“Alles wat waar is, …edel, …reg, …rein, …mooi – daarop moet julle julle gedagtes rig.” Fillipense 4:8

Daar is vandag ‘n groot klem op “aandagtigheid” – mindfulness. Dit gaan oor die fokus van ons gedagtes op ‘n saak, waartydens ‘n toestand van “vloei” bereik word. Dis wanneer mens jou só in iets verdiep dat jy ingetrek word, dat jy alles anders – en jouself – “vergeet”. Ons beleef dit daagliks: as ons intens werk of skep, as ons met aandag luister of kyk of proe, as ons sing, bid of aanbid. In die liggaam gebeur dadelik goeie dinge: hartklop en bloeddruk daal, asook die streshormone. Hierdie toestand word vandag deeglik nagevors en daar is ‘n duidelike verband met helderder denke en beter fokus, verminderde stres en angs, minder simptome van depressie, hoër immuniteit, beter hantering van siekte en vele meer.

Ons kan dus maar aandagtig raak! Allerhande programme moedig mense aan om te mediteer, kreatief te raak, te fokus op een ding op ‘n slag, om met aandag te eet en te luister, om bewus te word van mooi dinge om jou en om houdings van dankbaarheid, deernis, aanvaarding, vergiffenis, refleksie, ensovoorts aan te leer. Dis alles baie goed. Die beste is egter dat hierdie vir ons as Christene ou nuus is! Dankbaarheid? Deernis? Aanvaarding? Vergiffenis? Dis ons lewe! Fokus op die Here? Bid, aanbid, sing? Dis wat ons doen! Paulus sê ons moet ons gedagtes op die Here en op die mooi rig – en die “vrede van God, wat die verstand te bowe gaan” sal van ons besit neem. Tien minute se stilte voor God sal alreeds jou dag verander!

Gebed

Help my fokus, Here – en help my fokus op U!

“Gebed is nie soseer om God te vind nie, as om te rus in Hom wat ons gevind het en liefhet.” Thomas Merton

Besoek ww.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.

 

2018-10-31T19:02:49+00:00