Boekuittreksel

‘n Tuin vir Tessa

Deur Helena Hugo

Tessa Heyns het die perfekte lewe; haar man Altus se besighede doen goed en haar seuns is goeie kinders. Sy woon in ‘n pragtige huis in ‘n spogbuurt. Van kleins af het Tessa tuin gemaak – ‘n groentetuin onder die wakende oog van haar pa, ‘n roostuin met die hulp van ‘n kundige ontwerper, en ‘n Kaapse tuin wat die seewinde kan trotseer. Haar tuin is haar stukkie hemel, haar skuilplek, die plek waar sy troos soek en kry. Die laaste tyd begin Altus se stiltes haar pla. Wie of wat sit daaragter? En beteken dit dat sy haar tuin sal moet prysgee?

 Uittreksel

“Bel jou man,” sê Elaine toe hulle afskeid neem. “Onthou, ek bid vir julle.”

Terug in haar werkskamer, gaan staan Tessa voor die venster en kyk oor die vallei uit. Die gebied het in die laaste jare so uitgebrei, daar is nie meer sprake van kleinhoewes nie. Dorpsontwikkelaars het ingespring en vrugteboorde en groentebeddings met plate en plate meenthuise vervang, duisende eenderse woninkies is ingeprop in afgebakende blokke. Inkopiesentrums het op strategiese plekke opgeskiet. Gholfbane en kwekerye het geleidelik verdwyn en plakkerskampe het oop stukke grond op die grensgebiede ingeneem. Dis ’n harde mensgemaakte landskap wat sy en Altus byna dag vir dag sien groei het. Bruin en grys met hier en daar spatsels groen. Die perdeplase en die ryskole van agtien jaar gelede het een na die ander toegemaak. Sommige, weet sy, het Tarlton se kant toe verskuif, van Altus se klante kom van ver. Maar hy besit ook nie die enigste ruiterywinkel in die geweste nie. Farmfeeds is groter en verkoop dieselfde produkte.

Sy onthou met spyt dat hy ’n paar jaar gelede Kyalami toe wou trek, ’n gebied wat bekend is vir uitgebreide perdeplase, opleidingsentrums en ryskole, die Suid-Afrikaanse Lipizzaners se jare lange enigste tuiste. Sy het hom oortuig om in Roodepoort te bly ter wille van die seuns se skool. Min het sy geweet dat Drikus hom so ver sou kry om sy vennootskap met Harris en Heyns Farmfeeds te verbreek en ’n besigheid saam met hom te bedryf – tot sy nadeel.

Maar was sy nie ook medeverantwoordelik vir Altus se ondergang nie? Het haar gemaklike bestaan haar blind gemaak vir die krisis in haar man se lewe?

Tessa sak in die leunstoel langs haar boekrak neer. Sou hulle boeke ook op so ’n veiling verkoop of verbrand hulle dit sommer? Een ding is seker, niemand sal agterkom as sy haar gunstelinge in ’n boks pak en by Elaine gaan stoor nie. Haar oog dwaal oor die netjiese rugkante, die titels en skrywers, haar boeke, die waardevolste besitting van ’n denkende mens – en dis nie al nie. Aan die oorkantste muur hang een van haar mooiste kunswerke, ’n Adriaan Boshoff-strandtoneel.

Die twee geskilderde seuntjies kan ’n olieverfweergawe van Ewald en Ferdie wees, so tipies sit die enetjie op sy hurke en staan die ander een hande in die sye en kyk wat sy boetie in die sand uitgegrawe het. Sy het iewers gelees dat die skilder graag vlugtige oomblikke op sy doeke vasvang. Sonder om hulle te ken, het hy ’n kosbare oomblik in die lewe van haar en Altus se seuns uitgebeeld, een van die mooiste herinneringe aan hul seevakansies by Hermanus. Altus het die skildery in ’n obskure galery iewers in die Kaap uitgestal gesien en vir haar gekoop toe hulle tien jaar getroud was, ’n geskenk wat in geldwaarde verdubbel het, in betekenis vir haar ver daarbo verhewe is. Dis ’n stukkie van haar hart, ’n liefdesblyk wat haar telkens weer aan haar kinders en haar goeie man verbind.

