n vadoek en laat die bak op ‘n warm plek staan om te rys totdat die deeg in grootte verdubbel.
  3. Borsel ‘n Bundt-bakblik van keramiek met die versagte botter. Plaas die amandels aan die onderkant van die bak.
  4. Knie die deeg en vorm in ‘n rol. Voeg die punte van die deegrol saam om ‘n sirkel te vorm wat in die Bundt-bakblik sal pas. Plaas die deeg bo-op die neute in die bak. Bedek en laat dit weer rys tot twee keer die grootte wat dit nou is.
  5. Voorverhit die oond tot 180 grade Celcius en bak die Kugelhopf vir 35-40 minute tot gaar.
  6. Haal uit die oond en verwyder die Kugelhopf dadelik uit die bakblik en laat dit verder op ‘n draadrakkie afkoel.
  7. Strooi met versiersuiker voordat die bedien word.
Om die deeg te maak, meng die meel, sout, botter en genoeg water totdat dit sag en soepel is.

Bäckeoffe

Bedien 6

2 uie, gesny
2 preie, gesny
4 wortels, geskil en in stukke gekap
1 kg varknek, in stukke gesny
1 kg lamsnek, in stukke gesny
3 lourierblare
6 takkies vars tiemie
6 jeneverbessies
5 ml heel peperkorrels
750 ml rieslingwyn

Om saam te stel

150 gr ongesoute botter, versag
4 aartappels, geskil en gesny
sout en peper
400 ml water

Deeg

500 gr koekmeel
10 gr sout
50 gr ongesoute botter, versag
1 eier, geklits

  1. Plaas die uie, preie, wortels, vark, lam, lourierblare, tiemie, jeneverbessies, peperkorrels en wyn in ‘n bak en meng goed. Bedek met kleefplastiek en plaas in die ysaks om oornag te marineer.
  2. Die volgende dag: Voorverhit die oond tot 160 grade Celcius. Smeer die bodem en kante van ‘n groot oondbak met ‘n lekker stewige klomp botter.
  3. Plaas die helfte van die aartappels onder in die bak. Geur met sout en peper en stip met botter. Bedek met die vark, geur weer, en voeg dan ‘n laag groente by, gevolg deur die lam en die res van die groente. Geur elke laag met sout en peper. Bedek met die res van die aartappelskywe. Gooi die marinade deur ‘n sif en giet oor die kasserolmengsel.
  4. Om die deeg te maak, meng die meel, sout, botter en genoeg water totdat dit sag en soepel is.
  5. Plaas die deksel van die oondbak op die bak en vou die deeg om die kante om sodoende die bak lugdig te maak. Borsel met geklitse eier. Plaas in die oond en bak vir 4 ure.

Hoender & wafeltoebroodjie (foto regs) 

Bedien 4

8 ontbeende hoenderdytjies waarvan die vel verwyder is
250 ml karringmelk
60 ml sriracha-sous (of jou gunsteling chillie-sous)
30 ml gemaalde knoffel
750 ml koekmeel
30 ml gedroogde origanum
5 ml rooipeper
30 ml gerookte paprika
15 ml sout
5 ml gemaalde swartpeper
olie vir diep-braai

Wafels

500 ml koekmeel
5 ml sout
15 ml bakpoeier
30 ml gekapte vars sprietuie
2 eiers
375 ml karringmelk
60 ml ongesoute botter, gesmelt

Om te bedien

60 ml esdoringstroop gemeng met 250 ml suurroom

  1. Plaas die hoender in ‘n bak, voeg die karringmelk, sriricaha-sous en knoffel by. Laat dit dan vir ten minste twee ure lank marineer, maar verkieslik oornag.
  2. Om die wafels te maak, meng die 500 ml koekmeel, sout, bakpoeier en sprietuie saam. Klits die eiers, karringmelk en gesmelte botter en meng goed deur die droë bestanddele. Verhit ‘n wafelmaker en spuit met ‘n baksproei. Bak die wafels tot goudbruin en krakerig en hou dit eenkant. Die mengsel behoort 8 klein wafels te lewer.
  3. Meng die 750 ml koekmeel, origanum, rooipeper, paprika en sout en peper. Roer 60 ml van die marinade-mengsel by die meelmengsel totdat die mengsel groot vlokkies vorm. Doop die hoenderborsies een vir een in die mengsel en plaas op ‘n bakplaat. Verkoel in die yskas vir 30 minute.
  4. Verhit die olie tot 170 grade Celcius. Diepbraai die hoenderstukke tot goudbruin en gaar. Maak ‘n toebroodjie deur twee stukke hoender op ‘n wafel te plaas, met die sous te bedrup. Rond jou toebroodjie af met ‘n tweede wafel bo-op.

Resepte en uittreksels met toestemming gepubliseer uit Simply Zola deur Zola Nene, uitgegee deur Struik Lifestyle 2018.

2018-12-01T14:28:22+00:00