Hartstog

Reisiger

Foto’s & kopie deur Frikkie Kraamwinkel

Vir die mense van Afrika word die mens se lewensduur gekenmerk aan ’n begin en ’n einde. Jou lewe word gekenmerk aan tyd en nie die wedloop daarteen nie.

Dit is net die reisiger van ver, wat as hy met sy skoene in die hand op die Jahazi-dau klim, wat aan die Nahoda of Kaptein sal vra teen watter uur hulle kan verwag om hul bestemming te bereik.

Dit is hierdie reisiger wat nog die wysheid moet leer van die ou Afrika gesegde wat lui: “Ons sal aankom wanneer ons aankom – die wind is sy eie meester.” Soos so baie vreemdelinge voor hom sal hy ervaar hoe om te fluit en die wind te roep om die driehoekseil wapperend te bol sodat die houtboot sproeiend deur die branders kan klief. Hy sal sien dat ’n dagreis kan bestaan uit enige verhouding tussen daglig en duisternis – afhangend van waar en met wat jy reis. Op die boot sal hy agterkom dat tyd minder belangrik is as die geloof dat die onheil van die land nie na die see oorgedra moet word nie – vandaar die gebruik om kaalvoet aan boord te gaan.

In Afrika van toeka was ‘vandag’ die belangrikste. Gister het alleen bestaan sover menseheugenis kon strek en daar was geen tradisionele woord vir die toekoms nie. Die verbygaan van tyd is meestal gemeet aan enige aantal mane gelede – want die meeste reise word tot op hede nog snags per voet in die maanlig onderneem om die skroeiende hitte van die dag te ontsnap. Van sononder tot sonop kan die loeiende klanke van die marimba en ritmiese slag van die dromslaner steeds ver oor bos en dal gehoor word soos dit nagreisigers die pad na veilige bestemmings wys. Of dit gister, vandag of môre was – dit het min geskeel – jy het by jou bestemming aangekom wanneer jy daar aangekom het.

Selfs vandag, wanneer die eerste sonstrale oor die bos en veldlandskap skiet om die nagreisiger te groet sal dit ’n gebeurtenis wees soos male sonder tal tevore. Die donker silhoeët afgetekende boomreuse op die vlakte sal kort voor lank lang skaduwees oor die droë grasveld begin gooi. In die vinnig toenemende lig sal die reisiger gou ’n metgesel kry in die vorm van sy dubbelgangerskaduwee. Met sy gehoor ingestel op die rigting vanwaar hy die marimba en dromme die hele nag gevolg het, sal sy pas merkbaar begin versnel. Voordat sy skaduwee met meer as ’n tree gekrimp het, sal hy hopelik ’n welkome koel skaduryke rusplek vir die dag bereik het.

Want dit is in die vroeë môre-ure na sonsopkoms dat die moeë naglopers die groeiende afstand tussen die horison en die klimmende son teen die lugruim met ’n soort angsgevoel meet. Hulle weet maar te goed dat wanneer die son eens oor die boomtoppe koers gekies het, die versengende hitte van die dag mens en dier na koel waters en digte skadu’s sal laat snak.

Tussen hierdie begin en einde vul baie dinge jou lewenspad. Dag en nag word gemeet aan die maan en son en die jare aan seisoene.

Wanneer die lang oggendskaduwees dus begin krimp, word dit tyd vir reisigers om liewers te wag totdat die dag oud is voordat die reis hervat word. Dit is alleen die ouer reisigers wat nog mag probeer om ’n entjie verder te kom, al is dit ook stadig, vir die wis en onwis dat hul ewige reis dalk mag begin voordat hierdie een nog mooi voltooi is.

Vir die makorro-vissermanne wat die heelnag op die koue water deurgebring het, beteken dagbreek welkome versterkende warmte. Vir oulaas skep hulle nog die lekkende houtskuite met halfdop kokosneut-bakkies leeg; rek hulle verkrampte bene so goed moontlik in die eng spasie van die makorros en begin dan die nette moeisaam intrek met die nag se silwer vangs.

Die vinnig klimmende son en fris oggendbries begin al gou die digte mistigheid oor die water in vlae weg te jaag. Dit is die teken vir die makorros om hulle deinende weerkaatsings in die water na die land te volg. Soos spokerige gedaantes afge-ets teen die helder wolke kleurespel van ’n nuwe dag, vleg hulle deur die golwe na die strand. Nie te lank nie, en die vissers het die makorros teen die duine uitgesleep tot bokant die hoogwatermerk. Dan verdwyn ook hulle met gevlegde mandjies vol vis in die koelte van die skaduryke bome.

Die verrimpelde songebrande gesigte en vereelte hande van die vissermanne getuig van ’n lewenswyse wat bepaal word deur die kom-en-gaan van die getye soos dit deur die maanfases bepaal word. Die natuur se horlosie, aangedryf deur die wind wat dreigende swart wolke aanblaas, sal môre se koers vir die vissermanne bepaal. Elke nuwe dag sal soos drywende wolke verbysweef oor die lewenspad van die eenvoudige vissers op aarde. Dit sal hulle dikwels besig vind om hulle nette uit te trek of tydsaam met stram vingers te sit en herstel.

Wanneer dit by werk kom, sal die vissermanne eerder iets op die ingewing van die oomblik doen, as om gebonde te voel aan ’n ander reël en orde as wat deur die natuur vir hulle bepaal word. Hulle het eintlik geen bepaalde tye waarop hulle iets moet doen nie. Visvang is vir hulle ’n lewenstaak met ’n groot beloning van uitnemende kennis van die waters van die aarde en die elemente wat hulle eenvoudige bestaan op land en water bepaal.

Soos hulle makorros, is die vissers gesoute uithouers. Dag na dag sal hulle hul koers instel op die geraamte baken van wat eens ’n glorieryke seiljag was voor dit in ’n nag van stormgeweld op die strand uitgeslinger is – nou ’n vergane simbool van die mens se hoogvaardigheid en uitgelewer aan die genade van die wind en see waaroor dit eens heer en meester van was.

’n Wrak wat nogtans vir die vissermanne die verhale verteenwoordig van menige glorieryke seereis – so heilig dat dit ’n dodelike sonde sou wees om selfs maar die kleinste stukkie hout van die vaartuig af te breek. Hier in sy laaste rusplek op die grens van die getye sal die aftakelende bootskelet tot sy laaste uur steeds vir hulle versinnebeeld hoe vreugdevol, maar ook hoe hard die lewe en werk soms kan wees.

2018-10-30T21:03:08+00:00