Hulle is Desembermaand twintig jaar getroud en sy het hom lief. Sy respekteer hom. Sy bewonder hom en kyk op na hom om die leiding te neem. Ná alles wat hulle saam beleef het; haar onvoorwaardelike ondersteuning toe hy die plaas verkoop het en hulle stad toe getrek het, die kanse wat hy gewaag het, sy harde werk, kan hy mos nie net oorgee en toelaat dat winskopiejagters hul eiendom kom plunder nie? Daar moet ’n ander uitweg wees! Maar wat? Wat sê sy vir Altus as sy hom nou bel? Dat sy jammer is, dat sy nie bedoel het om kwaad te word nie, en sy het? Buitendien, hoekom het hy háár nog nie gebel nie? Dis immers sy skuld dat sy haar ontstel het.

Haar oë brand, en die trane dreig. Oor ’n paar uur kom die seuns van die skool af en sy wil nie hê hulle moet sien dat sy gehuil het nie. Sy haal diep asem, stoei met haarself om haar emosies onder bedwang te kry.

Here, bid sy in haar hart, ek is so deurmekaar en verward. Help my om te verstaan wat aangaan. Wat wil U vir my sê?

Met ’n skok onthou sy dat sy nie vanoggend soos gewoonlik haar dag met Bybelstudie en gebed begin het nie. Elaine het vir haar gebid en sy kan nie onthou wat sy gesê het nie! Was dit vir kalmte en aanvaarding, vir haar om krag te kry om Altus en die seuns in hierdie moeilike tyd by te staan? Was dit om te vra vir ’n wonderwerk, die oplossing, die omkeer? Trooswoorde en oorgawe?

Het sy die woorde saamgeprewel?

“Net soos u wil, Here. Ons bid dit met die vergifnis van ons sondes, in Jesus Naam. Amen.”

Here, ek was onregverdig en selfsugtig. Durf ek by U huil oor die vernedering wat vir ons voorlê?

Haar Bybel lê op die lessenaar: Woord van God. Woord van lewe en liefde. Sy tel dit op, druk dit met albei hande teen haar bors. Party mense sê dis die verkeerdste manier om antwoorde te soek, maar sy gaan dit oopmaak en die eerste vers wat haar oog vang, neerskryf en oordink.

Job het ook alles verloor, miskien moet sy in daardie omgewing gaan raad soek? Ester, Job, Psalms Spreuke, Prediker.

Die Bybel val oop op Psalm 63, 64, 65, 66.

Sy het verskeie verse onderstreep, maar die een wat haar aandag trek, staan heel links bokant Psalm 63. Nog nooit het ’n teregwysing haar met meer angs vervul nie!

As jou rykdom toeneem, moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie.

Van al die woorde in die hele Bybel moet sy hierop afkom! Is dit wie sy is? Iemand wat aan haar besittings vasklou, in so ’n mate dat dit haar hart besoedel?

En watse rykdom? Altus verdien nou wel ver bo die gemiddelde bewoner van een van daardie meenthuisies onder in die vallei, maar hy werk hard. Hy is nie gierig nie. Hulle gee hul tiende vir die kerk, selfs meer. Altus het nie gesteel nie, hulle steel nie van die armes nie, hulle deel, hulle help!

Die vers is so duidelik onderstreep, dit moes voorheen tot haar gespreek het en sy het dit sekerlik al hoeveel keer gelees, en netsoveel kere vergeet.

As jou rykdom toeneem, moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie.

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van ‘n Tuin vir Tessa deur Helena Hugo met komplimente van Lux Verbi wen. Stuur jou naam, straatadres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae@leef: Vraag: Wat is Tessa se man se naam? Sluitingsdatum: 30 November 2018.

Lees meer

Nuut vir jou boekrak

Boekgesprek met Norma Rossouw

Leesgoed vir kleingoed

2018-10-31T15:17:57+00:00