Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

There Goes English Teacher a memoir

Deur Karin Cronje (Modjaji Books)

In hierdie memoir vertel bekroonde skrywer, Karin Cronje, van twee jaar se avonture as onderwyseres in ‘n klein Koreaanse dorpie en later as dosent by ‘n universiteit. Die vertellings is eerlik, snaaks en ook gevul met ‘n diep hartseer. Karin deel tong-in-die-kies haar persoonlike belewenisse gedurende dié soms uitdagende periode. Die botsing van twee kukture en die omarming en ontdekking van die onbekende word pragtig verwoord. R280.

Wanneer die Bybel nie sin maak nie

Deur Marius Nel (CUM)

Daar is talle uitsprake in die Bybel wat nie altyd vir ons sin maak nie. Wat word egter hiermee bedoel? In hierdie boek word verskeie teksgedeeltes met oënskynlike weersprekings binne konteks verduidelik. Marius Nel, navorsingsprofessor by Noordwes-Universiteit se Fakulteit Teologie, neem die leser op ‘n verrassend verrykende reis deur bekende Skrifgedeeltes. Die boek help jou om opnuut te ontdek dat die Bybel homself glad nie weerspreek soos sommiges  beweer nie. Dit weerspieël juis die diepte en onpeilbaarheid van God se wysheid. R139,94.

Uit ‘n ouerhart

Deur Norma Rossouw (CUM)

Kinders leer die beste deur ander se voorbeeld na te volg en deur dinge te doen. In hierdie boek deel Norma Rossouw 50 waarhede met ouers om prakties toe te pas en kinders toe te rus vir die lewe. Sy bevestig die belangrikheid van ouers se voorbeeld en om die Here saam met hulle kind in gebed en lofprysing te dien. Norma deel van haar eie insigte as ouer, wat die Bybel oor elke aspek sê, hoe om die Heilige Gees as Raadgewer in elke situasie te vertrou en hoe om God te loof vir wat Hy reeds gedoen het. Temas wat bespreek word, is onder andere vriendskap, prioriteite, liefde in aksie en nederigheid. Daar is ook plek vir ouer en kind om vrae te beantwoord en gedagtes neer te skryf, asook voorstelle vir gebede om saam te bid en voorstelle vir dinge om as ouers en kinders te doen. R189,95.

The South African Vegan Coookbook

Deur Leozette Roode (Human & Rousseau)

Hierdie kookboek vier die ongelooflike voedingswaarde, verbeterde gesondheid en verhoogde energie wat ‘n lewe met botaniese eetgewoontes bring. Die boek rus van herbivore tot karnivore toe om heerlike plantgebasseerde geregte deel van jou daaglikse spyskaart te maak. Die skrywer is ‘n vurige voorstaander van die groen manier van lewe en deel boonop die jongste neigings en beantwoord praktiese vrae. Die boek bevat onder meer 80 heerlike maaaltye vir die gesin, resepte vir smoothies en alternatiewe vir plaaslike gunstelinge soos melktert en sosaties. R315.

Everybody always

Deur Bob Goff (Struik Christian Media)

In hierdie boek neem New York Times-topverkoper skrywer, Bob Goff, ons op ‘n reis na ‘n lewe sonder vrees, beperkinge en bekommernisse. Die antwoord lê daarin om mense lief te hê, selfs die moeilikes, sonder onderskeid of grense. Deur die skynbaar onmoontlike te doen, om álmal lief te hê, verander jou lewe op verrassende maniere. Bob Goff is onder meer ‘n prokureur, proffessor en die stigter van die nie-winsgewende organisasie Love Does. R229,95.

Leefstyl-Bybel vir Vroue(Lux Verbi)

Dié Bybel is ‘n eerste in Afrikaans. Die teks van die 1983-vertaling word toegelig, spesiaal vir vroue, met insiggewende kommentaar oor Bybelse gebruike, gebeure, uitsprake en voorskrifte. Die kommentaar is onder meer geskryf deur bekende en vooraanstaande Suid-Afrikaanse vroueteoloë vir vroue wat eg en stylvol gelowig wil leef – en vir mans wat belangstel wat die Bybel regtig oor vroue sê. Ekstra inligting sluit onder meer ‘n kits naslaangids – ‘n tematiese indeks met gepaste Bybeltekste vir nagenoeg elke lewenssituasie. R650.

Die voortvlugtige

Deur Terri Blackstock (CUM)

Casey Cox se DNS is oor die hele misdaadtoneel. Dit help nie sy praat met die polisie nie; hulle het haar al vantevore in die steek gelaat. Sy moet vlug voordat sy gearresteer word… of nog erger. Die waarheid maak nie meer saak nie. Maar wát is die waarheid? Dié vraag spook by Dylan Roberts, die oorlogsmoeë veteraan-soldaat wat gehuur word om Casey te soek. Alhoewel die misdaadtoneel oënskynlik die hele verhaal vertel, maak al die besonderhede nie mooi sin nie. Om Casey se verlede en die verdoemende bewyse teen haar te ontrafel verg meer tyd as wat Dylan het. Maar hoe meer hy oor haar uitvind, hoe meer besef hy: Die meisie wat elke oomblik sy gedagtes vul, is ‘n psigotiese moordenaar … of ‘n heldin wat haar eie belange nooit vooropstel nie. R229,95.

Begin jou eie groentetuin

Deur Johan van Zyl & Peter van Noord (Human & Rousseau)

Om jou eie groente en kruie te kweek is ‘n nuwe tendens wat spruit uit die behoefte om stadiger te leef, te weet waar jou kos vandaan kom en om na die planeet om te sien. In hierdie boek rus dié twee plattelanders jou toe om dit te doen deur die nuutste ontwikkelings in te span – van waterbesparing en permakultuur tot biodinamika en herwinning. En jy hoef nie ‘n groot stuk grond te hê nie. ‘n Groentetuin kan jy op ‘n balkon, ‘n vensterbank en vertikaal teen ‘n muur aanlê. Leer hoe om kompos te maak, watter plante droogtebestand is, watter plante nie saam geplant  moet word nie, in watter streek en seisoen watter plante aard en meer. R325.

2018-10-31T18:57:58+00:00