Boekuittreksel

Tot by die maan en terug

Deur Karen Kingsbury

Brady Bradshaw was ’n kind toe sy ma in die Oklahoma City-bomaanval gesterf het. Elke jaar besoek Brady die gedenkterrein op die herdenking. Dit is op dié dag meer as ’n dekade tevore dat hy vir Jenna Phillips ontmoet het. Sy was ook ’n kind toe haar ouers in die bomaanval dood is. Brady en Jenna het ’n diep hartsverbintenis ervaar en ’n enkele onvergeetlike nag saam deurgebring by die gedenkterrein. Brady het Jenna daarna nooit weer gesien nie, maar elke jaar wanneer hy terugkeer, los hy vir haar ’n brief in die hoop dat hy haar weer sal vind.

Hierdie jaar gaan Ashley Baxter Blake en haar suster Kari Baxter Taylor saam met hul gesinne op reis, en sluit dit ook ’n besoek aan die bekende Herdenkingsboom in Oklahoma City in. Daar sien Ashley ’n jong man raak, alleen en mismoedig. Daardie jong man is Brady Bradshaw. ’n Toevallige ontmoeting lei daartoe dat Ashley vir Brady help om Jenna te vind – die meisie wat hy nie kan vergeet nie.

Uittreksel

‘Thomas “Brady” Bradshaw tel al die dae ’n maand lank af. Nes hy altyd doen wanneer dit lente word. Die afgelope paar weke het sy werk as brandbestryder in Oklahoma City teruggestaan vir herinneringe, hartseer, verbystering en woede. En dit het alles tot hierdie een dag gelei. Hierdie een oggend.

Die herdenking van die Oklahoma City-bomontploffing.

Brady het die dag af. Hy parkeer sy motorfiets aan die agterkant van die gedenkterrein se parkeerterrein en skakel die enjin af. Hy sit ’n lang ruk net daar, met sy valhelm en donkerbril steeds op.

Hy is nou 28. ’n Volle 23 jaar weg van die klein seuntjie wat hy was toe die bom ontplof het. Die lug bokant hom is vandag helder. Party jare reën dit. Daar was storms en selfs al ’n tornado-waarskuwing of twee op ander jare. Brady kan vandag se gebeure so duidelik sien asof dit reeds gebeur het.

Dit is dieselfde met elke herdenking.

Mense sal deur die voorste hekke stroom, stil en somber. Party van hulle is toeriste, nuuskierige verbygangers wat vir die eerste keer in jare onthou dat hier ’n verskriklike terreuraanval plaasgevind het. Hulle loop oor die terrein en neem foto’s, kyk na die uitstallings in die museum en maak ’n draai by die geskenkwinkel. ’n Koffiebeker en ’n poskaart later en hulle is op pad. Op pad om die naaste wildtuin of pretpark te gaan verken.

Brady los die handvatsels en staar na die gedenkterrein. Die mense wat vandag hier is, sal nie almal toeriste wees nie. Party sal op die een of ander manier aan die bomontploffing verbind wees. Hulle het dalk ’n vriend of ’n familielid verloor. Of hulle het dalk die aanval van binne die gebou oorleef. Vir daardie mense – soos Brady – is die herdenking van die bomontploffing iets wat hulle eerbiedig. ’n Dag wat hulle nooit sal vergeet nie.

Maar net ’n klein aantal is regtig soos hy. Vir Brady is die Oklahoma City-bomontploffing persoonlik.

Hy stoot die moue van sy vlootblou sweetpaktop op en staar na sy voorarms. Wanneer hulle na hom kyk, sien hulle nie die littekens nie. Hulle sien die ou wat aan die Survivor-reeks deelgeneem het. ’n Ou oor wie modelagentskappe eens geveg het.

Brady wou niks daarmee te doen hê nie.

Hy het nie Survivor gedoen om beroemd te word nie. Brandbestryding in Oklahoma City is sy passie, nie om voor ’n kamera te staan nie. Hy het net Survivor gedoen omdat hy een is. En as enigiemand dit kan bewys, dan is dit hy. Selfs al het hy in die tweede ronde uitgeval. Die program kan nie kers vashou by regte oorlewing nie; by hoe dit 23 jaar gelede gevoel het, toe hy onder die puin van die Alfred P. Murrah Federale Gebou vasgevang was.

’n Vinnige kykie na sy arms en hy kan dit sien. Happerige littekens in alle rigtings oor sy arms. Ja, dit het verdof, maar dit is nog steeds daar. Hy vryf sy hande oor die merke en kyk weer daarna. Ja, vandag sal dieselfde wees as elke vorige herdenking.

Hy sal saam met die ander deur die hek en na die buitelugarea gaan. In doodse stilte sal hy die stoel met sy ma se naam vind en hy sal vir haar ’n enkele langsteelroos los. Dan sal hy sy hand op die Herdenkingsboom se stam sit en probeer om sy herinneringe te skei van die nuusberigte van lank gelede oor daardie dag. Dié wat steeds op YouTube is.

Brady haal diep asem en haal sy valhelm af. Hy bêre dit in die kompartement agterop sy motorfiets en haal die papiersak met die roos daaruit. Dan stap hy na die voorste hek toe.

Daar is natuurlik nog ’n rede waarom hy elke jaar kom. Of ten minste vir die laaste elf jaar. Die rede is eenvoudig. Die kans dat hy haar sal sien. Brady byt op sy tande en staan ’n bietjie regopper.

Haar naam is Jenna.

Hy ken nie haar van nie. Sy was ’n meisie wat hy net een keer ontmoet het, hier by die gedenkterrein op die twaalfde herdenking van die bomontploffing. Toe hulle albei net sewentien was. Sy was toe ’n tingerige meisie met eindelose lang bene en die gesig van die aktrise Emma Stone. Ten minste, dis hoe hy haar onthou.

En Brady onthou haar elke dag.

Jenna. Die enigste meisie in die wêreld wat hom ooit volkome sal verstaan . . . Meisies verstaan hom nie. Een meisie met wie hy op ’n afspraak gegaan het, het dit duidelik gestel: “Jy is beeldskoon van buite, Brady. Maar jy is soos ’n spookhuis van binne. Ek wil nie vasgevang raak in die spinnerakke nie.”

Brady sien dit anders. Sy hart is soos die Murrah Gebou. Steeds in stukke as gevolg van die bomontploffing. Die manier waarop dit was vir daardie vyfjarige seuntjie wat in die hospitaal wakker geword het.

Sedert hoërskool woon Brady alleen, sonder kamermaats. Hy hou daarvan so. Buitendien is hy selde by die huis. Wanneer hy nie werk nie, doen hy as vrywilliger diens by verskeie diensgroepe. Die werk gee hom ’n doel. Indien God nie die mense van Oklahoma City gaan help nie, dan sal Brady ingryp. Dit is waarvoor hy leef. Om ander mense te help. Dit en een ander ding.

Die hoop dat hy eendag, op die een of ander manier, vir Jenna kan vind.’

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van Tot by die maan en terug deur Karen met komplimente van Struik Christian Media wen. Stuur jou naam, straatadres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae@leef: Vraag: Wat is die naam van die meisie van wie Brady nie kan vergeet nie?  Sluitingsdatum: 31 Oktober 2018.
2018-09-30T09:24:18+00:00