Op die wynrak

Deur Johan & Christine Ferreira

Die oes van die wingerd is ryk en oorvloedig…

Ses om te proe

Vondeling Rosé 2018

Dié rosé is hoofsaaklik gemaak van koudgeparste merlotdruiwe. Die wyn is delikaat met ’n salmpienk kleur en ’n boeket van Turkish Delight, framboos, granadilla en lietsjie. Die wyn se geronde palet is propvol bessiegeure, blom-ondertone en ’n aangename sitrus-verrassing. Bedien saam met Thaise garnale, geroosterde Portugese sardiens of ’n vars tamatie, feta en granaatslaai. R70.

Kumala Reserve Pinotage 2018

Tot hede is die Kumala-reeks wyne slegs in die VK verkoop, maar is pas plaaslik bekendgestel. Die reeks wyne wat ook ’n Chenin Blanc en Sauvignon Blanc insluit, word gemaak van druiwe afkomstig uit 14 diverse streke. Die Kumala Reserve Pinotage 2018 is vrugtig en rokerig van aard en goed gebalanseerd. R109.

Delheim Chenin Blanc Wild Ferment 2017

Delheim Chenin Blanc Wild Ferment se vierde oesjaar van hierdie wyn is die perfekte toonbeeld van geur- en aroma-intensiteit. Dié wyn is deel van ’n uitmuntende keurig-versorgde wynportefeulje. Die wyn het ’n pragtige geel-strooikleur in die glas, met ’n sagte groen skynsel. Sy sensoriese karakter herinner aan gort, appelkose en perskes, met ’n onderliggende goed-gebalanseerde suur- en eikehout-geur. Sitrus kom na vore en talm op die tong. R125.

Vondeling Rurale Blanc de Noir 2015

Dié lieflike vonkelwyn is vars en kompleks met ’n subtiele salm blos en ’n bekoorlike bessie, blom en spesery-neus. Dit is die eerste wyn wat in Suid-Afrika volgens die Méthode Ancestrale gemaak is. Dié proses is arbeidsintensief en is daar daarom slegs 1 200 bottels hiervan gemaak. Jy kan gerus moeite doen om dié wyn in die hande te kry. Dit smaak heerlik saam met geurige disse en moet verkieslik vroegaand gedrink word. R265.

Vriesenhof Unwooded Chardonnay 2018

Die Vriesenhof Unwooded Chardonnay 2018 is elegant met die aroma van amandel en die smaak van wit perske, peer, appelliefie en sitrus op die palet. Proe gerus! R100.

Stellenbosch Hills Sauvignon Blanc 2018

Hierdie is ’n volronde en vars wyn, met kenmerkende lemmetjieskil-suur. Daar is ’n oorvloed groenvy, appelliefie en soet spanspek geure met ’n skeutjie koejawel en aspersie. Dis op sy beste as dit koud bedien word, saam met vars oesters, gebraaide vis en ’n slaaitjie met tamaties, vars basilie en mozzarella. R55.

Leer ken die landgoed

Voorspellings dui op ’n sterk neiging dat Chardonnay binnekort Sauvignon Blanc, as die Suid-Afrikaanse witwyngunsteling, gaan onttroon. Maar, nog lank voordat die argument ontstaan het dat Chardonnay ’n regmatige plek het tussen die edeles, is Jan Boland Coetzee van Vriesenhof se passie vir die potensiaal van hierdie groenskildruif aan die groot klok gehang in ’n 1986-koerantopskrif: Boland Coetzee het druif gesmokkel. Kom ons sê maar dat dit bloot aan ’n onskuldige ongeduld met die owerhede vóór 1985 te wyte was toe hy die doeanebeamptes met ’n paar wingerdstokkies van Frankryk omseil het.

Boland Coetzee se geswoeg, vasberadenheid en oortuiging dat die druif op sy eie tyd sal aanpas by ’n andersoortige omgewing en klimaat, het daartoe gelei dat die sogenaamde onwettige Chardonnay wortel geskiet het teen die berghange neffens Stellenbosch. Dit rus op Nicky Claasens, ’n nuwe-generasie wynmaker, se skouers om Vriesenhof die toekoms in te lei. En soos Boland Coetzee, weier Claasens ook om wyne te beheer net sodat dit moet inpas by neigings. “Ons beskou onsself as wingerdversorgers en glo dat ons druiwe tuis voel in ons grond, en dat hulle hul eie stories sal vertel.” www.vriesenhof.co.za

Sjefstafel

Bespreek gerus vir ’n heerlike Allée Bleue-piekniek as jy in die Franschhoek-omgewing is. R460 vir ’n mandjie vir twee. alleebleue.com.

Die Delheim Wyn & Fynbos Kolwyntjie Pasmaatproe fokus op heerlike wyn én die Kaapse fynbos-erfenis. Bespreek jou plek teen R120 per persoon by cellardoor@delheim.com.

Kom geniet ’n glasie wyn en heilsame ete by Faber Restaurant op die Avondale-landgoed net buite die Paarl. avondalewine.co.za

2018-09-30T09:34:51+00:00