Boekgesprek

Lééf gesels met predikant en skrywer, Norma Rossouw, oor haar nuwe boek Uit ’n ouerhart 50 waarhede vir elke kind se lewensreis.

Kinders leer die beste deur ander se voorbeeld na te volg en deur dinge te doen. In Uit ’n ouerhart deel Norma Rossouw 50 waarhede met ouers om prakties toe te pas en kinders toe te rus vir die lewe. Sy bevestig die belangrikheid van ouers se voorbeeld en om die Here saam met hulle kind in gebed en lofprysing te dien.

Norma deel van haar eie insigte as ouer, wat die Bybel oor elke aspek sê, hoe om die Heilige Gees as Raadgewer in elke situasie te vertrou en hoe om God te loof vir wat Hy reeds gedoen het. Temas wat bespreek word, is onder andere vriendskap, prioriteite, liefde in aksie, nederigheid en waarvoor om nee te sê.

Daar is ook plek vir ouer en kind om vrae te beantwoord en gedagtes neer te skryf, asook voorstelle vir gebede om saam te bid en voorstelle vir dinge om as ouers en kinders te doen.

Vraag: Vertel ons meer van jouself.  Waar het jou liefde vir skryf begin?

Antwoord: Ek is ’n ma van ’n 10 jarige seun, GJ en getroud met Gert. Ek is bevoorreg om as predikant in Vaalrivier Gemeente my passie en bediening te kan uitleef. Ek het al per geleentheid ’n hoofstuk of twee vir mense in hulle boeke geskryf, maar na die Sakpasbybel vir vroue het ek net besef hoe lekker en bevredigend skryf vir my is.

Vraag: Jy gee met hierdie boek vir ouers raad hoe om hul kinders toe te rus vir die lewe.  Hoekom dink jy is dit so belangrik vir ouers om die regte keuses te neem vir hul kinders op hul lewensreis?

Antwoord: Kinders leer deur voorbeeld en om die regte keuses te maak is ’n vaardigheid wat kinders by hulle ouers leer. Hierdie boek wil ouers help om kinders vroeg al te leer om met selfvertroue en verantwoordelikheid keuses te kan maak. Daarom is hierdie boek ’n handleiding vir ouers en kinders om saam te kan gebruik. Die kind word blootgestel aan kennis en binne ’n veilige ruimte moet die ouer en kind nou saam besluite neem oor die toekoms.

Vraag: Watter rol het jou eie ouerskap gespeel in die skryf van hierdie boek?

Antwoord: My rol as ouer vir GJ het ’n enorme aandeel in die boek. Die dinge wat die Here oor ouerskap in my hart kom plant het, het ek weer kom saai in die boek met die hoop dat dit ’n besonderse oes in ander ouer kind verhoudings sal voortbring.

Vraag: Die Bybel gee vir ons baie insigte hoe om ons kinders reg toe te rus vir die lewe, maar dit is ook belangrik om die Heilige Gees as Raadgewer in elke situasie te vertrou.  Watter rol speel die Heilige Gees volgens jou as dit by ouerskap kom?

Antwoord: Spreuke 22:6 sê dat ons leiding moet gee aan ’n jongmens oor hoe hy moet leef. Hierdie leiding kom deur die werk van die Heilige Gees. Ons moet onthou dat kinders nie gebore word met ’n junior weergawe van die Heilige Gees, maar met die volheid van die Gees. Die Heilige Gees is dus nie net Raadgewer vir die ouer nie, maar ook die een wat kinders lei. Daarom speel die Heilige Gees ’n fenominale rol in ouerskap.

Vraag: Jy raak baie belangrike temas in die boek aan soos byvoorbeeld vriendskap, waarvoor om nee te sê, prioriteite en vele meer. Dink jy daar is meer uitdagings vir ouers as tevore?

Antwoord: Verseker is die uitdagings anders en meer kompleks. Ons kinders het ’n oorlading van kennis en tannie Google met haar goeie en minder goeie inligting skep nuwe uitdagings. Versoekings soos dwelms, seksualiteit en okultiese speletjies is uitdagings wat vroeg reeds in families kop uit steek om nie eers te praat van die uitdagings van hersaamgestelde families en stukkende gesinne nie.

Vraag:J y het in die boek plek waar ouers en kinders vrae kan beantwoord en om gedagtes neer te skryf.  Dit beteken dus dat kommunikasie tussen kind en ouer vir jou belangrik is?

Antwoord: Goeie kommunikasie is die hoeksteen van ’n suksesvolle ouer kind verhouding. Maak elke dag tyd om effektief te kommunikeer. Sit jou foon af en jou ore aan en luister na jou kind, tel jou rekenaar van jou skoot af en tel jou kind op en kyk hulle in die oë. ’n High five, klop op die skouer, drukkie, glimlag of knipoog is miskien net die kommunikasie wat jou kind vandag van jou af nodig het.

Vraag: Hoekom ’n boek oor ouerskap? Waarom dink jy behoort ouers juis hierdie boek van die rak op te tel en te lees saam met hul kinders?

Antwoord: Ek dink daar is soveel opleiding en kursusse om ons voor te berei op alles en tog in die belangrikste veld van ons lewe, ouerskap en huwelike word ons die minste opgelei. Kinders is nie net ’n leë dop wat ons moet vol maak nie, hulle is klei wat gevorm word. Hierdie boek is ’n handleiding vir ouers en kinders in die vormingsproses.

Vraag: Wat het jou die meeste inspireer terwyl jy die boek geskryf het?

Antwoord: Inspireer kom van “in the spirit”. Die Heilige Gees was my grootste inspirasie, maar ek het ook meer aandag gegee aan die ouer kind verhoudings wat om my afspeel en ek het net besef hoe belangrik hierdie boek vir ouers gaan wees.

Vraag: Wat was vir jou die grootste uitdaging met die skryf van die boek?

Antwoord: Om my en GJ se verhouding bloot te stel en GJ steeds te laat veilig voel in ons private ruimte.

Vraag: Werk jy op die oomblik aan iets?

Antwoord: Ek is tans besig met ’n Bybelstudie waar die Tabernakel in Eksodus jou wil neem na ’n intieme oomblik saam God.

Uit ‘n ouerhart deur Norma Rossouw word uitgegee deur CUM. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/uit-n-ouerhart-sagteband.

2018-11-01T18:03:44+00:00