Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

My pa was ’n handige man. Hy kon houtwerk doen, skilderye netjies ophang, elektriese apparate heelmaak, sy motor se olie aftap en ’n stukkende radio se binnewerke uitmekaar haal en terugsit, sodat die radio weer sonder ’n suisgeluid werk. Pa se motorhuis was sy heiligdom. Elke hamer en beitel en vysel was op sy plek. Die eenderse botteltjies was vol skroefies en spykers en hakies en wasters – soort by soort en netjies volgens groottes gesorteer.

Ons boeta was ’n buitelugkind. Saterdagoggende het hy sy windbuks en rugsak oor sy skouer gegooi, sy perd opgesaal en uitgery veld toe – sy hond uitgelate langs hom. Vakansietye het hy met sy visstok op die rotse of langs die rivier gesit, sy oë op die donker waters vol geheimenisse voor hom.

Pa het vakansies sy leeswerk ingehaal. Sy kartonboks vol boeke het al die pad van die huis af saamgery see toe. Die ure was te min vir al die boeke wat hy wou lees.

Op Boeta se sesde verjaarsdag het Pa vir hom ’n meccano-stel present gegee. Dié staal-konstruksiestel met sy stafies en skroefies en los wiele en asse was vir Pa die toppunt van seuntjie-wees. Die vervulling van ’n eie kleinseuntjiedroom.

Vir Boeta was die geskenk ’n diepe teleurstelling. Hy sou veel eerder ’n kettie of visstok wou kry. Hy het nie geweet hoe om dankie te sê vir iets waaroor hy nie opgewonde kon raak nie. Pa het besef dat hy die meccano-stel eintlik vir homself gekoop het. Hy het die stel ongemerk onder-in sy studeerkamerkas gebêre.

Toe het hy ’n boek oor visvang gaan koop en oor hierdie passie van sy enigste seun begin nalees. Vakansietye het hy soms op die strand gesit terwyl Boeta vis vang. Of hy het saamgegaan veld toe en geluister wanneer sy seun opgewonde oor diere en voëls of skyfskietkompetisies vertel.

Soos die tyd aangestap het, het hulle ander gesamentlike belangstellings ontdek. Africana. Geologie. Fotografie.

Op ’n dag snuffel ’n kleinkind in Oupa se studeerkamerkas. Hy ontdek die meccano-stel.

“Wat is dit dié, Oupa?” roep hy in verrukking uit.

“Dit, my kind, is ’n meccano-stel. Wil jy sien hoe bou ’n mens ’n hyskraan hiermee?”

Die hele oggend sit Oupa en Kleinseun koppe by mekaar. Hulle meet en pas en bestudeer die aanwysings. Hulle draai fyn boutjies met ’n klein skroewedraaier in nog kleiner skroefies vas. Die vreugde is onverdund.

Dié aand sit drie geslagte saam langs die vuur. Hulle ruil stories uit. Van veld en see en skroewedraaiers en garagedinge. Die ander nefies kom by. Daar kom nuwe stories by.

Ek luister terwyl hulle praat. So verskillend, maar tog ook so eenders, dink ek.

Elkeen wil net aanvaar word vir wie hy is. Elkeen soek erkenning. En elkeen wil ten diepste net liefgehê word. Want liefde hef verskille op. Dit bring mense by mekaar uit.

Liefde maak almal onder een kombers toe.

Here Jesus, dankie dat U die God van liefde is. U het elkeen van ons lief – hoe verskillend ons ook al mag wees. U bemin elkeen van ons – asof ons U enigste is. Amen.

2018-09-30T09:45:42+00:00