Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Deur water & vuur

Deur Karin Combrinck (Lux Verbi)

Beroepsgerigtheid, kinderloosheid en ’n huwelik op die rand van egskeiding is nie die enigste beproewing op Jennifer se pad nie. ’n Donker geheim van bejaardemishandeling word oopgevlek toe Jennifer terugvlieg Suid-Afrika toe om onder andere ’n bietjie tyd saam met haar pa deur te bring. En dit aan die hand van iemand wat die naaste aan hom moet wees. Terwyl sy haar pa se geknakte lewe probeer herstel, besef sy ook hoe stukkend haar eie lewe is en dit vra moed en geloof om dit wat verlore gegaan het in haar lewe te probeer herwin. In hierdie proses leer sy wat dit beteken om deur water en vuur gelouter te word en hoe groot die genade is. R255.

Simple

Deur Yotam Ottolenghi (Penguin Random House)

Dié lieflike kookboek bevat 130 eenvoudige, splinternuwe resepte deur een van die wêreld se gewildste sjefs. In dié boek wys Yotam Ottolenghi dat dit maklik én lekker is om te kook, hetsy jy ’n gereg binne 30 minute kan opdien of alles sommer in een pot gaarmaak. Soos gewoonlik kombineer hy oorvloed en smaak met ’n verrassingselement in elke dis. Van ongewone slaaie tot heerlike nagereg – dis eenvoudig en maklik om te kook! R455.

Help! Ek kry gaste vir ete

Deur Annabel Frere (Penguin Random House)

Jy’s nie heeltemal hopeloos in die kombuis nie, maar jou vaardighede laat veel te wense oor. Wat kan jy voorsit om jou vriende te beïndruk? Annabel Frere kom tot die redding met hierdie onontbeerlike repertoire van 150 resepte, perfek vir spontane byeenkomste of goed georganiseerde geleenthede. Daar is heelwat wenke en voorstelle vir beplanning, en voorbereiding, asook moeitelose aanbieding. In hierdie boek bied sy skeppende maniere om minder ervare kokke selfvertroue in die kombuis en om die etenstafel te help bou. R220.

Deur dieper geloof na lewensvreugde

Deur Nina Smit (Lux Verbi)

Nina Smit help elke vrou om opnuut te ontdek wie God is wat ’n verhouding met jou begeer, hoe kosbaar jy as vrou vir Hom is en wat jou roeping en identiteit in Hom moet wees. Sy help jou om woestyntye te oorleef en ons kry ’n voorsmakie van hoe sy dink die lewe na die dood gaan wees. Soos net Nina kan. Nina Smit is een van Suid-Afrika se bekendste en gewildste skrywers. R195.

Turn it around Shift your perceptions in a changing world

Deur Angelique du Toit (Struik Christian Media)

In haar derde boek deel Angelique du Toit raad en wysheid oor hoe om jou persepsies te verander om sodoende nader aan God, Sy perspektief en plan vir jou lewe te beweeg. Hierdie boek is daarop gemik om jou uit jou groef te laat wegbreek en om elke dag voluit te leef. Om hierdie kopskuif en verandering te kan maak, speel ons denke en die manier waarop ons na die lewe kyk ’n deurslaggewende rol. Angelique, ’n suksesvolle sakevrou, motiveringspreker en toegewyde kind van die Here, wys jou hoe jy deur Goddelike beginsels toe te pas, ’n lewe van vrede, liefde en oorvloed kan beleef. R189,95.

Nader aan God, nader aan mekaar

Deur Ewald en Beatrix van Rensburg (Stuik Christian Media)

Met kinders se besige skool en buitemuurse programme en Ma en Pa se stresvolle loopbane, is dit geen wonder dat ons nie tyd het om as gesin saam godsdiens te hou nie. Hierdie boek gee die antwoord in die vorm van 52 kort, kragtige oordenkings wat gesinne sal help om nader aan mekaar te groei. Elke dag bied iets anders, waaronder spesiaal geselekteerde Bybelverse, aktiwiteite

Hou vas aan hoop deur Jimi le Roux (CUM)

Psalms is nie net die langste boek in die Bybel nie, maar ook een van die gewildste. Dalk omdat ons vandag ook ons eie emosies en vrae daarin kan raaklees. Vrae soos: Waarom gebeur dit? Waar is God? Wat moet ek doen? Jimi le Roux neem ons in hierdie boek op ’n reis van 366 dae deur die Psalms. Hy wys ons hoe om saam met die psalmskrywers ons eie vrese en aanslae, ons eie onsekerhede en twyfel in die gesig te kyk, maar ook hoe om telkens weer ons eie geloof en vertroue terug te vind om weer te kan jubel en juig. Die dagstukke word pragtig afgerond deur volkleur-ontwerpe deur Amylee Weeks. R249,95.

Maak ’n kopskuif Elke Dag

Deur Dr. Caroline Leaf (CUM)

Ons kultuur ervaar vandag ’n epidemie van toksiese gedagtes wat, indien dit nie aangespreek word nie, die ideale omstandighede vir siektes sal skep. Hierdie boek bevat 365 inspirerende oordenkings vir ’n lewe van oorvloedige blydskap en gesondheid. In hierdie boek gee Dr. Caroline Leaf praktiese raad aan lesers vir beter gesondheid en heelheid deur net die regte denkpatrone te ontwikkel. Dr. Caroline Leaf doen navorsing oor die menslike brein en fokus daarop om die brein se potensiaal te ontsluit. ’n Gelukkiger, gesonder en voller lewe begin vandag! R189,95.

2018-09-29T11:02:42+00:00